Estimated reading time: 7 minutes
- Vervangingsverse dra die toekomstige sukses van die suiwelbedryf op hul skouers.
- Met vervangingsverse, moet mens die eindpunt in gedagte begin as mens vervangingsverse doeltreffend wil grootmaak.
- Die doel moet wees om verse ekonomies groot te maak sodat hulle liggaamsgrootte en kondisie voldoende is en hulle dan op ’n redelike ouderdom kan kalf en groot volumes hoë-gehalte melk in die eerste laktasie sal produseer.
- Debbie Odell van Bovasol lys vyf pilare van kalfgrootmaak, naamlik biesmelk, higiëne, kalorieë, gemak en konsekwentheid.
- Die doelwit is dat die kalf op ouderdom 15 maande 55% van volwasse liggaamsgewig bereik.
Vervangingsverse dra die toekomstige sukses van die suiwelbedryf op hul skouers. Dit is dus vanselfsprekend dat hulle die aandag moet kry wat hulle verdien. Volgens Debbie Odell van die maatskappy Bovasol in Mooirivier in KwaZulu-Natal, moet ’n mens met die eindpunt in gedagte begin as jy vervangingsverse doeltreffend wil grootmaak.
Die doel, sê sy, moet wees om jou verse ekonomies groot te maak sodat hulle liggaamsgrootte en kondisie voldoende is en hulle dan op ’n redelike ouderdom kan kalf en groot volumes hoë-gehalte melk in die eerste laktasie sal produseer.
“Die ideaal,” sê sy, “moet wees dat die vers haar eerste kalf so na as moontlik aan 24 maande produseer en dat sy groot hoeveelhede melk van hoë gehalte oor soveel as moontlik laktasies sal produseer. Dit is egter meer wenslik om ’n goeduitgegroeide vers te hê wat effens ouer kalf as een wat op 24 maande kalf, maar nog onderontwikkeld is. Die duimreël is dat verse teen 82% van volwasse liggaamsgewig moet kalf.”
Debbie lys vyf pilare van kalfgrootmaak, naamlik biesmelk, higiëne, kalorieë, gemak en konsekwentheid.
Biesmelk
Die eerste melk na geboorte bevat immunoglobuliene, vet, minerale en biologies-aktiewe proteïene. Die inname van genoeg biesmelk binne die eerste 12 uur na geboorte sal bepaal of die kalf gesond en sterk sal wees of vir die res van haar lewe swak sal presteer. Genoeg goeie gehalte kolostrum kan die verskil tussen lewe en dood beteken.
“ ’n Kalf behoort ongeveer 5% van haar liggaamsgewig se biesmelk binne die eerste vier uur na geboorte in te neem, en tussen 10 en 12% binne agt uur na geboorte.”
Kolostrumgehalte, volgens Debbie, hang af van die inhoud van die immunoglobuliene in die melk. Dit is ook waar dat verse swakker gehalte biesmelk as ouer koeie sal hê. Dit is dus raadsaam om goeie gehalte biesmelk te vries en as aanvulling vir kalwers te gebruik. Biesmelk kan vir sewe dae in die yskas of vir een jaar in die vrieskas gestoor word.
Higiëne
“Dis eenvoudig,” sê Debbie. “Hoe beter die higiëne, hoe laer die risiko vir siektes en immuunstelselstres. Met elke stap van die kalfgrootmaakproses moet aandag gegee word aan skoonmaak. Of dit nou die melkemmer, die houers waaruit die kalwers vreet of drink of die melktiete is – alles moet ná elke siklus skoongemaak word om patogeenbesmetting so laag as moontlik te hou en suksesvolle grootmaak te verseker.”
’n Goed-geïmplementeerde higiënebestuursplan kan help om kalwers se gesondheid voorkomend te beskerm deur die patogeniese bakterielading laag te hou en infeksiekettings te onderbreek.
Kalorieë
Kalwers moet genoeg voedingstowwe kry om hul geboortegewig te kan verdubbel tydens speen. Hou in gedagte dat die voerdoeltreffendheid van ’n kalf op sy hoogste is tydens die melkvoedingsperiode. ’n Kalf sal ongeveer 700g melkpoeier tesame met ad lib-kalfaanvangsmeel nodig hê om die teikengroeitempo te bereik.
Daar is baie faktore wat die voeromsetdoeltreffendheid van jong kalwers beïnvloed, sê Debbie. Hierdie faktore sluit in die gehalte van die voer, bestanddele, hoeveelheid, verteerbaarheid, gemak, omgewing, temperatuur, ventilasie en siektedruk.
Lees meer oor die voeding en bestuur vir die uitgroei van verse.
Gemak
Kalfbehuising moet skoon, gemaklik en termoneutraal wees (15 tot 20°C). ’n Trekvrye en goed geventileerde omgewing is die eerste stap na gemak vir jong diere. Die voorkoming van vinnige temperatuurskommelings sal jong diere toelaat om konsekwentheid en gesondheid te handhaaf. Die verskaffing van ‘n goeie laag beddegoed sal hulle ook in staat stel om hul liggaamstemperatuur beter te reguleer en hitte te handhaaf. In die proses sal hul energie-onderhoudsvereistes verminder en voedingstowwe beter tot groei kan bydra.
Groepbehuising kan gemak verhoog deurdat dit sosialisering toelaat, meer spasie per kalf bied en help met vordering tot en met speen, aangesien die positiewe diere-interaksie ook voer- en waterinname bevorder.
Konsekwentheid
Kalwers vereis konsekwente voedings- en hanteringsroetines. Hulle moet elke dag op dieselfde tyd gevoer word en die samestelling van die voer moet elke dag dieselfde wees. “Dwing voertye af, weeg jou melkvervanger om seker te maak die konsentrasie is reg, en volg die menginstruksies vir temperatuur en konsentrasie.
“Maak seker dat die melkvervanger teen ’n temperatuur so na as moontlik aan 38°C gelewer word, met minimale daaglikse variasie vir optimale smaaklikheid en vertering.”
Rumenontwikkeling
By enige volwasse herkouer is rumendoeltreffendheid die sleutel tot haar leeftyddoeltreffendheid. Dit is dus van kritieke belang dat die behoorlike ontwikkeling van die rumen altyd in die melkprodusent se agterkop bly.
Vir die eerste twee weke van haar lewe is die kalf ’n monogastriese of enkelmaagdier, wat slegs die abomasum gebruik om die melk of melkvervanger te verteer. Die abomasum stel verteringsensieme vry om vette, koolhidrate en proteïene af te breek. Die kalf se energievereistes word bevredig deur die absorpsie van glukose, aminosure en vetsure uit die abomasum.
Wanneer die kalf suip, gaan die melk deur die slukdermgroef oor die rumen na die abomasum. Die abomasum maak 60% van ’n pasgebore kalf se penskapasiteit uit. Teen die tyd dat die kalf drie tot vier maande oud is, maak die abomasum 20% van die kapasiteit uit, en soos die dier volwasse word, krimp dit tot slegs 8% van die penskapasiteit.
Die oorgangsfase (wat die skuif vanaf die voorherkouer- na herkouerfase dek) vind plaas tussen ouderdom vier en agt weke, wanneer die rumen meeste van die voerverteringswerk begin oorneem. Wanneer ’n kalf water en aanvangskonsentrate verbruik, word bakteriese fermentasie in die rumen geïnisieer. Dit genereer groot hoeveelhede vlugtige vetsure in die vorms van asetaat, butiraat en propionaat. Hierdie produksie van vlugtige vetsure is verantwoordelik vir vinnige rumenontwikkeling.
Die tyd wat dit neem om van slegs die abomasum oor te skakel na die doeltreffende benutting van al vier pense, hang af van die tipe kos wat gevoer word. As melk vir ‘n lang tydperk vrylik beskikbaar is, sal die kalf ’n klein aptyt vir droë voere hê en rumenontwikkeling sal stadig plaasvind. Indien die voerbestuur die kalf aanmoedig om vaste voer te eet, sal rumenontwikkeling verbeter en die kalf haar afhanklikheid van vloeibare melk as ’n bron van noodsaaklike voedingstowwe verminder.
Speen
Wanneer die kalf vir vyf opeenvolgende dae 1kg aanvangskonsentraat per dag ingeneem het, is dit tyd om die speenproses te begin deur melk geleidelik oor ’n tydperk van twee weke te verwyder. Dit gee die kalf tyd om by die verminderde melk aan te pas en verhoog haar kragvoerinname dienooreenkomstig. Voer die aanvangskonsentraat ná speen teen 2,5 tot 3kg per dag.
Na-speen
Daar is spesifieke maatstawwe wat gebruik word om te bepaal of die kalf se ontwikkeling op koers is. Die doelwit is dat die kalf op ouderdom 15 maande 55% van volwasse liggaamsgewig bereik. Kalorieë is later in die ontwikkeling van die vers van uiterste belang. Te veel energie in die na-speen dieet kan tot vetterige uier lei, wat ’n nadelige uitwerking sal hê op die vers se vermoë om ’n produktiewe melkproduseerder te word.
Goeie gehalte voer is noodsaaklik vir genoeg energie sodat die dier op die teiken kan bly in haar ontwikkeling tot ’n produktiewe melkkoei. Tydens hierdie fase is die proteïenvereistes hoog, relatief tot energiebehoeftes. Versdiëte moet tussen 16 en 18% proteïen bevat.
“Groeiende diere,” waarsku Debbie, “moet nooit te vet wees nie. ’n Liggaamskondisietelling van 2,5 tot 3 is die ideaal. Oorvet diere word geassosieer met ’n potensiële daling in melkproduksie en verhoogde metaboliese probleme tydens kalwing. Vir die groter melkrasse is ’n konstante gemiddelde daaglikse toename van 800g ideaal.”
Lees meer oor die gesondheid van eerstekalfverse.
Voeding na paring
Nadat die vers teen ongeveer 55 tot 60% van volwasse liggaamsgewig gepaar is (Tabel 1), moet die bereiking van ’n konsekwente gemiddelde daaglikse toename die mikpunt bly. In hierdie stadium kan die meeste van haar energie- en proteïenbehoeftes (13 tot14%) met goeie gehalte voer voorsien word.
Tabel 1: Gewigsverspreiding oor verskillende ouderdomme
Ouderdom | % volwasse gewig | Gewig (gemiddelde Holstein) | Gewig (gemiddelde Jersey) |
2 maande | 11-12 % | 80 kg | 52 kg |
6 maande | 30 % | 180 kg | 130 kg |
9 maande | 40 % | 260 kg | 174 kg |
Paring | 55-60 % | 400 kg | 265 kg |
Voorkalwing | 90 % | 630 kg | 395 kg |
Dit gebeur dikwels, sluit Debbie af, dat verse op swak-gehalte weidings op die plaas gesit word en daar van hulle vergeet word totdat kalftyd aanbreek. “Hierdie verse is die toekoms van jou onderneming,” beklemtoon sy. “Hulle moet goed gevoer word en hulle kan nie vergete bly nie.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Debbie Odell by 082 374 4502.