Estimated reading time: 9 minutes
Vanjaar se SA Stamboek Trailblazer-geleentheid in Bloemfontein, was ’n letterlike fees van goeie sprekers, welverdiende toekennings, en ’n heerlike plankie-steak-funksie waar verskeie bees- en skaaprasse se vleis geniet kon word.
Dit is net ’n som
Isak Staats uitvoerende hoof van BKB Wol en Sybokhaar, was een van die sprekers tydens die SA Stamboek Kleinvee Trailblazer-geleentheid op 29 Oktober. Sy praatjie getiteld ‘Dit is net ’n som’ het almal aan die dink gehad. Die aanbieding was op ’n praktiese som vir ’n tipiese Karooplaas met 3 000 skape gebaseer. Die egpaar in die scenario maak nie genoeg geld om ’n goeie lewenstandaard te handhaaf nie, en Staats se praatjie het uitgewys dat ’n goeie balansstaat nie noodwendig ’n aanduiding van ’n goeie inkomste is nie.
Die kern van sy aanbieding het neergekom op twee belangrike beginsels: Veeboere werk met getalle en vleis is die besigheid – wol is die bonus. Hy het onder meer gesê produsente is geneig om net na gemiddeldes te kyk en dan hul kuddebesluite daarop te skoei. “Die feit is egter dat gemiddeldes jou boerdery kan seermaak. Nie alle diere is dieselfde nie en om werklik produktief te wees moet individuele diere se prestasie gemeet word.” Net so, het hy verduidelik, is nie alle tweelinge ewe goed nie en nie alle ooie wat tweelinge lewer speen noodwendig goeie lammers nie.
Plaaslike wol is werklik die beste
Deon Saayman, hoof uitvoerende beampte van Cape Wools, het ’n insiggewende aanbieding oor die organisasie se unieke struktuur en uitstekende prestasie gedoen. Suid-Afrika het 8 000 kommersiële en 45 000 kommunale produsente, en die land het in die laaste seisoen 44 miljoen kg wol ter waarde van meer as R4,4 miljard na hoofsaaklik China uitgevoer (81% van Suid-Afrika se totale woluitvoere gaan daarheen).
Hy het verduidelik hoe Suid-Afrika se wolnaspeurbaarheid werk en lig gewerp op die belangrikheid dat die waardeketting aan uitvoervereistes moet voldoen. Hierdie vereistes is streng en ingewikkeld, en verskil van land tot land. Daarmee saam neem plaaslike wolprodusente aan verskeie skemas en sertifiseringstelsels deel. Dit alles dra daartoe by dat Suid-Afrika tans die grootste verskaffer van gesertifiseerde Merino-wol ter wêreld is – ’n besonderse prestasie.
As deel van Cape Wools se pogings om hierdie naspeurbaarheid te versterk, is die organisasie tans besig om aan ’n skeertoepassing vir produsente en ander rolspelers in die ketting te bou. Hy het geïllustreer hoe die blokketting werk en waarom Cape Wools se blokketting op die Ethereum-platform gebou is. Saayman het ook klem gelê op die belangrikheid van produsente se globale ligging (GLN)-nommers wat uiteindelik sal deurtrek na die sogenaamde GS1-register.
Transformasie kan produksie opstoot
Saayman is gevolg deur Dan Kriek, hoofbestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), wat meer lig gewerp het op die NWKV se doen en late. Die NWKV is Suid-Afrika ses oudste landboukommoditeitsorganisasie en sal in 2026 sy 100ste bestaansjaar vier.
’n Voormalige projek wat binnekort weer momentum sal kry, is die organisasie se ramtelersprojek in kommunale gebiede. “Om sulke projekte moontlik te maak, is dit baie belangrik om met die provinsiale departemente van landbou verhoudings op te bou,” het hy gesê. In hierdie verband is samewerkingsooreenkomste reeds met die meeste van die provinsies in plek.
Die grootste uitdaging in die kommunale areas, het hy verduidelik, is swak speenpersentasies. Indien hierdie syfers gelig kan word, sal dit ’n noemenswaardige impak op die plaaslike wolbedryf en op die betrokke gemeenskappe se lewensbestaan hê. Nog ’n uitdaging is die paar- en lamstelsels wat toegepas word. Dit is belangrik dat ’n produksiestelsel gevestig word wat meer beheer bied. In hierdie verband lewer die NWKV adviesdienste, opleiding en produksieadvies, en is ook betrokke by transformasie. Daar is tans tien skeerhuisverenigings in Suid-Afrika en hulle word ook in terme van etiese praktyke gesertifiseer.
Nog ’n opwindende projek in die pyplyn is die sogenaamde ‘Skilled herder project’ wat ’n groot impak in kommunale areas sal hê, veral omdat daar nie kampstelsels en duidelik omheinde areas is nie.
Etiek en integriteit is rigtingwysers
Prof Este van Marle-Köster van die Universiteit van Pretoria het ’n interessante voorlegging oor etiek en die integriteit van eksterne data-analises gedoen. Sy het veral verwys na die gevaar van onetiese navorsing en hoe dit aangewend word. Swak navorsingspraktyke, het sy gesê, is bloot ’n mors van geld en het nadelige uitkomste soos selektiewe verslaggewing en ’n verlies aan intellektuele eienaarskap van data. Sy het ook verwys na sogenaamde ethical dumping, waar maatskappye graag navorsing doen in lande met minder streng etiese vereistes rakende navorsing.
Sy het produsente gemaan om nie sommer enige sogenaamde ‘kenners’ se advies te aanvaar nie en gesê produsente moet aandring op veekundiges en veeartse se registrasiebesonderhede by die Suid-Afrikaanse Raad vir Natuurwetenskaplike Beroepe (SACNASP) en die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Raad (SAVR).
Naspeurbaarheid bly die antwoord
Dr Phillip Oosthuizen van Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) het oor naspeurbaarheid gesels en die waarde van RMIS se naspeurbaarheidsplatform in hierdie verband. Hy het produsente gerusgestel dat geen produksiedata nodig is vir registrasie op hierdie stelsel nie – naspeurbaarheid gaan net oor die beweging van diere. Hy het die verskillende fases van ontwikkeling van die stelsel verduidelik. Die laaste fase word op 4 November amptelik in Pretoria bekendgestel.
Dr Bobbie van der Westhuizen van SA Stamboek het daarna aangekondig dat die organisasie amptelik op 4 November sy Logix-stelsel met RMIS se platform sal integreer. Dit sal gedoen word via ’n nuwe platform bekend as IDTrax. Stamboeklede sal vanaf 5 November ’n boodskap ontvang wanneer hulle op Logix-inteken waarin hulle toestemming kan gee vir hierdie proses, en ’n GLN-nommer kan registreer. Die IDTrax-toepassing laat produsente toe om hul diere en selfs hul voertuie se beweging na te speur.
Rooivleisgeleenthede wink
Tydens die SA Stamboek Trailblazer-funksie vir vleisbeeste op 30 Oktober, het verskeie sprekers interessante en inspirerende inligting met die volgepakte vertrek van meer as 200 produsente gedeel. Die funksie is ’n verwelkomingsboodskap deur die nuutverkose president van SA Stamboek, Basie Bezuidenhout afgeskop. Hy is dieselfde oggend tydens die organisasie se algemene jaarvergadering verkies.
Gerhard van den Burgh van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het die aanbiedings geopen met ’n voordrag oor die uitvoergeleenthede wat vir Suid-Afrikaanse rooivleis wink. Hy het gewys op die huidige onmededingende, onvolhoubare toestand van die rooivleisbedryf en gesê naspeurbaarheid en dieregesondheidsbeheer moet in plek wees om die risiko uit die bedryf te haal en uitvoergeleenthede te skep. Per kapita huishoudelike spandering het die afgelope dekade aansienlik afgeneem en die lae-inkomstegroep groei, wat beteken meer mense wend hulle tot goedkoper proteïene.
Ten spyte van ’n afname in die nasionale vleisbeeskudde, het vleisproduksie toegeneem en is daar geleenthede wat ontgin moet word, veral via uitvoer. Die toename in vleisproduksie is grotendeels as gevolg van karkasgewigte wat sedert 2014 met gemiddeld 20kg gestyg het. Dit spruit veral uit voerkraalproduksie en die positiewe invloed wat doelgerigte stoetteling op kommersiële kuddes het.
Biosekuriteit, biosekuriteit, biosekuriteit!
Die alombekende dok Faffa Malan het die belangrikheid van biosekuriteit beklemtoon met sy voordrag oor siektes wat tans kommer wek, asook veranderende siektetendense weens klimaatsverandering en weerpatrone. Hy het klem gelê op probleme soos gifplante en verkeerde voermengsels wat groot skade in kuddes kan veroorsaak.
Hy het die lys van staatsbeheerde siektes met die gehoor gedeel en produsente gemaan om dit by hul staatsveearts aan te meld indien dit op hul plase vermoed sou word. Hy het produsente ook gewaarsku om nie hul ore uit te leen aan smouse wat nuwe tipes medisynes en mengsels bevorder as die oplossing tot siekteprobleme nie, veral nie wat staatsbeheerde en aanmeldbare siektes betref nie.
Biosekuriteit, het dok Faffa gesê, begin op die plaas en in hierdie opsig is die drie H’s belangrik: hekke, heinings en harsings (dink!). Hy het die spoorelementstatus van vee as ’n baie belangrike aspek van dieregesondheid uitgelig waarop produsente moet let. Wat spesifieke siektes betref, is knopvelsiekte ’n probleem wat met rasse skrede toeneem.
Hy het ook na brusellose verwys en dit met die Trojaanse perd vergelyk: ’n Enkele ingekoopte vers met brusellose kan verwoesting in ’n kudde saai. Brusellose is een van die ernstigste produksiesiektes wat ’n veekudde kan tref, maar ook mense kan siek maak. Kwarantyn, het hy beklemtoon, is een van die belangrikste gereedskapstukke wat ’n veeprodusent kan gebruik om sy kuddes te beskerm.
Ken die rooivleiswaardeketting
Dr Frikkie Maré, die hoof uitvoerende beampte van die Rooivleisprodusente-organisasie (Nasionale RPO) het in sy voordrag op die rooivleiswaardeketting gefokus en die rolspelers waarvan dikwels nie kennis geneem word nie. Dit is juis belangrik dat produsente die waardeketting in ag neem en nie net op hul eie besighede moet fokus nie. Risiko en markgeleenhede vir jou produk beteken jy moet die hele waardeketting in ag neem.
Hy het die onderskeie skakels se rolle bespreek en ook verduidelik hoe dit prysvorming beïnvloed. Beter toegang tot die kleinhandel is noodsaaklik om verbruikersvoorkeure te verstaan en om die regte produk teen ’n mededingende prys op die rak te plaas. – Lynette Louw, Plaas Media


