Monday, February 3, 2025

Uitvoer: Rooivleisprodusente se paspoort tot welvaart

Estimated reading time: 3 minutes

Dit gaan moeilik in die veebedryf en produsente se bydrae tot die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het die afgelope paar jaar stelselmatig gedaal, het Nico Buys, voorsitter van die Vrystaatse RPO (VSRPO), tydens die organisasie se onlangse kongres gesê. “Produsente moet egter aanvaar dat die RPO soos ’n motor se voorruit is. Al sien ’n mens dit nie altyd nie, help dit jou om teen 140km/uur te ry of, in produsente se geval, met minder probleme te boer.”

Louw van Reenen, uitvoerende voorsitter van die Beefmaster-groep, het op sy beurt gesê te min rooivleis word na ander lande uitgevoer. Uitvoer is almal se verantwoordelikheid, nie net voerkrale of abattoirs s’n nie. Uitvoer is die beste uitweg om beter pryse te kry en die rede waarom die prys nie verder geval het nie.

“Suid-Afrika voer tans sowat 40 000 beeste uit, maar om ’n wesenlike verskil in die prys te maak, moet ons sowat 240 000 beeste uitvoer. As ons dit kan regkry, kan produsente tot selfs R11/kg meer vir hul kalwers kry. Boere moet verantwoordelikheid vir hul diere en die naspeurbaarheid daarvan aanvaar, want die oorsese mark wil weet waar die diere vandaan kom, hoe hulle hanteer word, en watter impak jou stelsel op die omgewing het,” het hy gesê.

Lees meer oor die toekoms van die rooivleisbedryf hier.

Beter sekuriteit

Bouwer Haupt, direkteur van die South African Polygraph and Investigation Service (SAPIS), het teenwoordiges ingelig oor nuwe sagteware waarmee boere al hul sekuriteitskameras op een platform kan monitor. Hierdie sagteware het die vermoë om verdagte voertuie regoor die land te volg.

Hy het gesê boere moet versigtig wees oor wie hulle aanstel. Onwettige buitelanders is aan die voorpunt van misdaad in Suid Afrika. Hy het beklemtoon dat sy onderneming daar is om produsente by te staan. Daarom kos hulle sagteware per boerevereniging ‘n nominale bedrag, ongeag hoeveel kameras daardie vereniging het.

Dr Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die RPO, het beklemtoon dat die RPO van boere, vir boere is – dis nie ‘n ‘julle-en-ons’-situasie nie. Die beeld wat produsente, en so ook die RPO, na die res van die land uitstraal, is ongelooflik belangrik vir die toekoms van landbou. Die RPO staan oral vir boere in en gee aan hulle ’n stem, selfs op nasionale vlak. Oor uitvoer het hy gesê dit is nodig om eers ’n stap terug te neem en die basiese dinge reg te kry. “Ons moet eerder praat oor hoe ons by uitvoer gaan uitkom, as om net daaroor te droom.”

Die vraag na rooivleis

Die bekende ekonoom, prof Johan Willemse, het tydens sy voordrag gesê Suid-Afrika se ekonomie lyk tans nie goed nie. “Ons mense is arm. Werkloosheid is hoër as ekonomiese groei – byna ’n death trap. Arm mense wil bekostigbare proteïen hê en rooivleis is nie tans bekostigbaar nie. Die vraag na ons produk is dus laag, en as die vraag laag is, is die produsenteprys laag.”

Hy het gesê uitvoer is noodsaaklik om nog ’n mark te skep. Daar is wel hoop, want dit kan nie veel erger gaan as nou nie. “Met ’n nuwe regering en waar die siklus tans staan, hoop ons dat die ekonomie sal versterk en pryse sal styg.” – Daniel Naudé, Plaas Media

Vir meer inligting oor die Vrystaat RPO, skakel 051 451 2314 of stuur ‘n epos na vrystaatrpo@rpofs.co.za.

Korrekte bewyslewering is belangrik

Estimated reading time: 4 minutes Tydens dissiplinêre verhore en arbitrasieverrigtinge is die werkgewer verantwoordelik om...

As die SAPD weier om klagtes te aanvaar en ondersoeke nie vorder nie

Estimated reading time: 5 minutes Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) word deur die Grondwet van die...

The consequences of not reporting livestock theft

Estimated reading time: 5 minutes South Africa is unique in publishing official livestock theft statistics,...

Predation takes on new dimensions

Estimated reading time: 7 minutes Jackals and caracals remain Karoo livestock producers’ greatest concern, with...