Estimated reading time: 3 minutes

Plaas Media het aan die begin van 2022 ’n nuwe projek van stapel gestuur, in samewerking met spesialis agri-konsultant, dr Louis du Pisani, ’n kundige op die gebied van veldweiding, lewendehawe en boerdery-ekonomie.

Hierdie projek, die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur, het ten doel om veeprodusente te identifiseer wat klimaatslim boerderypraktyke op hul plase implementeer en wat passievol is oor die bewaring van hul omgewing en hulpbronne. Dit is ook individue wat bereid is om hul kennis oor te dra en ander veeprodusente wat hierdie selfde passie vir hul omgewing deel, touwys te maak om hierdie praktyke ook op hul eie plase te implementeer.

Lees die eerste van die reeks Veeplaas-artikels oor die onderwerp.

Die deelnemers moes ’n vraelys op www.agriorbit.com voltooi wat hul boerderypraktyke vanuit sewe hoeke oorweeg het, naamlik veldbestuur, kuddebestuur, bestuur van kaal grond, erosie en bosindringing, droogtebestuur, finansiële bestuur, en kennis oor klimaatsverandering. Die deelnemers se antwoorde is op ’n skaal van een tot tien beoordeel, die antwoorde sowel as die puntetellings is oorweeg, en op grond daarvan is die finaliste gekies.

Dr Du Pisani sal eersdaags die plase van die finaliste besoek vir kontrolering en om die deelnemers se klimaatslim boerderypraktyke van nader te beskou.

Na afloop van die plaasbesoeke, sal die 2022 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur aangewys word. Nie net is ’n handige kontantprys vir ons wenner beskore nie, maar hy of sy sal ook later vanjaar ’n boeredag op hul plaas aanbied, waartydens hulle hul kennis en praktyke met ander deelnemers en produsente wat meer oor hierdie praktyke wil leer, kan deel. Borge sal ook ’n kans kry om met die deelnemers en ander produsente te skakel, en hul passie vir klimaatslim boerdery te deel.

Vanjaar se trotse borge

Vanjaar se borge verdien elk ’n groot applous vir hul toewyding aan klimaatslim boerdery in Suid-Afrika. Hou Plaas TV dop in die komende maande vir onderhoude met hierdie borge en om meer te leer oor hul rol in die projek, hul besigheidspraktyke en wat hulle doen om die stryd teen klimaatsverandering te veg.

Ons borge vir 2022 is Nutri Feeds, Pioneer, Zoetis, Nedbank en Metos SA.

Ontmoet ons klimaatslim boere

In ’n onderhoud met Plaas TV, het dr Du Pisani verduidelik wat die finaliste van die ander inskrywings onderskei het en op watter gebiede hulle uitblink. “Ek was beïndruk met al die slim en innoverende strategieë en praktyke wat die finaliste gebruik om die uitwerking van ’n hoogs veranderlike klimaat te versag, asook die manier waarop hulle elke druppel reënwater laat tel. Dit is beslis ’n strawwe kompetisie, en dit gaan ’n uitdaging wees om die uiteindelike wenner te kies.”

Ons finaliste vir die eerste Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-toekenning, in geen spesifieke volgorde nie, is:

  • Matthew Morgan, Tarkastad.
  • Stefan Erasmus, Middelburg.
  • James Faber, Barkly Wes.
  • Willem Storm, Olifantshoek.

Vir die aankondiging oor vanjaar se finaliste, kyk die video hier:

Vir meer inligting oor die kompetisie, 2023-inskrywings, borgskappe of ander navrae, kontak Deidré Louw by 066 231 2430 of epos deidre@plaasmedia.co.za.