Estimated reading time: 3 minutes
Die Stellaland Meatmaster-klub in Noordwes se vyfde jaarlikse produksieveiling was vanjaar ‘n groot sukses in alle opsigte. Hierdie veiling, wat deur Vleissentraal Klerksdorp by Makadu-gholfklub aangebied is, het egter ’n besondere element gehad. Benewens die 103 lotte wat onderskeidelik ramme, ooie en ooie met lammers ingesluit het, is daar ook ’n spesiale lot opgeveil ten bate van Downsindroom SA.
Steyn Fourie, voorsitter van die klub en eienaar van Steolande Meatmasters naby Lichtenburg in die Bospoort-distrik, vertel dat hy en sy vrou, Yolandé, saam met van die klublede hul harte oopgemaak het en Meatmaster-ooie vir die sogenaamde ‘downsindroom-lot’ geskenk het. Hy sê die geregistreerde nie-winsgewende organisasie Down Syndrome SA (DSSA) speel ’n belangrike ondersteuningsrol in hul gesin se lewe.
Hul agtjarige dogter, Yolané, is met downsindroom gebore. Steyn vertel dat hulle verlede jaar ook ’n ‘downsindroom-lot’ tydens hierdie klub se produksieveiling aangebied het. Daar is toe sowat R20 000 ingesamel. Vanjaar is altesaam agt Meatmaster-ooie geskenk vir dié spesiale lot, wat uiteindelik vir R40 000 verkoop is. Die koper was Preston Vos van Arend Meatmasters in Vanderbijlpark.
Groot dankbaarheid en bewusmaking
Steyn sê die besluit om ’n lot vir Down Syndrome SA op te veil, is ’n manier om mense in minder bevoorregte posisies te help om van die nie-winsgewende organisasie se dienste gebruik te maak. Hy benadruk dat hulle met die inisiatief ook bewustheid wil kweek en downsindroom meer onder mense se aandag te bring.
Yolandé sê dat Yolané nog altyd ’n vegter was wanneer dit by haar gesondheid en haar vermoëns kom. Down Syndrome SA speel uit die staanspoor ’n groot ondersteunende rol in haar lewe. Dié organisasie se bystand en ondersteuning in Steyn en Yolandé se soektog na ’n geskikte skool vir Yolané, was ook waardevol. Klein Yolané behaal tans ’n hoë mate van sukses in Laerskool Ottosdal.
Yolandé sê hulle wil bewustheid rondom Downsindroom verhoog, met die boodskap dat elke mens uniek is. Op dié manier wil hulle empatie bevorder en oordeel verminder. Steyn sê daarmee saam is hulle opreg dankbaar vir al die betrokkenes wat tot die sukses van dié insiatief bygedra het.

Goeie veilingspryse
Volgens Steyn is die klub tevrede met die goeie pryse wat op die veiling behaal is. Die Stellaland Meatmaster-klub bestaan uit 20 lede, waarvan 11 lede diere op die veiling aangebied het. Die hoogste prys was vir die Meatmaster-ram, CCS 240184 Dexter (lot 46), van Stafford Collen van die Collen Boerdery by Vryburg. Dié ram is vir R18 000, ook aan Preston Vos, verkoop.
Die hoogste prys vir ’n Meatmaster-ooi was R13 000, terwyl die hoogste prys vir ’n ooi met ‘n lam R10 500 was. Die afslaer was Ruaan Viljoen. Steyn sê die Meatmaster, wat ’n kruising tussen die Dorper- en Damara-rasse is, is bekend vir sy vrugbaarheid, die gemak waarmee ooie lam, ooie se uitstekende moedereienskappe, en sterk kudde-instink. Die goeie bouvorm en bespiering van die Dorper, en die vrugbaarheid en gehardheid van die Damara, maak dit die ideale skaapras om mee te boer. – Christal-Lize Muller, Plaas Media
Vir meer inligting kontak Steyn Fourie by 072 393 7455.

