Antibiotika is ’n geneesmiddel wat skadelike bakterieë in mense en diere kan doodmaak of die groei daarvan vertraag. Dié handige geneesmiddel word wêreldwyd ingespan om dieregesondheid en veeproduksie te verseker. Juis daarom hang die behoud van die lewendehawebedryf, sowel as voedselsekerheid en ’n veilige voedselketting vir menslike gebruik, in ’n groot mate af van die verantwoordelike gebruik van antibiotika.
Antibiotika se ontstaan
Antibiotika is toevallig in 1928 deur ’n Skotse bakterioloog, dr Alexander Fleming, ontdek. Ongelukkig was dit net ’n paar jaar te laat vir die soldate wat in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het – nie op die slagveld nie, maar as gevolg van infeksie.
Die ontdekking daarvan het tot grootskaalse navorsing gelei en gedurende die Tweede Wêreldoorlog is antibiotika vir terapeutiese doeleindes op diere aangewend, voor dit in die latere oorlogjare ook suksesvol op mense gebruik is.
Die vernaamste doelwitte vir die verantwoordelike gebruik van antibiotika vir mens en dier, is om:
- Die doeltreffende werking van antibiotika te verseker.
- Te voorkom dat weerstandige bakterieë tussen diere, of tussen diere en mense, beland.
- Te verseker dat antibiotikareste nie na die voedselketting oorgedra word nie.
Wat is antibiotiese weerstand?
Antibiotiese weerstand is die vermoë van bakterieë om behandeling met ’n antibiotikum te weerstaan. Ongelukkig het antibiotiese weerstand regoor die wêreld, insluitende Afrika, oor die jare toegeneem. Die algemeenste rede daarvoor is oormatige of onverantwoordelike gebruik wat veroorsaak dat bakterieë onder druk muteer of beweeglike weerstandsgene van weerstandige bakterieë absorbeer, om die effekte van antibiotika te weerstaan.
Volgens dr Moritz van Vuuren, emeritus professor van mikrobiologie, het wêreldwye aksies om weerstand teen antibiotika aan te spreek, nog nie die skaal van die bedreiging geëwenaar nie en dit is dringend nodig dat bewustheid moet oorgaan tot aksie. Hy glo dat die vrye beskikbaarheid van antibiotika in die meeste lande in Afrika die resultaat is van ’n gebrek aan regulatoriese beheer en die afdwingbaarheid van regulasies wat middels beheer.
Hy glo ook dat antibiotikaweerstand ’n sosiale gedragsprobleem is en nie soseer ’n probleem van net een sektor van die samelewing nie. Op grond van hierdie oogpunt stel hy voor dat veeartse en produsente gedragsveranderinge maak ten opsigte van die voorskryf en gebruik van antibiotika in ooreenstemming met die aanbevelings van die Wêreldveeartsvereniging (WVA), naamlik om antibiotika waar nodig, maar so weinig as moontlik, aan te wend vir die doel van dierewelsyn en voedselsekuriteit.
Beskikbaarheid en oorgebruik
Antibiotika is tans wettig oor die toonbank beskikbaar en dit geld ook vir Suid-Afrika, waar ’n groot aantal antibiotiese produkte geregistreer is onder die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels (Wet 36 van 1947).
Dr Van Vuuren wys daarop dat middels wat oor die toonbank beskikbaar is, hulself leen tot oormatige gebruik op plase waar biosekuriteit of veeproduksiebestuurspraktyke nie verbeter het nie. Dit lei tot die toenemende oordrag van patogene tussen plase, wat dan weer deur die voortgesette gebruik van antibiotika aangespreek word.
Die situasie is ook van toepassing op swak sanitêre en sosio-ekonomiese toestande, wat bevorderlik is vir die ontwikkeling van weerstand.
“Daar is gewoonlik onder sulke omstandighede ’n ryk sop van bakterieë wat ideaal is vir die uitruil van weerstandige organismes en hul oordraagbare gene. Sodra weerstand ontstaan het, versnel dit in bakteriese populasies deur die oormatige of onverantwoordelike gebruik van antibiotika. Dit is dus so duidelik soos daglig dat almal in die gemeenskap minder antibiotika moet gebruik, en slegs wanneer dit werklik nodig is. Dit sal bydra tot die bewaring van doeltreffende antibiotika vir situasies van ware nood.”
Toekomsgerigte maatreëls
Een van die mikpunte van die drieledige alliansie tussen die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE), die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) en die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO), is veeartsenykundige toesig oor antibiotika. Dit behels by implikasie die vereiste dat voorskrifte vir, en die beskikbaarstelling van antibiotika wat gebruik word vir diereversorging, deur veeartse en paraveterinêre personeel verskaf moet word.
Dr Van Vuuren beklemtoon dat daar wel begrip is vir die feit dat die dienste van veeartse in baie lande, veral in landelike gebiede, onvoldoende of selfs afwesig mag wees.
“Ons voorsien nietemin dat hierdie tekortkoming ten minste gedeeltelik oorkom kan word, onder andere deur middel van verdere opleiding en bemagtiging van paraveterinêre personeel in landelike gebiede, soos dieregesondheidstegnici wat magtiging kan kry om geselekteerde antibiotika te verskaf. Enkele produkte sal op die vrye mark beskikbaar bly vir noodgevalle.”
Biosekuriteitsbeplanning
Hoe verminder ’n mens die behoefte aan antibiotika in diereversorging? Dr Van Vuuren glo die antwoord lê daarin om die gesondheid van diere te verbeter met optimale higiëne op die plaas, korrekte voeding en toegang tot skoon water. Dit behels ’n reeks baie belangrike aktiwiteite waarvan infeksiebeheer die heel belangrikste is.
“Strategieë vir infeksiebeheer sluit in kwarantyn en die toets van nuut ingekoopte diere, besoekersbeheer op die plaas, goeie heinings wat behoorlik onderhou word, ontsmetting van afleweringsvoertuie, optimale inentingsprogramme en vele meer. Hierdie strategieë behoort elkeen aangespreek te word in ’n deeglik beplande biosekuriteitsprogram vir ’n boerdery-eenheid.”
Hy voeg by dat dit wel moontlik is om minder antibiotika te gebruik indien produsente sou fokus op die maatreëls wat die oordrag van weerstand beperk. Dit sluit in die navolging van die bestaande teenmaatreëls vir onmiddellike aksie in diereversorging om antibiotiese weerstand te verminder.
Beperk bakteriese verspreiding
Wat kan daar op ’n daaglikse basis gedoen word om die verspreiding van bakteriese infeksies op die plaas te voorkom? Algemene riglyne sluit in die ontwikkeling en behoud van ’n standaard vir goeie higiëne wat deur inwoners, werkers en besoekers op die plaas nagekom moet word.
Wanneer daar met siek diere gewerk word, moet mense hulle hande gereeld met ’n goeie ontsmettingsmiddel was. Weggooibare handskoene kan gebruik word wanneer daar met diereweefsel of afskeidings gewerk word. Vloere en toerusting, asook lappe en moppe, moet altyd so gou as moontlik met warm water en ’n antiseptiese middel gereinig word nadat daar met siek diere gewerk is.
Verstandige antibiotikagebruik
Praktiese wenke vir die verantwoordelike gebruik van antibiotika sluit die volgende in:
- Voorkom die onnodige gebruik van antibiotika deur byvoorbeeld kleiner wonde te behandel en skoon te hou sonder om antibiotika te gebruik.
- Isoleer siek diere en hou rekord van dié wat behoorlik behandel is.
- Weeg diere wat behandel moet word (indien moontlik) sodat die korrekte dosis volgens gewig geadministreer kan word.
- Vergewis jouself van die inligting van ’n produk wat jy wil gebruik en maak seker dit is geregistreer vir die spesifieke spesie wat jy teiken (skape, beeste, varke) sowel as ’n spesifieke groep diere (bulle, dragtige koeie, ensovoorts).
- Maak seker jy weet hoe die produk toegedien moet word, byvoorbeeld onder die huid of binnespiers.
- Volg die voorgeskrewe intervalle, byvoorbeeld een maal per dag of weekliks. Indien ’n opvolgdosis nodig is, maak seker dat dit op die regte tyd toegedien word.
- Te veel hitte kan die doeltreffendheid van ’n produk beïnvloed. Belê dus in ’n minimum-maksimum termometer sodat die produk teen die korrekte temperatuur gestoor kan word.
- Oorblywende antibiotika in melk of vleis is ’n groot gevaar vir mense met antibiotika-allergieë. Hou dus streng by die voorgeskrewe onttrekkingstydperk vir ’n spesifieke produk voordat ’n dier geslag word of die melk vir menslike gebruik aangewend word.
- Antibiotiese residu in dierlike produkte kan bydra tot die ontwikkeling van weerstand indien mense gereeld daaraan blootgestel word.
- Luister na jou veearts se raad. Oningeligte besluite en aanwending kan die doeltreffendheid van die antibiotika verlaag.
- Produkte wat vir dieregebruik geregistreer is, kan gevaarlik wees indien jy jouself per ongeluk daarmee sou inspuit.
- Vernietig produkte volgens die vervaardiger se instruksies indien dit die vervaldatum bereik het.
- Dit is belangrik om ’n doelmatige pes- en insekbeheerprogram te volg, omdat bakterieë maklik deur vlieë, muise en rotte versprei kan word.
- Raadpleeg jou veearts vir korrekte diagnoses en onthou dat antibiotika slegs doeltreffend is teen bakterieë, nié virusse nie.
In die meeste lande word die grootste hoeveelheid antibiotika wat vir dieredoeleindes gebruik word, in voedselproduserende diere gebruik. In Suid-Afrika het ’n gepubliseerde studie (Eagar et al., 2012) getoon dat 80% van die antibiotika wat vir diere gebruik word, in die voer en water van voedselproduserende diere gebruik word (68% in voer en 12% in drinkwater). Die oorblywende 20% word opgemaak uit inspuitbare antibiotika, intra-uierprodukte en produkte wat oppervlakkig aangewend word.
Dr Moritz van Vuuren is direkteur van die Voedselveiligheid en -sekuriteitsportefeulje van die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad en lid van die Antimikrobiale Weerstandswerkgroep van die OIE. Vir meer inligting of bronverwysings, kontak hom by 072 444 1182 of moritz@icon.co.za. – Carin Venter en Izak Hofmeyr, Veeplaas