Estimated reading time: 6 minutes
‘n Werklik ekonomiese Angora- of Merino-plaas word deur twee dinge geken: goeie wol- en bokhaarproduksie, en genoeg aanteelvee. Dit is die beginsels waarop Garth en Elsa Featherstone hul boerdery-aktiwiteite tussen Graaff-Reinet en Aberdeen op Allemanskraal, Zeekoeigat en Buffelsfontein baseer.
Hulle boer op soet-Karooveld met Merino’s as die hoofvertakking, asook Angoras en Angus-beeste. Hulle glo dat voldoende en goeie voeding wat vanaf ‘n jong ouderdom gegee word, ‘n reuse-rol in ‘n dier se produksievermoë speel en dat die tipe diere waarmee hulle boer, in die omgewing moet aard. Tydens Veeplaas se besoek op Allemanskraal vertel Garth meer oor die sleutels tot hul sukses, wat ondersteun word deur ‘n goeie voedingsplan en seleksiemaatstawwe wat produksie en reproduksie waarborg.
Van teling tot bemarking
Die Merino-vertakking bestaan uit gehoringde Merinos waarvan 1 300 kuddediere is en 300 stoetdiere. Dan is daar ook vervangingsdiere. Hulle ander Merino-vertakking is poenskoppe, met 300 kudde- en 130 stoetdiere.
“Die doel van ons Merino-vertakking is om die beste ooie vir eie gebruik op die plaas te hou,” verduidelik Garth. “Ons teel ons eie ramme uit die ooie en koop af en toe stoetramme in. Die kuddes is geslote, wat beteken ons koop nie ooie in nie.” Die surplusdiere wat oor goeie genetika beskik word aan ander telers verkoop.
“Dit is die agtste jaar dat ons surplus Merino-ooie verkoop het. As die pryse vir goedgeteelde ooie nie goed is nie, voeg ons meer waarde toe tot die ooie wat ons wil verkoop, deur hulle by die ramme te sit en daarna as dragtige ooie te verkoop.”
Goeie gesondheidsbestuur
Die Merino-ramme word jaarliks vir vrugbaarheid getoets en ontvang kwartaalliks multivitamiene wat selenium en sink bevat. Die ramme word ook nie na die dekseisoen afgeskeep nie. Die ramlammers word met RFID-oorplaatjies toegerus vir makliker seleksie. Hierdie seleksiebeginsels behels veldaangepastheid, meerlinge wat goed aangepas is in hul omgewing (gewigte word gereeld geneem), en die mikron, skoonopbrengs en gemaksfaktor van die wol. Hand- en oogseleksie word volgens die voorgeskrewe rasstandaarde gedoen.
“Ons het so twee jaar gelede begin om slegs die ramlammers met wol laer as 21 mikron terug te hou. Die res van die ramme met sterker wol, ongeag hul grootte of bouvorm, is uitgeskot. Dit was nie ‘n maklike proses nie, omdat die diere met die fyner wol se bouvorm nie altyd so indrukwekkend is nie,” sê Garth. “Ons het maar oë toegeknyp en dit sal interessant wees om oor ‘n paar jaar te sien hoe die kudde vaar. Ons wil graag sien of die wol wat uit hierdie ramme geteel gaan word, fyner gaan wees sonder om wolgewig en -gehalte in te boet. Ons hoofdoel is om die maksimum aantal lammers te realiseer.”
Trek maar jou ooie voor
Garth het iemand jare gelede hoor sê dat dit belangrik is om die fabriek op die plaas in produksie te hou en goed vir jou ooie te sorg. “Dit help nie jy sit jou ooie in die swak of agterste kampe sonder voldoende kos of beskutting nie. Voeding is een van die belangrikste aspekte as jou mikpunt ‘n ooi is wat haar lammers grootmaak en wol of bokhaar produseer.”
Die veld waarop hulle boer wissel tussen doringboomstande en tipiese Karoo-bossieveld, waarop die veelading gedurende die droër maande verminder word. “Ons veegetalle op die veld is aangepas om konstante goeie produksie te verseker. Ons het ongeveer 80ha lusernweidings en 12ha hawer op Allemanskraal, wat hoofsaaklik deur die Angora- en Merino-ooie met meerlinge as groenvoer benut word.”
Sowat 8 000 tot 12 000 bale voer word jaarliks daaruit geproduseer om die lammers te help grootmaak en om as ‘n droogtebuffer te dien. Garth het onlangs ‘n voermenger aangeskaf en sê dit maak ‘n groot verskil om die kos self te meng en voerkoste af te bring.
Merino-paring en lambestuur
Die Merino-ooilammers en Angora-bokooitjies moet so gou as moontlik uitgroei om hul volle potensiaal te bereik. Die Merino-ooie word vanaf November vir 35 dae in die veld teen ‘n ramkoers van 25% gepaar. Die ooie word 60 dae na paring geskandeer en dié met meerlinge word, indien nodig, met ekstra voeding van die eenlingooie geskei. Die Merino-ooie wat droog is word weer gepaar en dan as dragtige ooie bemark.
Die skanderingsyfers bevestig gewoonlik 90% ooie as dragtig met ‘n hoë persentasie tweelinge. Die ooie met eenlinge lam ekstensief in troppe van 150 in omheinde veldkampe wat ongediertes uithou. Die meerlingooie lam weer in groepe van sowat 30 in kleiner kampies naby die huis, en kry ‘n rantsoen van lusern en Maxiwol wat volgens die ruvoergehalte uitgewerk word.
Kruipvoeding word vanaf ouderdom twee weke vir die lammers en kleinbokkies gegee. Dit sluit SS200 in en word in ‘n rantsoen deur Voermol se adviseurs geformuleer. Die rantsoen word aanvanklik baie flou geformuleer en aangepas namate die lammers groei. Garth sê koksidiose is gewoonlik ‘n probleem op lusernweidings. Dit wil egter voorkom asof die byvoeging van Voerdokter en SS200 help om dit te voorkom. Hulle neem gereelde mismonsters en die afgelope twee jaar was daar geen probleme met koksidiose op die lande nie.
Die meerling Merino-lammers word op die lusernweidings gespeen. Garth sê ‘n dier groei die vinnigste in die eerste vier maande van hul leeftyd. “As ‘n lam in hierdie tydperk voldoende voeding kry, sal sy dit jaar op jaar dubbel en dwars teruggee in die vorm van reproduksie en goeie wol- of bokhaarproduksie. Ons sit nie die Merino-hamellammers se sterte af nie en kastreer hulle ook nie; die doel is om hulle so gou as moontlik te bemark.”
Lees meer oor Waardetoevoeging maak nuwe deure oop.
Angora-paring en lambestuur
Die Angora-ooie word vanaf 20 Maart vir 35 dae in die veld teen ‘n koers van 25% ramme gepaar. Nes die Merino’s word hulle 60 dae later geskandeer. Die Angora-ooie met eenlinge word in troppe van 50 met byvoeding op die weidings gesit en die meerling-ooie lam in groepe van 25 op die weidings, waar byvoeding volgens die ruvoergehalte uitgewerk word. Al die kleinbokkies word op die lusernweidings gespeen (die rammetjies en ooibokkies word apart gehou) en in gewigsgroepe ingedeel. Die kapaterbokkies word op ses maande geskeer en dan bemark.
Garth is vasbeslote dat bykomende voeding hul boerdery in staat stel om meer lammers te bemark, wat opmaak vir die ekstra voedingsuitgawes. “Dit stel ons ook in staat om meer diere te selekteer en om ou ooie met ‘n swaarder karkas te bemark.” – Carin Venter, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Garth Featherstone by 082 574 2040 of e-pos garthfeather@gmail.com, of Elsa Featherstone by 082 306 6385 of e-pos elsa@jabama.co.za


