Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar

Estimated reading time: 5 minutes

Francois Rossouw (30) van Mooigezicht Estates, De Doorns, is as 2025 se Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar aangewys. Hy boer met tafeldruiwe op 310 hektaar en is ’n dinamiese jong leier wat reeds ’n sleutelrol in sy familieboerdery en gemeenskap speel, sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

Rossouw is tydens ’n gala-geleentheid by die Ashanti Estate naby die Paarl uit agt finaliste as die wenner aangewys. Santam is die hoofborg van die Wes-Kaapse Jongboer van die Jaar-kompetisie. As provinsiale wenner sal Rossouw Agri Wes-Kaap en die Wes-Kaap by die nasionale Toyota SA/Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie verteenwoordig, waar hy teen die land se beste jong boere sal meeding.

Die Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar, Francois Rossouw en sy vrou Jean-Mari, saam met sy ouers, Francois (sr.) en Gerda Rossouw.

Spanwerk sleutel tot sukses

Na hy die toekenning ontvang het, het Rossouw sy familie en werkers bedank dat hulle hom die geleentheid gee om hom in die boerdery uit te leef. “Ons as jong boere in die Wes-Kaap het ’n plig om die ekonomie in ons gemeenskappe te stimuleer, werkloosheid onder die jeug te beveg deur jong mense die geleentheid te gee om op die plase te werk, en voedsel te voorsien.”

Die toekenning is ’n groot eer, maar ook ’n bevestiging van spanwerk: “Ek sien hierdie erkenning nie net as my eie prestasie nie, maar as ’n huldeblyk aan elkeen op die plaas wat hul hande daagliks vuil maak. Sonder my span, my familie, en die Here, sou ek nie vandag hier gestaan het nie. Ek glo ons boerdery is ’n roeping – en dit gee vir my ’n rede om as vierde geslag produsent steeds aan te hou,” het hy gesê.

Rossouw se toekomsvisie sluit die uitbreiding van bemagtingsinisiatiewe, sosiale ontwikkelingsprojekte vir plaaswerkers en hul kinders, en die vestiging van ’n nie-winsgewende organisasie, om onderwys en ontwikkeling te bevorder, in.

Dinamiese jong leier

Strydom sê Rossouw het met sy toewyding aan volhoubare produksie, mense-ontwikkeling, en tegnologie-gedrewe bestuur, hom as ’n boer met visie én vasberadenheid onderskei. “Hy is die soort jong boer wat hoop vir die toekoms van landbou in ons provinsie gee. Sy benadering tot bestuur toon ’n buitengewone balans van kundigheid en menslikheid.”

Rossouw se bestuurstyl is deelnemend en span-gedrewe. Hy werk saam eerder as om bloot opdragte te gee. Sy vermoë om onder druk strategies te beplan, en om sy span met motivering en innovering deur moeilike seisoene te lei, het hom uitgelig, sê Strydom.

Inus Oosthuizen, sameroeper van die beoordelingspaneel, sê Rossouw se geïntegreerde bestuurstyl, sy vindingrykheid, en sy fokus op mense en gehalte, het die beoordelaars beïndruk. “Hy is nie net ’n uitnemende produsent nie, maar ook ’n leier wat sy span bemagtig en sy gemeenskap dien. Hy bestuur met hart én kop,” sê Oosthuizen.

Inus Oosthuizen, sameroeper van die Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar se beoordelingspaneel.

Landbou sal SA red

Emil Pretorius, bestuurder: Besigheidsontwikkeling van Santam, die hoofborg van die Wes-Kaapse Jongboer van die Jaar-kompetisie, het tydens die geleentheid gesê hy is oortuig dat Suid-Afrika deur landbou gered gaan word. “Ons het baie kulture in Suid-Afrika, maar daar is net een kultuur in gemeen en dit is landbou,” het Pretorius gesê. Hy het boere gevra om die verskilmaker te wees wat die wêreld so nodig het.

Annalie Lerm, distrikbestuurder: Verkope en naverkope by Toyota SA, die hoofborg van die nasionale Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie, het gesê landbou vervul ’n baie belangrike rol in ons ekonomie. Die landbousektor toon steeds indrukwekkende groei ondanks allerhande uitdagings. “Deur hul harde werk en toeweiding verseker ons boere dat daar kos op ons tafels is en dat ons gemeenskappe onderhou word,” het Lerm gesê.”

Emil Pretorius, bestuurder: Besigheidsontwikkeling van Santam, die hoofborg van die Wes-Kaapse Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Sien om na ons boere, vra 2024 se wenner

2024 se Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar-wenner, Dean Barnard van Oppie Plaas-boerdery naby George, het gesê dit was ’n groot voorreg om die Wes-Kaapse Jongboer van die Jaar te wees. Die kompetisie is ’n groot geleentheid om jou plaas en jouself teen ander boere te meet.

Barnard het gesê hy is die afgelope jaar met ’n geestesgesondheidsiekte, Post Traumatiese Stres Versteuring (PTSV) gediagnoseer. PTSV is ’n vorm van angsversteuring weens langdurige blootstelling aan stresvolle situasies. “Die toekenning kon dus nie in ’n beter tyd in my lewe gekom het nie. Dit het my gehelp om my selfbeeld te verbeter en vele voorregte en geleenthede te ervaar.”

Volgens hom is daar wêreldwyd baie studies oor geestesgesondheidskwessies (mental health issues) by boere gedoen. ’n Boer se kans om geestesgesondheidskwessies te ontwikkel is vyf keer groter as in enige ander beroep. “Ons is net 37 000 boere in Suid-Afrika wat 65 miljoen mense kos gee. As daar ’n vyf keer groter kans is dat ons geestesgesondheidskwessies kan ontwikkel, sal daar na ons boere omgesien moet word. As jy sien jou maat kry swaar, gaan tel hom op,” het Barnard gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media

Francois Rossouw en sy vrou Jean-Mari, saam met 2024 se Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar, Dean Barnard (heel links) en sy vrou Karla van Oppie Plaas-boerdery naby George. Regs is Heinie du Toit, ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap.

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...

AFMA Matrix April 2026 now available

In the April 2026 edition of AFMA Matrix, the spotlight falls on the newly...