Gehalte eerder as getalle is die wagwoord vir wildtelers. Wildpryse is nou bestendig, maar die dwarslat vir die gehalte van teeldiere styg stelselmatig. Diere wat ’n paar jaar gelede gesog was vir teeldoeleindes en rekordpryse behaal het, se horinglengtes is nou van so ’n aard dat hulle deesdae eerder hul weg na die jagkamp vind as trofeediere.
Dit stimuleer die jagbedryf en lok toegewyde oorsese jagters na die land, wat die wildbedryf se toekoms rooskleurig maak. Dit verdryf ook die twyfel wat by sommige mense ontstaan het toe wildpryse ’n jaar of twee gelede drasties gedaal het.
Victor Matfield, hoofbestuurder van Wildswinkel, sê die huiwerigheid onder beleggers veroorsaak dat uitstekende diere van verskeie spesies laer pryse as hul werklike waarde behaal en nader aan trofeejag-pryse neig.
Werklike genetiese verbetering in die wildbedryf
Volgens Victor is geneties meerderwaardige diere egter nog gesog. Tydens twee onlangse veilings van onderskeidelik Classic/Loskop Game Breeders en Wildlife Legacy is twee buffelbulle met horings van 51 duim teen sowat R8 miljoen elk verkoop.
“Nog ’n interessante verwikkeling is dat buffels uit bloedlyne van die Nasionale Krugerwildtuin deesdae ook goeie pryse behaal omdat boere die waarde van uitstaande teeldiere uit dié bloedlyne besef.
“Dit is duidelik dat die mark vir teeldiere van feitlik alle spesies kleiner raak, namate wildtelers se kuddes die getalle bereik wat hulle kan aanhou. Sulke telers is nou op die uitkyk vir diere wat ’n werklike genetiese verbetering in hul kuddes kan meebring,” verduidelik hy.
Victor sê kopers en verkopers maak al meer gebruik van prestasiegegewens van horinggroeikurwes, asook prestasie van voorouers en verwante diere om ’n deurdagte waarde aan diere te heg.
Aanlynveilingstendense
“Die formaat van veilings het klaar begin verander. Ek glo stilveilings wat op die Internet aangebied word, gaan uitbrei. Internetveilings is gewild omdat dit tyd spaar en gerieflik is, deurdat ’n koper uit sy sit- of studeerkamer op die wild kan bie. Die gemiddelde omset op dié veilings van Wildswinkel is nou al sowat R1 miljoen meer as verlede jaar. Daar is nog vyf sulke veilings wat vanjaar afgehandel moet word,” vertel hy.
Wildbedryf woeker met bewaring
Nog ’n nuutjie is die sogenaamde blitsveilings, waar ’n enkele dier op ’n Internetveiling aangebied word. ’n Voorbeeld is ’n swartrooibokram van die bekende teler, Piet du Toit, wat só verkoop is. Die aanbiedings het op R10 000 begin. Daar was 49 geregistreerde kopers, waarvan 40 aktief gebie het, en die ram is uiteindelik vir R320 000 verkoop.
Sommige telers bied ’n lewende veiling en Internetveiling saam aan, met die sluiting van die Internetveiling kort na afloop van die lewende veiling. Dan pomp die adrenalien nog en begin kopers wat die lewende veiling bygewoon het, lustig meedoen op die Internet.
Florerende jagbedryf en winskopies
Die jagmark word voordelig deur huidige tendense beïnvloed deurdat uitstaande trofeë vir jagters, en veral buitelanders wat die voordeel van die swak rand benut, beskikbaar is. Op ’n onlangse veiling het ’n jagonderneming R1 miljoen vir ’n spesifieke buffelbul betaal om aan een van sy kliënte se behoeftes te voldoen.
Victor glo dit is nou ook die ideale geleentheid vir nuwe wildboere om tot die wildbedryf toe te tree. “Uitstekende teeldiere is nou onderwaardeer en winskopies is beskikbaar. My raad aan wildboere is om nou eerder op gehalte as getalle te konsentreer. Dit is immers net so duur om swakker diere as meerderwaardige teeldiere te onderhou,” sê hy. – Andries Gouws, Plaas Media
Vir meer inligting, skakel Victor Matfield by 082 332 3355 of stuur ’n epos aan victor@wildswinkel.co.za.