Estimated reading time: 3 minutes
In die Januarie-uitgawe van Veeplaas fokus ons op kuilvoer en die rol wat dit in suksesvolle boerdery speel. Produsente kan in hierdie uitgawe ook uitsien na praktiese wenke oor volhoubare veldbestuur in die Kalahari, teelstrategieë vir eenvormige en gesonde Boerbokke, en doeltreffende inentingsprogramme vir beeste en skape – alles wat nodig is om ‘n plaas produktief en gesond te hou.
2025 Kuilvoerkompetisie: Nat seisoen, topgehalte kuilvoer
Die twaalfde Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie is weer met groot sukses deur Plaas Media aangebied. Die grootste uitdaging van die 2025-kompetisie was, interessant genoeg, die teenoorgestelde van 2024 se droogte, naamlik te veel reën gedurende die kuilvoeroesseisoen wat die proses vir verskeie produsente bemoeilik het. Richardt Venter, ‘n professionele veekundige en kuilvoerkonsultant, gee terugvoer hieroor.
Abattoirs: Onsigbare hartklop van vleisveiligheid
Die vleiswaardeketting bestaan uit verskeie rolspelers wat in simbiose werk om vertroue in produsente se produkte te handhaaf, terwyl verbruikers die gemoedsrus het dat hulle hul Suid-Afrikaanse vleistrollie propvol gesondheid na die kasregister kan stoot. Hierdie gemoedsrus is te danke aan die werk wat Suid-Afrika se abattoirs agter die skerms verrig om te verseker dat vleis so veilig as moontlik is. Wat kan egter as veilige vleis beskou word? Lees in hierdie uitgawe meer hieroor.
Bosverdigting in die Kalahari-duineveld
Die Kalahari het sewe hoofplantegroeitipes waarvan slegs twee in die duineveld voorkom, naamlik die doringrige en die struikagtige Kalahari-duinebosveld. Die duineveld lyk op die oog af tydloos en onwrikbaar, maar subtiele veranderinge in plantegroei, reënval en weidingsdruk vertel ’n ander storie. Van bosverdigting en verdwynende grasse tot uitdagings vir volhoubare boerdery – hierdie artikel delf in die kragte wat die Kalahari se veld vorm, en wat produsente móét verstaan om dit te beskerm.
Boerbokbestuur (deel 4): Paring
Boerbokboerdery wen vinnig veld in Suid-Afrika en talle produsente ondersoek dit as ‘n ekstra vertakking. Ilse Lombaard, ’n gesoute Boerbokteler in die Vrede-omgewing, se raad aan produsente is eenvoudig: bly in dieselfde bloedlyn. In die vierde deel van die Boerbokreeks deel sy haar praktiese insigte oor teelbesluite, voorbereiding vir paring en bestuur wat eenvormigheid en volhoubare sukses bevorder.
Lees die vorige artikel in hierdie reeks hier.
Die waarde van inentingsprogramme vir beeste en skape
Voorkoming is beter as genesing, veral op die plaas. Dr Paul Reynolds, ‘n veearts by die Warden- en Vrede-dierehospitale, bied in hierdie uitgawe van Veeplaas generiese inentingsprogramme vir beeste en skape. Van klostridiale siektes tot insekoorgedraagde siektes, ’n doeltreffende program kan jou diere se immuniteit verbeter, arbeidskoste verminder en selfs jou boerdery se wins ‘n hupstoot gee.
Kry jou Januarie 2026-uitgawe van Veeplaas vandag nog by jou naaste kleinhandelaar of maak seker dat jy daarop inteken. Veeplaas is as ’n interaktiewe blaaiboek by https://digimags.agriorbit.com/books/Veeplaas-Januarie-2026_digimag/ beskikbaar en kan ook by www.magzter.com aangekoop word. Kontak Beauty Mthombeni by 064 890 6941 om in te teken op die PDF-weergawe of hardekopie.