Estimated reading time: 5 minutes
Agricol se 11de Groendag, wat by hul navorsingstasie net buite Potchefstroom aangebied is, het vanjaar weer groot belangstelling gelok ondanks uitdagende, nat weerstoestande. Die dag se fokus was veral op somer- en winterweidingsgewasse, en het aan boere die geleentheid gebied om nuwe én bestaande variëteite, asook die nuutste tegnologie in gewasverbouing van naby te besigtig.
Altesaam 45 verskillende gewasse, 120 kultivars, en 15 weidingsmengsels is in demonstrasieblokke uitgestal. Kundige Agricol-verteenwoordigers het praktiese aanplantings van eenjarige en meerjarige weidings, sowel as verskeie dekgewasmengsels toegelig.
Volgens Joubert Swanepoel, hooflandboukundige by Agricol, is die doel van die Groendag om boere van praktiese en wetenskaplik gefundeerde kennis te voorsien wat opbrengste kan verhoog en volhoubare landboupraktyke ondersteun.

Somerweidingsgewasse
Willem Labuschagne, verkoopsbestuurder van Agricol Limpopo en Gauteng, het meerjarige somerweidingsgrasse, -mengsels, en peulgewasse vir droëland en besproeiing bespreek. Hy het die belang van korrekte saadbedvoorbereiding vir weidingsgewasse met fyn sade beklemtoon. ’n Saadbed moet fyn, gelyk, onkruidvry, en ferm wees sodat saad nie te diep in die grond beland nie. Die ideale saaidiepte sal tussen weidinggewasse verskil.
By somergrasse het Labuschagne Oulandsgras (Eragrostis curvula) bespreek,wat goed in hoë reënvalgebiede soos Mpumalanga, die Vrystaat, en oostelike Hoëveld vaar. Agricol se Oulandsgras-variëteit Agpal is geskik vir hooiproduksie, maar is ook bruikbaar vir beweiding.
Eenjarige somerpeulgewasse
Labuschagne het ook eenjarige somerpeulgewasse soos akkerbone en dolichosbone bespreek. Hierdie somerpeulgewasse is waardevol vir produsente omdat dit stikstof bind, nie opblaas by diere veroorsaak nie, en dit is geskik vir sny, baal, beweiding, of kuilvoer. Die hoë ruproteïeninhoud is met dié van lusern vergelykbaar.
Labuschagne glo akkerbone is ’n “vergete” gewas wat meer aandag verdien. Hy sê akkerbone het ’n onbepaalde groeiwyse en vroeë aanplantings bevorder vegetatiewe groei, terwyl latere aanplantings reproduktiewe groei bevorder. Variëteite sluit Glenda (semi-regop), Dr Saunders (regop), en Betswit en Agrinawa (ranktipe) in.
Meerjarige somerweidingsmengsels
Labuschangne het ook op Agricol se baie gewilde meerjarige somerweidingsmengsels gefokus. Die Waterberge-mengsel bestaan uit ’n mengel van Smutsvingergras, Rhodesgras, en Witbuffelgras, terwyl die Mooirivier-mengsel uit Smutsvinger, Rhodesgras, en Kleinbuffelgras bestaan.
Die voordele van die mengsels is as volg:
- Beide hierdie mengsels in kombinasie met hul laasgenoemde graspesies kan van die eerste seisoen bewei word, in teenstelling met skoon Smutsvinger-aanplantings wat eers van die tweede seisoen af bewei kan word.
- Al die spesies in hierdie mengsels is smaaklike meerjarige grasse en het goeie verteerbaarheid-eienskappe wat goed as hooi en staande hooi benut kan word.
- Die spesies komplementeer mekaar goed aangesien Rhodes-en Kleinbuffelsgras reeds vanaf aanplanting vinnig en sterk vestig. Laasgenoemde onderdruk die opkoms van onkruid en bied die Smutsvinger- en die Witbuffelgras ’n onkruidvrye basis om oor tyd te vestig.
- Die mengsels is vir die meeste grondtipes geskik en groei uitstekend in gebiede met ’n jaarlikse reënval van 500mm en hoër in die somerreënvalstreke.
- Droëmateriaal-produksie kan so hoog as 18 ton per hektaar onder besproeiing met die regte bestuurspraktyke wees.
- Die bestuur van die gevestigde mengselis eenvoudig aangesien bestuurspraktyke op normale Smutsvinger bestuurspraktyke geskoei is.
- Hierdie mengsels kombineer verder ook goed met peulgewasse soos onder meer Soet-witblomklawer.
Agricol se Bosveldmengsel is vir warmer gebiede met ±400mm reënval geskik en die mengsel sluit Witbuffel-, Rhodes-, Smutsvinger-, Kleinbuffel-, Borseltjie- en Bloubuffelgras in. In hierdie mengsel vestig die Rhodes- en Borseltjiegras-komponente vining, en help om onkruid te onderduk sodat ander meerjarige grasse kans kry om te vestig.
Winterweidingsgewasse
Morné Venter, verkoopsbestuurder vir Agricol Noord-Kaap en sentrale Vrystaat, het op Agricol se gewilde eenjarige winterkleingraan-hawermengsels gefokus. Die Oranjeriviermengsel bevat drie hawersoorte – Dunnart, Overberg, en Magnifico – saam met korog. Die Oranje-Vrystaatmengsel gebruik dieselfde hawer, maar vervang die korog-komponent met ’n stoelrog-kultivar. Magnifico is ’n gewilde winterhawer vir beweiding, sny, en kuilvoer. Beide mengsels word geplant teen 25–50kg/ha (droëland) of 75–125kg/ha (besproeiing) met planttyd tussen Februarie en April. Indien dit laat aangeplant word behoort daar steeds materiaal teen Oktober/November beskikbaar te wees indien bestuurspraktyke reg is.
Lees meer hier oor die vestiging en bestuur van aangeplante winterweidings.
Onder die eenjarige winterknolgewasse is die Japanese radys (Nooitgedacht) en Ripperradys (Groundhog) gewild vir beweiding. Hulle word tussen Januarie en Maart geplant teen 2–5kg/ha. Die Ripperradys het ’n dieper groeiwyse terwyl Nooitgedacht ovaalvormig is.

Die rol van dekgewasse
Dawie du Plessis, senior landboukundige en verkoopsbestuurder by Agricol, het ’n proefstudie bespreek wat sedert 2016 ondersoek of dekgewasse koolstofvlakke in grond kan verhoog. Die studie het met die somerdekgewasmengsel Agrilife 12 (voersorghum, babala, akkerbone, dolichosbone, en sunhennop) begin. Daarna is die wintermengsel Agrilife 2 (hawer, stoelrog, Japanese radyse, en wieke) saam met dit gevestig. Koolstofvlakke is twee keer per jaar gemeet, met positiewe resultate.
Mielies is later tussen die bestaande dekgewasse geplant om die langtermyn-effek op koolstof, graanopbrengs, en insetkoste te evalueer. Na stroop is die oorblywende koppe, dekgewasse, en mieliereste bewei. Die kombinasie van energie, biomassa, en proteïen uit die verskillende komponente bied gebalanseerde weiding wat veral tussen Julie en September waardevol is. Du Plessis het beklemtoon dat verbeterde grondgesondheid tot beter plantvoeding, voghouvermoë, deurlugting en aktiewe mikrobiële lewe lei, wat tot 80% van plante se voedingstowwe verskaf.
Hy sê die reëls van grondgesondheid is:
- Permanente organiese bedekking: Grond moet altyd bedek wees om die hoë temperatuur van grond en verdampingstempo van water te beperk.
- Konstant aktief groeiende wortels: Dekgewasse fotosinteer, vorm suikers, en voed mikrobes, wat mineraaluitruiling bevorder.
- Diversifikasie: Verskillende plantwortelstelsels op dieselfde vierkante meter lok verskillende mikrobes en benut grond op verskeie vlakke.
- Minimale grondversteuring: Beperk grondbewerking om mikrobiese netwerke te beskerm.
- Implementeer ’n veefaktor: Beweiding beïnvloed wortelafsterwing wat weer tot die opbou van koolstof in die grond bydra.
Besoek Agricol se webtuiste by www.agricol.co.zavir meer inligting – Christal-Lize Muller, Plaas Media






