2025 Kuilvoerkompetisie: Nat seisoen, topgehalte kuilvoer

Share This Post

Estimated reading time: 7 minutes

Die twaalfde Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie is weer met groot sukses deur Plaas Media aangebied. Ek was as medekoördineerder betrokke en was beslis beïndruk met die vaardigheid van die deelnemers. Die grootste uitdaging van die 2025-kompetisie was, snaaks genoeg, die teenoorgestelde van 2024 se droogte, naamlik te veel reën gedurende die kuilvoer-oesseisoen wat die proses vir verskeie produsente bemoeilik het.

Die oeste was oor die algemeen goed, maar dit het van Januarie tot April so aanhoudend gereën dat dit in die somerreënvalgebiede moeilik was om tydens die optimale snystadium by die landerye in te kom. Die gehalte was egter bevredigend, soos verwag kan word wanneer plante genoeg water kry.

Mieliekuilvoer

Die gemiddelde droëmateriaal- of DM-inhoud van die mieliekuilvoerinskrywings was ’n uitstekende 38,6%. Dit is effens hoër as in vorige jare, maar bykans dieselfde as in 2024 se droogtejaar, hoewel om heeltemal verskillende redes. As gevolg van modder kon produsente eenvoudig nie betyds by die lande uitkom nie.

Dit was wel interessant dat die gemiddelde proteïeninhoud van 8,11% DM hoër was as gewoonlik. Dit kan moontlik daarop dui dat plante op ‘n jonger stadium gesny is, aangesien die proteïeninhoud van jonger plante hoër is as dié van ouer plante; tog weerspieël die gemiddelde DM dit nie.

Die styselinhoud van 34,04% is die hoogste gemiddeld in die kompetisie se geskiedenis, maar dit ondersteun ook nie die teorie wat jonger plante betref nie. Buiten die hoër proteïeninhoud dui die DM en stysel weereens op hoe goed mielieplante in staat is om waardevolle stysel te produseer, mits hulle toegelaat word om bo 35% DM te ontwikkel.

As-inhoud

’n Kommerwekkende tendens is die as-inhoud van die mieliekuilvoer, wat op ’n DM-basis onder 4% behoort te wees. Die gemiddeld vir 2025 was egter 4,86%. Dit kan gedeeltelik toegeskryf word aan die modderige toestande waarin die produsente moes werk. Grond klou aan die plantstingels en trekkerwiele vas wanneer die kuilvoerbunkers of -hope gekompakteer word. Die bolaag as-inhoud is besonder hoog, met ’n gemiddeld van 7,48% vir bunkers en hope.

Die impak van trekkerwiele in terme van grondkontaminasie in kuilvoer het, is groter as wat die meeste produsente besef. ’n Ander probleem ontstaan wanneer kuilvoer langs die landerye met laaigrawe op trokke gelaai word en daarna by die silosakmasjien afgelaai word. Hierdie proses verminder die voordeel om vars-gesnyde plantmateriaal direk in ’n stoormasjien, soos ’n silosak- of hoë-digtheid baalmasjien, af te laai. ’n Maksimum as-inhoud van 35,48% is in die kompetisie aangeteken, en dit was kuilvoer wat twee keer met laaigrawe oorgelaai is!

’n Hoë as-inhoud belemmer kuilvoer se fermentasieproses, wat ’n negatiewe impak op fermentasie en inname het. Daarby veroorsaak dit onnodige slytasie aan masjinerie, soos voermengwaens.

Trekkerwiele het ‘n groter invloed op grondkontaminasie in kuilvoer as wat die meeste produsente besef. (Foto: Illa Hugo)

Benutbaarheid van kuilvoer

Totale verteerbare voedingstowwe (TVV) is ’n aanduiding van die algehele benutbaarheid van die voer en sluit die stysel, vesel, proteïen en verteerbaarheid daarvan in. Die gesamentlike waarde van al hierdie faktore word dan as TVV uitgedruk. Die gemiddelde TVV in 2025 was 71,77%, wat 3% hoër as dié in 2024 was. Dit kan hoofsaaklik aan die hoër styselinhoud en beter verteerbaarheid toegeskryf word. Mieliekuilvoer bly een van die gewasse met die hoogste TVV, dus is dit geen wonder dat dit so ’n waardevolle voerbron is nie.

Fermentasie-eienskappe

Oor die algemeen is pH as ’n aanduider van ’n suksesvol-gepreserveerde gewas by mieliekuilvoer sowat 3,8. In 2025 was dit 100% in die kol. Wat daarmee saamhang, is aërobiese stabiliteit. Die kuilvoerkompetisie-protokol behels ’n gestandaardiseerde vyf-dag belugtingsmetode. Na vyf dae word die pH weer gemeet, en die gemiddelde resultaat was 4,12. Dit beteken dat die pH na vyf dae van lugblootstelling net effens gestyg het, wat natuurlik gewens is, maar dit is die gemiddeld. Ongelukkig het die kuilvoer met die swakste stabiliteit se pH na vyf dae by 7,99 gedraai, wat maak dat dit eintlik nie meer as kuilvoer geklassifiseer kan word nie.

Melksuur is presies op die gemiddeld van 5,4% gemeet. Die asynsuur moet ook in ’n goeie verhouding tot die melksuur wees, en die gemiddeld van 2,08% by bunkers en hope, en 1,38% by silosakke en bale, was baie goed.

Silosakke was een van vier stoorvorm-kategorieë waarin deelnemers kon meeding. Die ander was bale, hope/oorryhope en toedraaibale.

Sorghumkuilvoer

Die binneland se besonder nat kuilvoerseisoen tot in Mei en Junie het die oestyd van voersorghumkuilvoer belemmer. Die goeie reën in die groeitydperk, gevolg deur sopnat grond tydens oestyd, het daartoe gelei dat baie lang voersorghumplante omgeval het. Soetsorghums het ’n groter snyvenster van etlike weke, omdat dit nie so vinnig soos mielies droog word nie.

Die kuilvoer wat wel gemaak is, het ’n gemiddelde DM van 34,4% gehad, wat eintlik baie goed is. Verder kan die kuilvoergehalte daarvan reglynig met die gemiddeld van vorige jare vergelyk word.

Voersorghums is oor die algemeen ’n redelike maklike gewas om in te kuil, en die eenvormigheid van ontledings oor die jare dien as bewys daarvan. Die fermentasieparameters en voedingstowwe lyk nes die norm.

Hawerkuilvoer

Hawerkuilvoer is ons land se tweede-grootste kuilvoergewas, en speel ’n kenmerkende rol in die winterreënvalstreke. Die kuilvoerkompetisie kyk natuurlik effens langer terug wat hawer betref. Die kuilvoere wat vroeg in 2025 geëvalueer is, is aan die einde van 2024 geproduseer.

Die gemiddelde DM-inhoud van die ontledings was ’n ideale 36,5%. Een opmerklike probleem was egter dat baie plase hul hawerkuilvoer te grof kerf. Dit is natuurlik die produsent en voedingkundige se keuse hoe grof of fyn dit gekerf moet word, want dit hang van verskeie faktore af. Lang kerflengtes kan egter bydra tot swak suurstofverwydering en vermorsing in die voerkrip. Die gemiddelde kerflengte in 2025 was 19,2mm, wat selfs langer as dié in 2024 is en ’n tree in die verkeerde rigting aandui.

Die Penn State-skudkas word in die kompetisie gebruik om partikelgrootte te meet. Sowat 60% van die monster moet op die middelste sif wees. Die kompetisie se monsters het egter 38,5% gemeet, wat daarop dui dat die hawer op ’n gemiddelde basis ondergeprosesseer is.

Proteïeninhoud

Die hawerkuilvoer se gemiddelde proteïeninhoud was 9,31%, wat ’n verbetering van byna 1% op die vorige jaar is. Dit dui daarop dat die hawer moontlik nader aan die optimale snystadium (dus vroeër) gesny is, hoewel dit steeds baie kan verbeter.

Proteïen is een van die belangrikste voedingstowwe wat dikwels in ’n plaas se voervloei tekortskiet. Dit is dus teleurstellend dat nie meer hawerkuilvoere aangewend word as ’n geleentheid om self meer proteïen te produseer nie. Produsente mik egter eerder vir ’n groter opbrengs, wat beteken dat die hawer teen die snystadium reeds ’n deel van sy proteïeninhoud verloor het. ’n Proteïeninhoud van sowat 13% is haalbaar indien die hawer teen die optimale stadium gesny word.

Fermentasie

Wat die fermentasie van hawerkuilvoer betref, steek die probleem van bottersuur gereeld sy kop uit. Dit kom veral voor by natter kuilvoere wat nie lank genoeg verlep is nie, en word vererger deur kontaminasie en stadige inkuiling. Die hoogste vlak was 1,81%, wat ongetwyfeld tot innameprobleme kan lei. ’n Hoë bottersuurinhoud het ’n beduidende invloed op die smaaklikheid van die kuilvoer. Hoewel die gemiddeld van 0,25% in die 2025-datastel ongewens is, is dit nie ongewoon nie, aangesien dit wêreldwyd voorkom.

Die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie bied produsente nie bloot ’n posisie op die ranglys nie, maar ook ’n waardevolle verslag met werkbare maatstawwe en individuele kommentaar. Dit stel elke deelnemer in staat om hul kuilvoer teen die bedryfstandaard te meet en bied relevante data van daardie spesifieke seisoen. Dit is ‘n aanduiding van waar verbeterings moontlik is ten einde kuilvoergehalte en -voedingswaarde te optimaliseer. – Richardt Venter

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na richardt@agsci.co.za of skakel 083 590 3014.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 16 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...