Estimated reading time: 9 minutes
Die waterblommetjiebedryf in die Boland is vanjaar ʼn knou toegedien met temperature wat onder vriespunt gedaal het. Volgens Dirkie Gildenhuys van die plaas Rhenostervlei – een van slegs drie kommersiële plase in die land – het hulle tussen 300 en 400kg minder waterblommetjies per week geoes, as gevolg van ryp wat in Julie voorgekom het. Dit is aansienlik minder as die hoeveelheid wat in die vorige seisoen op dié plaas geoes is. Die ryp het die blommetjies se wit punte gebrand, waarna dit afgevrot het.
Kyk hier na Dirkie se onderhoud op Plaas TV.
Waterblommetjies (Aponogeton distachyos) is inheems tot Suid-Afrika en eie aan die Kaap, veral die Boland. Dit groei in dié winterreënvalstreek in skoon varswaterdamme of vleie, en raak dormant as die damme en vleie in die somer uitdroog. Die blommetjies groei weer uit wanneer die damme en vleie vol water is.
Dié gewilde waterplantjie is ʼn gunsteling-bestanddeel in winterkos, veral in die Wes-Kaap. Waterblommetjiebredie is ʼn tipe eksotiese gereg en sinoniem met koue wintermaande, wanneer veral Kapenaars dié welriekende blommetjies opraap.
Dirkie sê vanjaar se ryp het egter hul blomme gekasty, maar soos wat die weerstoestande begin normaliseer, tel dié boerdery weer stelselmatig sy kop op. Hy is hoopvol dat hulle ondanks hierdie uitdaging steeds hul produksiedoelwit sal bereik.
Die begin van ʼn waterblommetjieboerdery
Dirkie se pa, Altus, het in 2001 besluit om waterblommetjies op klein skaal as ʼn toetslopie in twee van die bestaande gronddamme op sy plaas te vestig. Hy het waterblommetjies geken en daarvan gehou, sê Dirkie. Toe Altus sien die blomme produseer ʼn magdom saad en vermeerder, het hy geweet hy het ʼn geskikte produk gevind om op te fokus.
Dirkie vertel dat waterblommetjiebolle destyds uitgehaal is en langs die Bergrivier op hul plaas aangeplant is. Twee damme is geskraap en die bolle is sowat 10m diep in die grond geplant. Daar was ʼn bestaande waterpomp by die rivier om die damme te vul en meer damme is stelselmatig op die plaas ingerig. Dit was aanvanklik ʼn leerproses ten opsigte van die geskikte tydsberaming en tegnieke om hul waterblommetjieboerdery funksioneel uit te brei, sê Dirkie.

Daar was aanvanklik ’n oorskot blomme beskikbaar, want hulle het in daardie stadium nie ʼn groot afsetmark gehad nie. Dit was nou bo en behalwe diegene wat geweet het hulle verkoop dié lekkernye. Namate meer blommetjies beskikbaar was, het hulle aan supermarkte en ander winkelgroepe op groter skaal verskaf, vertel Dirkie.
Die besigheid het sodanig gevorder dat hulle nie langer aan die mense wat voorheen op kleiner skaal aangekoop het kon verskaf nie. Dié waterblommetjieboerdery lewer nou sowat 500kg waterblommetjies aan verskeie supermarkte in die Wes-Kaap. In September, wanneer dit die ‘groot oestydperk’ is en blomme volop beskikbaar is, verskaf hulle weer aan ʼn klompie individue.
Uitbreiding van Rhenostervlei se boerdery
Volgens Dirkie was dit ʼn klein begin vir hul boerdery, maar weens die groot plaaslike aanvraag en die feit dat die blomme nie maklik bekombaar is nie, is Rhenostervlei Waterblommetjies nou goed gevestig. Dit kan egter nie buite rekening gelaat word dat dié tipe boerdery geduld en uithouvermoë verg nie. Die verbouing van waterblommetjies is ʼn tydrowende proses met die maksimum resultate wat eers later gesien word.
Dirkie sê hulle vestig jaarliks twee tot drie nuwe damme en plant die bolle uitmekaar. Dit dra die hele seisoen, gooi die volgende seisoen saad af, en verdubbel die jaar daarna. Dit is eers dán wanneer ʼn dam genoeg blomme dra om winsgewend te wees.

“Ons brei al vir 18 jaar uit, maar dit is nie ʼn proses wat oornag plaasvind nie.” Hoewel hulle uitbrei, kan hulle nog nie waterblommetjies op grootmaat in ander gebiede in die land soos Gauteng, Mpumalanga, die Noord- en Oos-Kaap, waar daar ʼn groot aanvraag na waterblommetjies is, verskaf nie. Dirkie sê wanneer die plaaslike mark eers versadig is, sal hulle hul opsies oorweeg.
Vir nou is die moontlikheid om uit te voer na die buiteland ook nie in hul visier nie, want waterblommetjies is nog redelik onbekend in ander lande.
Die kweekproses van waterblommetjies
Dirkie sê dié waterplantjies, wat ʼn hoë pH van 22 het, gesond en boonop smaaklik is, bot in die winter en lente wanneer dit koeler is, terwyl sonskyntoestande hul groei bevorder. Die lang stele groei uit die bolle en die plant se lang, ovaal blare en wit blommetjie dryf bo-op die water. Die blomme word met die lang steel gepluk om nuwe groei te stimuleer. Die plant se wortelstok met bolle oorleef in droë dambeddings tydens die Kaap se warm somertoestande, totdat die damme weer begin opvul, dan begin die plante weer groei.
Om hul produksieproses te versnel, wyk die Gildenhuyse ietwat van tradisionele verbouingspraktyke af. Dirkie sê hulle wag nie vir die eerste winterreëns om hul damme te vul nie, maar pomp gewoonlik vroeg in April water uit die Bergrivier. “Dit neem dan drie weke vir die blomme om uit te kom en kos te dra.”
Hulle begin dan die blommetjies weekliks vanaf 1 Mei tot en met die einde van Oktober oes, terwyl ander kleiner-skaal produsente hul blommetjies eers in Julie en selfs later, indien daar winterreëns was, pluk.

Die Gildenhuyse het 20 gronddamme waarvan die groottes verskil. “Ons groot damme is rondom 20 x 30m, en die kleiner damme 15 x 10m.” Dié damgroottes verskil ten einde verskeie produksiestyle te toets. Dit word ook in ag geneem dat ʼn kleiner dam vinnig dig word, want waterblommetjies gooi saad af, en as die damme begin opdroog beland die saad op die grond. “Jy kan byvoorbeeld ʼn ry van tien bolle plant, en na die eerste jaar gaan daar tien plante opkom, wat elk ses of sewe koppe waterblommetjies dra.”
Elkeen van daardie tien blombolle gooi saad af, waarna groter getalle plante in die volgende seisoen opkom. Wanneer damme té dig raak, verminder die grond se voedingswaarde en die blommetjies word kleiner, sê hy.
Grondvoeding en -voorbereiding
Dirkie sê hulle het verlede jaar begin met die omdop van grond in hul waterblommetjiedamme, in ʼn poging om die voedingswaarde daarvan te verbeter. “As ʼn mens jaarliks bolle in dieselfde dam aanplant, gaan daardie boonste laag van die grond later ʼn tipe grys kleigrond vorm, wat ʼn laer voedingswaarde vir die plante het.
Blombolle benodig onder andere magnesium en kalsium. Hulle het al verskeie pogings in die verlede aangewend om grondgehalte te verbeter, met onder meer die toediening van kunsmis en kalk, maar om die grond om te dop is vir hulle meer doeltreffend. Volgens Dirkie het dié vorm van grondvoorbereiding hul produksie verlede jaar ʼn hupstoot gegee, met sowat drie ton meer blommetjies wat geoes is.
Die plukproses
Arbeiders trotseer die yskoue water om die blomme te oes. Die plukkers dra waterdigte oorpakke om die ergste koue af te weer en die blomme word kniediep in die water per hand gepluk. “Daar is nie ʼn makliker proses nie,” sê Dirkie. Die blommetjie word met sy stingel uit die bol gepluk.
“Jy pluk basies ʼn handvol, sodat jy ʼn bossie in jou hand het, en daardie blomme se wit punte word afgebreek sodat slegs die ‘groen kos’ van die blom oorbly.” Die blomme word afgebreek en in ʼn houer geplaas. Die plukkers trek dié houers wat op die water dryf saam met hulle, soos die plukproses vorder.

Wanneer die blomme klaar gepluk is, word dit geplaas in ʼn bak met water waarin dit oornag staan om onder meer van waterwurms ontslae te raak. Die blomme word in ʼn ander bak deurgegaan om die onnodige wit puntjies verder te verwyder en die stingels korter af te breek. ʼn Spoelproses volg, voordat die blommetjies geweeg en in geseëlde plastiese sakke verpak word. Waterblommetjies kan ook geblik word en kan vir tot twee jaar gevries word.
Belangrike riglyne vir die kweek van waterblommetjies
Geseëlde verpakking is uiters belangrik. Daar moet geen gate wees in die plastiese sakke waarin die blomme verpak word nie, sê Dirkie. Houers met gate in is ook nie voldoende nie, want dit beïnvloed die blommetjies se varsheid.

Vars water moet in die damme gepomp word. Dit moet nie vuil en modderige water wees nie. Rioolwater is geensins geskik nie. Skoon water, die beskikbaarheid daarvan en die onmiddellike omgewing waarin daar met waterblommetjies geboer word, is ʼn bepalende faktor van produksie en gehalte. Dirkie sê waterblommetjies kan nie op groot skaal geproduseer word in gebiede waar daar met gif bespuit word nie.
“Dit is juis hoe waterblommetjies eintlik begin uitsterf het in die Boland, deur spuitvliegtuie wat gifstowwe op koring en ander graan gespuit het. Die waterblommetjies kon, weens dit, nie verder groei nie.”
Nog ʼn móét vir waterblommetjieproduksie is dat die hele blommetjie – met die stingel aan – gepluk moet word en nie slegs die blom se kop nie, want daar sal dan nie ʼn nuwe stingel uit die bol kan groei nie. – Christal-Lize Muller
Vir meer inligting, stuur ʼn epos na varswaterblommetjies@gmail.com.