Veeplaas het onlangs die droë winterlandskap van Dordrecht besoek, waar Peter Cloete en sy seun David, hul Pine Grove Merino-stoet behartig.

Die stoet, wat vanjaar sy 118de bestaansjaar vier, het begin by Peter se oupa, Toby Cloete, wat as ’n uitgesproke legende in die Merino-bedryf – en iemand wat geweet het wat hy wil hê – onthou word. Toby het aanvanklik saam met sy broer op die plaas Jonashoek in die Indwe-distrik geboer. Hy het egter in 1926 die plaas Dennehof in die Dordrecht-distrik gekoop en sy gedeelte van die Jonashoek Merino-stoet daarheen verskuif. Dit het later as die Pine Grove Merino-stoet op die plaas Pine Grove bekend gestaan.

Die sleutels tot sukses

Peter het ongeveer ses jaar gelede by Agri Oos-Kaap betrokke geraak en is tans die adjunkpresident van die organisasie. David het ’n BSC-graad in veekunde verwerf en ’n motorwerktuigkunde en elektriese kursus voltooi, voordat hy op die plaas kom hand bysit het.

Peter en Jane Cloete saam met hul seun, David.

Daar word streng by die boerdery se reëls gehou en met behulp van hul plaasbestuurder, Wikus van Zyl, boer hulle hoofsaaklik met Merino-skape wat uit ’n stoet, kommersiële kudde en hamelkomponent bestaan, asook vleisbeeste en ’n handvol melkbeeste.

Peter glo die enigste manier om te weet waar ’n mens met jou boerdery staan, is om tussen jou diere en met jou voete in die kraal te loop. “Verder is ons enkele grootste bate ons werkers, van wie baie al vir generasies op die plaas is.”

Teel vir die omgewing

Pa en seun is dit eens dat die fisiese eienskappe van ’n dier altyd ’n belangrike rol in die seleksieproses sal speel. Hulle Merino-stoet word op ’n gebalanseerde wyse bestuur, waar tegnologie nie die alfa en omega is nie, en hulle vertrou dat die natuur, oftewel die omgewing, sal bepaal hoe hul diere vaar. “Daar is min produsente oor wat nog werklik vir hulself en die omgewing teel,” sê Peter.

“Hoewel ons van wetenskaplike syfers as ’n seleksiehulpmiddel gebruik maak, is ons nie gemaklik met wetenskaplike formules wat daarop aanspraak maak dat die omgewing uit die som gehaal kan word nie. Ek beskou dit as uiters gevaarlik wanneer iemand ’n dier vir die eerste maal in ’n katalogus sien en slegs op die beskikbare inligting staatmaak.”

Voervloei en oorlewing

Om ’n Merino-stoet op suur- en bergagtige veld te bestuur bied verskeie uitdagings, veral gedurende die droë en koue wintermaande.

Volgens Peter is die bepalende faktor die hoeveelheid voer wat daar geproduseer kan word om deur die winter te kom. “Ons diere word vir 110 dae van die jaar gevoer en daar moet genoegsame toegang tot goeie voeding wees. Ons plant lusern, koring en mielies op sowat 400ha, wat as voer gedurende die moeilike maande dien. Dit is belangrik om die voervloei tussen die onderskeie diere goed te balanseer. Ons hamelkomponent kry byvoorbeeld nie naastenby soveel voer as die ooie nie.”

Hul lammers ontvang ook nie kruipvoer nie. “Gewoonlik kan die rede vir ’n lam wat nie goed groei nie daaraan toegeskryf word dat die ooi nie genoegsame melk produseer nie. As jy vir so ’n lam kruipvoer gee, word dit soos ’n tweede ma vir hom en kan jy dus nie vir natuurlike groei selekteer nie,” verduidelik David. “Ons neem lammers soos dié gewoonlik na die voerkraal. As stoettelers beskou ons dit ook as ’n onnatuurlike hulpmiddel om kruipvoer vir lammers te gee, omdat ons die bedryf nie met swakker genetika wil besoedel nie.”

Natuurlik gehard en aangepas

Volgens Peter is die belangrikste beginsels vir ’n doeltreffende Merino-stoet op reproduksie en ’n intensiewe lamstelsel geskoei. Die ramme word vir 21 dae by die ooie gesit en daar word nie van kunsmatige inseminasie of enige ander hulpmiddels gebruik gemaak nie.

“Dit baat jou min as jy mooi diere het maar geen nageslag nie,” sê Peter. “Ek boer eerder met ’n lamsyfer van 140% en 90% goeie wol, as om puik wolgehalte maar slegs 70% lammers te produseer.”

Die rammetjies wat op die plaas gebore word, word vir die eerste agt maande op die veld gehou om hul volle potensiaal te bereik. David voeg by dat die ramme wat goed vaar gewoonlik op die plaas bly, terwyl ’n derde van hulle geselekteer word om op 18 maande, tydens Pine Grove se jaarlikse veiling, verkoop te word.

Van die ramme wat vanjaar op Pine Grove se veiling aangebied is.

Hulle skaf nie elke jaar ’n nuwe stoetram aan nie; die rede daarvoor is dat Pine Grove Merino-stoet hul nommer een kliënt is. “Daarom hou ons gewoonlik sowat 15 van die 100 ramme wat vir die jaarlikse veiling beskikbaar is, terug,” sê David. “Dit is belangrik dat ’n mens jou eie ramme in jou stoet kan gebruik, anders beteken dit dat iets in jou teelprogram nie heeltemal reg is nie. Indien ons wel die slag ’n ram koop, moet hy homself eers bewys voordat hy as stoetram oorweeg sal word.”

Peter glo dat die omstandighede waarin hulle boer hulle noop om oopkop te dink en te weet hoe hulle stoet en kudde met dié van ander produsente vergelyk. “In beginsel ondersteun ons graag ander telers wie se diere min of meer dieselfde eienskappe as ons s’n toon,” sê hy.

Jaarlikse skeersel

David het grootgeword met die konsep dat skeertyd ’n produsent se jaarlikse eksamen is om te bepaal waar die boerdery staan. “Wanneer jy jou skape se wol ondersoek, stel dit jou in staat om te bepaal tot watter mate jy by die seisoen se vereistes aangepas het,” verduidelik hy.

Pine Grove skeer gemiddeld 19 mikron wol op ’n jaarlikse basis. Afhangend van die seisoen word daar gemiddeld sowat 5kg per skaap per jaar in ’n tienjaarsiklus geskeer.

Plek vir almal in die son

Peter sê dat dit sy familie sowat ’n eeu geneem het om te kom waar hulle vandag is. “ ’n Belangrike deel van boerdery is om nooit te dink dat jy groter as die spel is nie. Hoewel die ekonomie die vraag na wol bepaal en produsente gewoonlik daarby aanpas, sal ons waarskynlik nie binnekort enige groot veranderinge aanbring met waar die wolprys tans staan nie.”

Hy het reeds op ’n jong ouderdom ’n waardevolle les geleer: Daar is genoeg son vir almal in die wêreld. “Dit sal ’n fout wees om te dink dat jy die enigste belangrike stoetteler is en alles vir jouself te probeer hou. Wanneer die wiel draai, laat dit só draai dat ons mekaar as produsente kan optrek.” – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Peter Cloete by 082 779 3893 of
David Cloete by 066 227 8715, of stuur ’n epos na pinegrove@nokwi.co.za.