Waak teen ’n té hoë inname van lupiene

Estimated reading time: 5 minutes

  • Die gebruik van lupiene as wisselbougewas in graanproduksiegebiede, veral in die Wes-Kaap, was ‘n algemene praktyk in Suid-Afrika.
  • Die uitbreek van antraknose by breëblaarlupiene het egter die verbouing daarvan in die Swartland en Suid-Kaap feitlik tot stilstand gebring. Smalblaar-soetlupiene word wel nog op ’n redelike skaal in die Eendekuil-en Sandveldgebied verbou.
  • Hoewel lupiene hoofsaaklik as ‘n alternatiewe proteïenbron tot sojaboon-oliekoek deur beide enkelmaag- (varke, hoenders en volstruise) en herkouerdiere (beeste en skape) gebruik kan word, het dit weens die hoë ruveselinhoud daarvan sekere beperkings as dit by enkelmaagdiere kom.
  • Prof Tertius Brand van die Wes-Kaapse Departement van Landbou sê beide breëblaarlupiene (Lupinus albus) en smalblaarlupiene (L. angustifolius) kan onaanvaarbare hoë vlakke van alkaloïede bevat, wat nadelig vir diere is.
  • Mikotoksiese lupinose, wat deur lewerskade en geelsug gekenmerk word, spruit hoofsaaklik voort uit die inname van soetlupiene wat met Diaporthe toxica besmet is.

Die gebruik van lupiene as wisselbougewas in graanproduksiegebiede, veral in die Wes-Kaap, was ‘n algemene praktyk in Suid-Afrika. Prof Tertius Brand van die Wes-Kaapse Departement van Landbou op Elsenburg, sê tot ongeveer 75 000ha lupiene is in ’n stadium jaarliks in hierdie gebied verbou. Die uitbreek van antraknose by breëblaarlupiene het egter die verbouing daarvan in die Swartland en Suid-Kaap feitlik tot stilstand gebring. Smalblaar-soetlupiene word wel nog op ’n redelike skaal in die Eendekuil-en Sandveldgebied verbou.

Hoewel lupiene hoofsaaklik as ‘n alternatiewe proteïenbron tot sojaboon-oliekoek deur beide enkelmaag- (varke, hoenders en volstruise) en herkouerdiere (beeste en skape) gebruik kan word, het dit weens die hoë ruveselinhoud daarvan sekere beperkings as dit by enkelmaagdiere kom. Prof Brand sê die verlaagde produksiepotensiaal van lupienesaad vir enkelmaagdiere weens die hoë veselinhoud, het gelei tot verdere studies wat bevind het dat ontdopte lupiene beter deur hierdie diere benut word as dié met doppe. Die praktyk van ontdopping het egter nog nie in Suid-Afrika posgevat nie.

Plaaslike studies op Elsenburg het bevind dat soetlupiene wel, met goeie resultate, tot op insluitingsvlakke van ongeveer 20% in die diëte van lammers, braaikuikens en volstruise ingesluit kan word. Bo en behalwe hoë veselvlakke, moet daar egter ook teen ander faktore gewaak word wanneer lupiene gebruik word.

Hoë alkaloïedvlakke

Prof Brand sê beide breëblaarlupiene (Lupinus albus) en smalblaarlupiene (L. angustifolius) kan onaanvaarbare hoë vlakke van alkaloïede bevat, wat nadelig vir diere is. Die saad van die soet smalblaarlupiene (L. luteus) bevat oor die algemeen stabiele en lae vlakke van alkaloïede.

Produsente moet wel versigtig wees wanneer bitterlupiene in die veerantsoen gebruik word want dit bevat hoë-alkaloïedvlakke. Die Australiese lupienebedryf skryf ’n maksimum alkaloïedinhoud van 0,07% in sy graan voor. Die sogenaamde blou bitterlupiene word in ’n geringe mate verbou, maar word nie eintlik in die diëte van veral enkelmaagdiere gebruik nie. Prof Brand sê alkaloïedes is weens die bitterheid daarvan herkenbaar en is toksies teen hoë vlakke.

In ’n artikel oor mikotoksiese lupinose by diere op www.msdvetmanual.com verduidelik Michelle Mastrom dat lupienevergiftiging vanaf die plant direk veroorsaak word deur alkaloïede. As groot hoeveelhede daarvan deur herkouers ingeneem word, kan dit tot metaboliese versteurings lei.

Lupinose-vergiftiging

Mikotoksiese lupinose, wat deur lewerskade en geelsug gekenmerk word, spruit hoofsaaklik voort uit die inname van soetlupiene wat met Diaporthe toxica besmet is. Hierdie swam is ’n fitopatogeen van sekere lupiene wat saprofities op dooie plantreste kan groei en die lewergifstof, lupinose, produseer. ’n Dier word besmet wanneer lupienestoppels, waarop ’n swam veral na reën en in die somer of herfs groei, ingeneem word.

Dit is ’n belangrike siekte in Suid-Afrika en Australië, en is ook al in Nieu-Seeland en Europa aangemeld. Dit kom hoofsaaklik by skape voor, maar beeste is ook vatbaar.

Leer meer oor hoe om mielies vir ‘n veeplaas te verbou hier.

Voorkoming van vergiftiging

Lupinose kan voorkom word deur die gebruik van lupiene-kultivars wat weerstand teen Diaporthe toxica bied. Voermateriaal moet gereeld dopgehou word vir kenmerkende swartvlekswambesmetting, veral nadat dit gereën het.

Wat skaapbestuurspraktyke betref, word aanbeveel dat lupienereste onmiddellik ná oes bewei word. In hierdie geval kan lupienesaad ook aan jong diere gegee word voordat hulle die lupienereste bewei. Waak teen oorbeweiding, en sorg dat die diere toegang tot genoegsame water het. Wees op die uitkyk vir lusteloosheid onder skape wat op hierdie reste wei; dit kan ’n goeie aanduiding wees van die ontwikkeling van mikotoksiese lupinose.

In hierdie stadium is daar geen beskikbare behandeling vir lupinose nie en daarom moet pro-aktief opgetree word deur toegang tot giftige voer te verhoed. Veeartse kan dit ook oorweeg om die diere met vitamien B12 in te spuit om rumenbeweging te stimuleer. Die toediening van sink beskerm skape teen lewerkwale wat deur fomopsiene veroorsaak word. Daarmee saam moet diere wat op groenweiding loop, toegang tot genoeg skadu hê. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak prof Tertius Brand by 021 808 5225 of tertius.brand@westerncape.gov.za.