Ontluikende boere
Rego Malao.

Rego Malao is in 2019 as SA Stamboek en Unistel se Opkomende Stoetboer van die Jaar gekroon. Terwyl sy boerdery goed groei, het hy met ’n uitmuntende plan vorendag gekom om opkomende boere, wat net so passievol oor vleisbeesproduksie is as hy, te help om vinniger te vorder op die pad na welslae.

By ’n onlangse besoek op die plaas Boschkop digby Ventersdorp, was Rego se positiwiteit oor die landbou in die algemeen en vleisbeesboerdery in die besonder, bemoedigend. En dit te midde van die neerdrukkende ingesteldheid van die meeste mense jeens die COVID-19-inperking.

“Die boodskap is so positief. Alle nywerhede moes hul deure toemaak, behalwe die landbou. Die mense, siek en gesond, moet eet en die boere se bedryf is die een wat kos op die tafel sit en nie toegemaak kan word nie,” sê hy.

Toe dié besef tot hom deurdring, het hy dadelik besluit dat hy alle geld wat vir hom beskikbaar raak, in die landbou gaan belê, waar ’n rooskleurige toekoms wink. Hy glo egter ook dit is noodsaaklik dat die regering met nuwe oë na alle boere kyk en die werklike betekenis van voedselsekerheid besef.

’n Plan om beesboere te steun

Sy plan om ander ontluikende boere by te staan, het sy beslag in die Noordwes-provinsie gekry toe onderhandelinge wat hy geïnisieer het, daarop uitgeloop het dat Boranbulle aan passievolle, opkomende beesboere geskenk is om hul ondernemings ’n hupstoot te gee.

Kyk na hierdie video vir meer inligting oor dié inisiatief deur hierdie skakel na die Plaas TV YouTube-kanaal te volg: https://youtu.be/dO5lwd5Ff3w.

Die Noordwes provinsiale regering en die Boran Beestelersgenootskap het ’n vennootskap aangegaan waarin gevestigde telers tien Boranbulle aan ontluikende boere, wat aan vasgestelde kriteria voldoen en deur die regering geïdentifiseer is, skenk.

Om so ’n bul te kan ontvang, moet die ontluikende boer onder meer minstens 30 koeie besit en wys dat hy passievol is oor beesboerdery. Die oogmerk van die telers se kant af is om die Boran se gewildheid te bevorder en die ontluikende boere bloot te stel aan die voordele van so ’n bul om hul kuddes te verbeter.

ontluikende boere
Die bul, HOT 14-07, is op die nasionale Boranveiling aangeskaf.

Dit het soveel byval gevind dat daar besluit is om die plan in ál nege provinsies van die land van stapel te stuur, maar die COVID-19-inperking het die uitvoering daarvan tydelik gepootjie. Sodra alles weer na normaal terugkeer, gaan dit voort, sê hy.

’n Passie vir vee in sy bloed

Rego het in Rustenburg grootgeword, ’n BA-graad in Bedryfsielkunde aan die Universiteit van Port Elizabeth verower, en ’n nagraadse diploma in bestuurswese aan die Universiteit van Kaapstad voltooi. Hy sê solank as wat hy kan onthou was boerdery in sy bloed en het hy dit as ’n roeping gesien.

Ná sy studies kon hy egter nie werk kry nie. Sy pa, dr JHK Malao, ’n bekende Brahmanteler van wit en rooi Brahmane, het hom aangestel as kuddebestuurder.

Rego sê sy pa is sy mentor en sy lektor aan die universiteit van die lewe – die klein suksessies wat hy tot dusver behaal het, is aan sy pa te danke. Hy glo sy pa se liefde vir diere kom vanaf sy oupa, Ntsie, wat nog met osse geploeg en gewerk het.

Nadat Rego die stoetery sewe jaar lank bestuur het, het hy ’n pos by die Rustenburg munisipaliteit as vaardigheids- en ontwikkelingskoördineerder gekry. Hy het toe al geweet dit was ’n tydelike beroep op die pad na sy eie boerdery, en hy het elke jaar begroot om vyf dragtige koeie of koeie met kalwers te koop. Dit was die begin van sy kommersiële beesboerdery, wat vandag uit sowat 300 teelkoeie bestaan.

Dit is die tipe vers waarvan Rego in sy kudde gebruik maak.

Ontstaan van die Boranstoet

Ná vyf jaar by die munisipaliteit het hy sy eie onderneming begin, wat instandhoudingswerk aan die infrastruktuur van platinummyne gedoen het. Die geld wat hy met dié onderneming gemaak het, het hy in kommersiële beeste belê en in 2014 het hy ’n beesveiling op Derby bygewoon waar hy sy hart op die Boranbeeste verloor het.

Hy het daar sy eerste Boranbul gekoop, en hom op sy kommersiële Brahman- en Nguni-koeie gebruik.  Hy  was  so  beïndruk met die bul se nageslag, dat hy die daaropvolgende jaar geregistreerde, dragtige Boranverse gekoop het en die Malao Boran-stoetery geregistreer het. Vandag bestaan die stoetery uit sowat 50 teelkoeie.

Om die genetiese poel van sy stoetery te vergroot, het hy die daaropvolgende jaar nog sewe dragtige verse gekoop. In daardie tyd het hy vir Stompie Olivier van die Model Boran-stoetery leer ken, wie baie gou sy Boran-mentor geword het.

Die tweede bul wat hy gekoop het, is ’n seun van die bekende bul, Kijiva, en tydens die nasionale Boranveiling op Parys het hy die bul, HOT 14-07, ’n seun van Cojack uit Zianca, wat deur Stompie geteel is, aangeskaf. Dié bul word nou in die stoetery gebruik.

In dié tyd het Rego nog grond bygekoop en vandag boer hy op 700ha van sy eie grond en ’n bykomende 1 800ha huurgrond. Hy sê dit was vir hom relatief maklik om te begin boer, want hy het sy pa, ’n gevestigde stoetboer, se leiding ontvang en terselfdertyd ’n passie vir die boerdery gehad. Uit die aard van sy omstandighede kon hy ook self beeste en grond koop sonder enige hulp van die staat.

Ou en nuwe boere moet saamspan

Daar is wel pogings van die regering om ontluikende boere te probeer help, maar die grond wat uitgedeel word land dikwels in die hande van kansvatters en mense wat die grond nie produktief kan of wil benut nie. Só word skaars hulpbronne in die water gegooi.

Hy sal graag wil sien dat alle boere ondersteun word en dat hulp gegee word aan diegene wat die grond produktief wil en kan benut. Opkomende boere moet saam met gevestigde boere kan werk. Om te floreer moet boere onder mekaar saamwerk en die regering moet hierby inkoop om ’n gunstige omgewing te skep waarin elke boer tot sy volle reg kan kom.

Die regering behoort ook die plaaslike landboubedryf te beskerm deur die invoer van landbouprodukte strenger te beheer. “’n Mens kyk tog eerste na jou eie ekonomie en beskerm dit, eerder as om ander lande se ekonomie te bevorder,” sê hy.

Die COVID-19-pandemie wat die wêreldekonomie lamgelê het, wys dat ’n land eerder in sy noodsaaklike bedrywe moet belê, en landbou is een daarvan. Alles het tot stilstand gekom, behalwe kos. Beleggings in die landbou is noodsaaklik om voedselsekerheid te versterk om die land minder kwesbaar te maak tydens sulke krisisse.

Van produsentekant behoort daar groter samewerking tussen gevestigde en ontluikende boere te wees, sodat kennis en vaardighede gedeel kan word. ’n Begin is nou gemaak met die hulpskema van Borantelers aan ontluikende boere in Noordwes.

Ondanks die rampspoed wat wêreldwyd toegeslaan het, sê Rego hy is opgewonde oor die toekoms van landbou en veral vleisbeesboerdery. Die donker wolk het beslis ’n silwer randjie en hy glo die boere en die land sal weer floreer.

Vir meer inligting, skakel Rego Malao by 082 634 1629 of stuur ’n epos na bashabaafricapojects@gmail.com.Andries Gouws, Veeplaas