Estimated reading time: 5 minutes
Plaas Media vier vanjaar ‘n hele tien jaar van sy Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie en het tydens ‘n funksie in Pretoria op 28 November, die wenners in die 2023-kompetisie aangekondig. Vanjaar se kompetisie het 102 inskrywings ontvang – ‘n hele 65 meer as die 37 inskrywings wat in die heel eerste kompetisie in 2014 ontvang is. Die kompetisie het oor sy dekade-lange bestaan met rasse skrede gegroei, sy kategorieë uitgebrei en vanjaar het die monsternemingspan ‘n enorme 15 502km afgelê om by deelnemende plase om te gaan.
Lees hierdie persverklaring in Engels hier.
Vanjaar se inskrywings het bestaan uit 72 mielie-, 16 hawer- en 14 voersorghum-inskrywings. Die inskrywings is opgemaak uit 72 bunkers, 22 silosakke en agt kuilvoerbale. Kuilvoerbale word sedert 2022 in die formele groepe ingesluit, mits dit in die mielie-, sorghum- of hawerkategorieë ingeskryf word.
Lees meer oor die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie hier.
Vanjaar se borge
Die hoofborg van vanjaar se kompetisie was weereens Santam Landbou, wat sedert die aanvang van die kompetisie as naamborg optree. Hanlie Kroese van Segment Solutions Agri by Santam, het die wenners gelukgewens en gesê hulle prestasies in kuilvoerproduksie is ‘n klinkklare bewys van die potensiaal vir winsgewende groei in landbou. Sy het gesê hoë-gehalte kuilvoer is die hoeksteen van hierdie sukses. “Kombineer dit met ‘n robuuste risikobestuursplan wat versekering insluit, en jy het ‘n wenresep vir volgehoue vooruitgang in hierdie lewensbelangrike bedryf.”
Die prysborge is Pannar Saad, Kemin Industries, Strapping & Profile Manufacturers, Nutribase, Pioneer Saad, TWK Agri en ‘n nuwe borg, Orkel. Die laboratoriumborg vir die monsterontleding is Labworld.
Borgaansoeke sal open vir nuwe maatskappye sodra huidige borgskappe hernu is, so maak seker jy hou ‘n oog op Plaas Media se sosiale media-platforms vir meer inligting hieroor.
Deelnemende maatskappye en produsente
‘n Totaal van 23 maatskappye het hulself of hul kliënte in hierdie jaar se kompetisie ingeskryf. Die maatskappye wat ingeskryf het was Stratford Farming, Exact Silage, AFGRI Veevoere, Sentraal Suid Koöperasie (SSK), Nova Feeds / Quantum Foods, Meadow Feeds Natal, Heinz Boerdery, Kemin Industries, Strapping & Profile Manufacturers, Nutribase, Witwildt CC, TWK Agri, Sparta Beef Marquard, Sparta Beef Taaiboschbult, Budissa Bagger, Pioneer Saad, Pannar Saad, Lake Agriculture, Summer Crest Trading, Faber Familietrust, Winterstorm Investments, Hulley Brothers en Simpson & Son Farming.
Tien jaar se data
Oor die laaste tien jaar is ‘n totaal van 765 monsters vir die kompetisie ingeskryf. Dit het bestaan uit 582 mieliekuilvoer-, 103 hawer- en 63 sorghumkuilvoermonsters. Die sorghumkategorie het in 2023 sy meeste inskrywings ooit gehad, naamlik 14. Oor die jare is 17 in die oop kategorie vir ander gewasse ontvang. Al die klasse het dus goeie groei getoon.
‘n Totaal van 58 verskillende maatskappye het ook oor die laaste tien jaar aan die kompetisie deelgeneem, met twee maatskappy wat ononderbroke deelgeneem het, naamlik AFGRI Veevoere en Sparta Beef.
Die drie maatskappye wat die meeste inskrywings oor die tien jaar-tydperk opgelewer het, was Pannar Saad met 100 inskrywings sedert hulle van 2017 af begin deelneem het, AFGRI Veevoere met 95 inskrywings sedert 2014, en Nutribase met 53 inskrywings sedert 2017.
Die monsternemingsproses
Vanjaar se monsterneming is deur twee nagraadse Veekundestudente van die Universiteit van Pretoria gedoen. Die studente is Jan-Hendrik Blignaut en Phillip Pretorius. Richardt Venter van AgSci Unlimited, die kompetisie se mede-koördineerder, het die studente tydens ‘n spesiale opleidingsdag in die monsternemingsproses opgelei.
Die monsters is deur dr Elrisa Taljaard en haar span by Labworld getoets. Die data-ontleding is deur die beskermheer van die kompetisieprotokol, prof Robin Meeske, van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Outeniqua Navorsingsplaas gedoen.
Die wenners
Vanjaar se finaliste het verskeie kategorie- en algehele wenners sien terugkeer om vir die kuilvoerkroon mee te ding. Daar was ook vanjaar verskeie kuilvoerbale onder die finaliste, dit nadat bale as ‘n amptelike stoorvorm in 2022 bygevoeg is.
Die voersorghumkategorie spog met ‘n voormalige kategorie-wenner in 2023:
- 3rde plek: Hano Lombard, Westend Landgoed, ingeskryf deur Nutribase.
- 2de plek: Pieter Hamman, Berg en Dal Boerdery, ingeskryf deur AFGRI Veevoere.
- 1ste plek: Dewald te Water van die plaas Goedehoop, vir ‘n kuilvoerbaal wat deur hulle maatskappy, Exact Silage, ingeskryf is. Hulle ontvang vir die tweede jaar in ‘n ry goud in hierdie kategorie.
In die hawerkategorie stap ‘n vorige finalis met die louere weg, met nuwe deelnemers in die tweede en derde plekke. Terselfdertyd het een maatskappy twee van die top drie produsente ingeskryf:
- 3de plek: Pierre Jacques-Human van die plaas Goedgelee, ingeskryf deur AFGRI Veevoere.
- 2de plek: PV du Toit van Middelpos Agri, ingeskryf deur Quantum Foods/Nova Feeds.
- 1ste plek: Coenie Basson van die plaas Droëvlei, ingeskryf deur AFGRI Veevoere.
Die mieliekategorie verwelkom weereens ‘n voormalige wenner terug in die eerste plek, asook in die tweede plek:
- 3de plek: Willie du Preez van Vizicor, ingeskryf deur Pannar Saad.
- 2de plek: Hano Lombard van Westend Landgoed, ingeskryf deur Nutribase. Hano en sy span by Westend Landgoed het in 2017, 2018, 2019 en 2021 hierdie kategorie, en die kompetisie in geheel, gewen.
- 1ste plek: Bennie van Greunen van Van Greunen Boerdery in George, wat vanjaar deur Kemin ingeskryf is.
En die titel van algehele wenner en die 2023-kuilvoerkoning, is Bennie van Greunen van Van Greunen Boerdery. Hiermee herhaal hy sy prestasie van 2016, toe hy ook met die louere weggestap het.
Ons wens elke wenner, deelnemer en deelnemende maatskappy baie geluk met hierdie uitsonderlike prestasies en hoop om elkeen weer in 2024 terug te verwelkom. Skaf gerus die Desember-uitgawe van Veeplaas en Stockfarm aan om meer te lees oor die kompetisiedata en -tendense, en lees in Veeplaas en Stockfarm se Januarie-uitgawes oor ons 2023-kuilvoerkoning, Van Greunen Boerdery.
Maak ‘n draai op Plaas TV se YouTube-kanaal om meer te sien oor vanjaar se kompetisie. – Persverklaring, Plaas Media
***
Vir meer inligting oor die 2024 Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie asook borgskappe, kontak Deidré Louw by 066 231 2430 of deidre@plaasmedia.co.za.