Estimated reading time: 7 minutes
Verandering is noodsaaklik in die rooivleisbedryf. Dit was die kernpunt wat deur verskeie sprekers beklemtoon is tydens ‘n boeredag wat onlangs deur Oranjeriviervoere in Prieska aangebied is.
Al het die sprekers hulle fokus op uiteenlopende elemente van die bedryf gerig, was die noodsaaklikheid vir onmiddellike hervorming ‘n sentrale tema. Die sprekers was dit ook eens dat dié vernuwing by die produsente self moet begin.
Neem die eerste stap
Johan Botha, eienaar van Oranjeriviervoere, het die geleentheid georganiseer met die doel om veral die nuwe geslag produsente toe te rus vir ‘n toekoms in volhoubare veeboerdery. Hy het ‘n beroep op produsente gedoen om die noodsaaklikheid vir verandering in die rooivleiswaardeketting te erken en self die inisiatief vir vernuwing te neem. Sy raad was duidelik: Moenie vir ander wag om die eerste stap te neem nie; wees self die verandering wat jy wil sien.
Volgens hom is die sleutel tot maksimum produktiwiteit die gebruik van die regte gereedskap en die gereelde evaluering van prestasie om te verseker dat dit ooreenstem met die verbruiker se verwagtinge. Hy is ook van mening dat daar ‘n stelsel van belonings moet wees wat produsente vir hul hoëgehalte produkte vergoed.
Kyk Plaas TV se insetsel oor die rooivleisbedryf hier.
Rooivleisprodusente moet ‘n kopskuif maak
Piet Karsten, ‘n gerespekteerde vrugteboer uit die Noord-Kaap, het reeds jare gelede die inisiatief geneem om sy vrugte internasionaal te bemark, wat tot aansienlike sukses gelei het. Hy sien duidelike ooreenkomste tussen die vrugte- en vleisbedrywe. Sy advies aan vleisprodusente is om erkenning te gee aan die hoë gehalte van hul produkte, wat nie net plaaslike erkenning verdien nie, maar ook die potensiaal het om op internasionale markte te presteer.
Dit is egter tyd dat die produsente eienaarskap moet aanvaar vir die produk en anders begin dink oor hul produk en nuwe markte begin ontsluit. Hy glo rooivleisprodusente kan self oorsee gaan om vir hulle markte te skep en hul produkte eerstehands te gaan bemark.
Sy raad was dat rooivleisprodusente meer betrokke moet raak by die bemarking van hul vleis. Hy glo dit gebeur te maklik dat jou produk wegraak in die poel omdat jy nie aggressief bemark nie. In die proses ry swak gehalte op die rug van goeie gehalte en almal kry dieselfde prys.
Die Suid-Afrikaanse vleisprodusent het ’n uitstekende produk en daar is kundige mense beskikbaar wat kan help om daardie produk te verbeter, maar dan is dit noodsaaklik dat produsente meer aggressief bemark, uit hulle foute leer en sorg dat hulle die beste in die mark is.
Goeie finansiële bestuur is die sleutel
Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en -bemarking by FNB, sê 80% van mense wat hul plase verloor, verloor dit nie as gevolg van omstandighede nie, maar eerder as gevolg van swak finansiële bestuur.
Uit sy ervaring het hy gesien dat die top produsente mense is wat anders dink en doen as die res. Sukses in landbou gaan oor goeie finansiële bestuur.
Sy aanbeveling was om nie vasgevang te word in politieke speletjies of ander te blameer vir ongunstige landboutoestande nie. Hy het produsente aangemoedig om eerder self oplossings vir probleme te vind, vooruit te beplan en konserwatief met beskikbare fondse te werk.
Dawie voel grondonteiening is ’n realiteit wat ons nie kan ignoreer nie, maar die Grondwet kan steeds grond beskerm solank dit ’n produktiewe bate is. Hy sê dit gaan nie oor die besit van grond nie, maar wat jy daarmee kan doen.
Naspeurbaarheid is uiters belangrik
Dr Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie, is van mening dat daar ‘n dringende behoefte is aan innovasie in die rooivleisbedryf, met ‘n spesifieke klem op verbeterde naspeurbaarheid. Hy beskou dit as een van die bedryf se grootste uitdagings. Die sporadiese uitbrekings van bek-en-klouseer het ‘n wydverspreide impak omdat die bedryf tans nie oor ‘n doeltreffende naspeurbaarheidstelsel beskik nie.
’n Ander probleem in die bedryf wat dringende aandag moet kry is die feit dat die informele rooivleismark die formele mark oorheers. Dr Maré glo die informele mark moet kleiner word en die enigste manier om dit te bewerkstellig is om opkomende produsente aan die hand te neem en hulle te help om beter marktoegang te kry en hulle sodoende in die formele mark in te trek.
Verbruikers soek konsekwente gehalte
Hendri Truter van Deli-Co het weer die rooivleisbedryf vanuit die verbruiker se perspektief bekyk. Uit sy ervaring verlang verbruikers ’n goeie produk, diens en waarde vir geld. Hulle is bereid om te betaal vir gehalte, maar dit moet konsekwente gehalte wees. Volgens hom is daar ’n afname in die vraag na rooivleis, maar die vraag kan toeneem, wat weer die prys sal laat styg. Hy waarsku dat dit slegs kan gebeur as die gehalte konstant kan bly.
Hy het ook klem gelê op die belangrikheid van naspeurbaarheid. Uit sy ondervinding is dit belangrik om te weet watter produsente konsekwente gehalte lewer. Hy glo produsente kan beter bedingingsmag kry oor pryse as hulle gehalte vleis op ‘n volhoubare wyse kan voorsien.
Produsente moet beplan
Produsente moet ook na hulself kyk. Henning Gericke, ’n bekende sportsielkundige, sê landbouers in Suid-Afrika se harte is reg, maar hulle moet leer om anders te kyk na elke situasie en self besluit wat kan hulle doen om die situasie tot hulle voordeel te verander.
Sy raad is om ’n gereelde mediumtermynplan op te stel om seker te maak hulle is op pad na hul doelwit toe. Hy sê in die sportwêreld word kundige persone gebruik om sportsterre en kampioene te help om hul doelwitte te bereik. Net so is daar kundige mense in die landboubedryf wat gereed staan om produsente te help.
Hou die verbruiker in gedagte
Isak Staats, algemene bestuurder van BKB, was ook deel van die paneelbespreking. Hy het op die wol wat in die skaapbedryf geproduseer word, gefokus. Hy het weereens klem gelê op inligting wat beskikbaar is en produsente aangemoedig om soveel as moontlik kennis op te doen, nie net oor die boerdery nie, maar ook oor die behoefte van die kliënt wat die produk aanskaf. Volgens hom is dit een van die belangrike aspekte in die vernuwing van die bedryf. Maak seker wat die kliënt se behoefte is en produseer daarvolgens.
Produsente wat die geleentheid bygewoon het, het die boodskap duidelik gekry dat boerdery nie meer lyk soos ’n paar dekades gelede nie en diegene wat nie daarby gaan inpas nie, gaan sukkel om die pyp te rook. – Deur Koos du Pisanie, Plaas Media