Wolsake by IWTO-rondetafel uitgepluis

Estimated reading time: 4 minutes

Die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO) se jaarlikse rondetafel bied ’n platform waar spelers in die wolbedryf kan saamkom om onlangse suksesse en probleme te bespreek. Die 2024-geleentheid het in Istanboel plaasgevind. Dit is betekenisvol, aangesien alle moderne skape oorspronklik van Turkye afkomstig is.

Die IWTO se werkgroepe het die konferensie geopen met verslae oor hul aktiwiteite. Die IWTO het tans vyf werkgroepe wat fokus op volhoubare praktyke, produkwelstand, wol-interieur, biosekuriteit in die wolhandel en die welsyn van wolskape. Hierdie werkgroepe bestee baie tyd en moeite aan navorsingsaktiwiteite wat wol as die voorkeur volhoubare vesel bevorder, terwyl hulle ook ‘n oog hou oor moontlike probleem-areas en aksies wat skadelik vir die bedryf kan wees.

Op die bemarkingsfront word gefokus op wetenskaplike navorsing oor wol se unieke vermoë om by temperatuurwisseling aan te pas en gemaklike drag vir topatlete te verseker. In hierdie opsig word veral fyn Merinowol bemark.

Die IWTO verteenwoordig egter alle woltipes, nie net Merinowol nie. Die werkgroep vir wol-interieur fokus hul energie op die praktiese gebruik van sterkwol vir binneversiering, asook die voordele van wol vir menslike en omgewingsgesondheid. Een voorbeeld is wolmatte se vermoë om skadelike stowwe te absorbeer en dit vir tot 30 jaar vas te vang.

Lees meer oor die 2024 Textile Exchange-kongres: ’n saak van verandering.

Volhoubaarheid

‘n Sentrale tema van die IWTO se rondetafel was volhoubaarheid, met ontwikkelings in kleur en afwerking wat wol se omgewingsvoetspoor selfs nog ligter maak. Hoewel wol net 1% van die wêreld se totale veselmark verteenwoordig, word uitstekende werk gedoen om groter bewustheid oor volhoubaarheid te skep. Verbruikers word aangemoedig om die materiaalsamestelling van klere na te gaan voordat hulle dit koop. Wat beleidmakers betref, daag die Make the label count-veldtog betrokkenes uit om nie selfingenome te wees oor volhoubaarheid nie en hoe dit aan verbruikers voorgehou word nie.

Regulasies soos die EU-PEF (die Europese Unie se Product Environmental Footprint) in sy bestaande formaat kan vernietigende gevolge vir alle natuurlike vesel en die planeet hê. Die EU se nuwe kommissarisse sal hierdie veldtog in 2025 voortsit met die doel om ‘n gelyke speelveld vir wol en ander natuurlike vesels te bewerkstellig, en te bepaal hoe hulle die impak van wol met hierdie instrument sal meet.

Klaus Steger, president van die IWTO, het tydens die rondetafel daarop gewys dat ‘n paradigmaskuif tans plaasvind, van baanbrekerwerk in die kleur, weef en afwerk van wol, tot -inisiatiewe soos Woolmark se Nature+. Volgens hom verlaag hierdie projekte nie net wol se impak nie, maar is aktief besig om die planeet te herstel.

Wat jy nie weet nie

Opvoeding bly ‘n belangrike aspek waarsonder die bedryf se veldtogte en projekte geen impak sal hê. Dit verwys spesifiek na opvoeding oor biogenetiese koolstof, omgewingsgesondheid, die gevolge van aankoopbesluite, en oor wol as natuurlike vesel. Hierdie opvoeding het betrekking op skoolgaande kinders tot jong professionele mense in die wolbedryf.

Lorna McCormack, die direkteur van Wool in School in Ierland, het lig gewerp op ‘n paar inisiatiewe om te verseker dat kinders leer hoe om wol te waardeer, hoe dit geproduseer word, die aanwending daarvan, en die omgewings- en gesondheidsvoordele daarvan.

Lorna McCormack, direkteur van Wool in School in Ierland.

Hoewel die wolbedryf tans voor groot uitdagings soos ongunstige markkragte en omstrede wetgewing staan, is daar baie om oor opgewonde te wees. Organisasies soos die IWTO doen baie om te verseker dat produsente kan aanhou boer, deur ‘n groter begrip vir wolproduksie en wol se uitstekende eienskappe geskep word onder verbruikers en ander belanghebbendes.

Gebeurtenisse soos die IWTO se rondetafel is dus belangrik vir die bevordering van regverdige en volhoubare praktyke, en om die toekoms van wol te verseker. – Jo-Anne Bester

Vir meer inligting, skakel Jo-Anne Bester by 082 559 0459 of stuur ‘n epos na bester@iwto.org. Vir meer inligting oor die IWTO, besoek die webtuiste by www.iwto.org.

Related

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on the other hand, is the misfortune, accident, or disaster that...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy primêre doelwit as selfregulerende inisiatief van die georganiseerde suiwelbedryf. Sy...