Voer op pad na kurkdroë Boesmanland

Estimated reading time: 3 minutes

Terwyl swaar reënbuie die afgelope tyd oor groot dele van Suid-Afrika neergesak het, het daar nog geen betekenisvolle reën in Williston en die omliggende gebiede geval nie. Die ernstige droogte het reeds verwoestende gevolge vir boere, hul gesinne en plaaswerkers gehad. AfriForum en Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het daarom 12 ton voer vandeesweek aangekoop, wat binnekort aan boere in hierdie omgewing afgelewer gaan word.

Droogte lei tot werksverlies

Die voortslepende droogte het reeds talle boere gedwing om hul arbeidskoste drasties te sny. Waar ’n plaas tipies vier werkers sou aanstel, kan baie boere nou slegs een werker behou en selfs dié werker werk nie meer voltyds nie.

“Die boere is in ’n ernstige krisis gedompel wat deur erge droogte meegebring is. Hul vee vrek, hul werkers is hul lewensbestaan kwyt en daar is eenvoudig niks meer om uit te deel nie. AfriForum kon nie toekyk hoe hierdie gemeenskappe stilweg onder ’n droogte heengaan nie,” sê Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis.

Ramp versoek

AfriForum het reeds aan die Noord-Kaapse rampbestuursentrum geskryf met ’n versoek dat Williston tot ’n rampgebied verklaar word sodat hulp vinnig ontsluit kan word. Tot op hede is geen antwoord ontvang nie.

 “Dit laat die boere op ’n kritieke tyd in die steek en dui op ’n ernstige gebrek aan politieke wil om landbougemeenskappe in nood te ondersteun. Dit beteken dat die regering nie net sy rug op boere draai nie, maar ook op plaaswerkers en hul families wat sonder ’n inkomste moet klaarkom. Die sosio-ekonomiese impak op die gemeenskap is reeds sigbaar en die situasie versleg met elke week wat sonder reën verbygaan,” sê Cooks.

 “Wat in Boesmanland plaasvind is nie meer net ’n normale droë siklus nie, dit is ’n volslae bestaanskrisis. Familieboere het reeds hul spaargeld, hul voerreserwes en baie van hul kudde verloor. Sonder gerigte noodbystand gaan ons nie net boerderye verloor nie, maar hele gemeenskappe, skole en plaaswerkers se inkomste,” sê Iné Bester, operasionele bestuurder by Saai.

 Noodvoer-strategie

“Saai koördineer saam met ons vennote die droogtehulp op grondvlak om seker te maak dat noodvoer daar waar dit die nodigste is, uitkom. Ons het egter die publiek se samewerking nodig om hierdie boere deur die volgende maande te kry.”

AfriForum en Saai, in samewerking met Manna vir die Boere, doen ’n dringende beroep op Suid-Afrikaners om die boere in hierdie droogte te ondersteun. Donasies kan aan AfriForum se noodfonds gemaak word:

Bank:    Eerste Nasionale Bank (FNB)

Rekeninghouer: AfriForum MSW

Takkode: 261550

Rekeningnommer: 623 498 98 398

Verwysing: Droogte

– Saai-persverklaring verwerk deur Plaas Media

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...

AFMA Matrix April 2026 now available

In the April 2026 edition of AFMA Matrix, the spotlight falls on the newly...