Sunday, March 9, 2025

Tradisie en kragtige innovasie sorg vir ‘n blink toekoms

Estimated reading time: 6 minutes

  • Die plaas behoort aan die Jordaan-familie, wat een van die grootste genepoele vir Merino-stoeterye in die land bestuur.
  • Die Jordaans se Merino-teelbeleid het die afgelope twee dekades, te danke aan die ontwikkeling van nuwe tegnologie en ’n meer gesofistikeerde benadering tot selektiewe teling, drasties verander.
  • Genomika en KI bied ongekende geleenthede om die genetiese basis van kuddes vinniger en meer doeltreffend te verbeter.
  • ‘n Kombinasie van tradisie en innovasie is die sleutel tot sukses.
  • Spekboomberg volg ’n holistiese benadering tot dieregesondheid en -voeding.

Spekboomberg-boerdery, ’n eeu-oue familieplaas in die Cradock-distrik, is ’n simbool van tradisie en innovering. Die plaas behoort aan die Jordaan-familie, wat een van die grootste genepoele vir Merino-stoeterye in die land bestuur.

Gedurende Veeplaas se besoek aan die plaas, was dit duidelik dat die drie Jordaan-broers, Andrew (jr), Ginkel en Wilhelm se visie vir die toekoms glashelder is: Om voort te bou op die verfyning van hul kudde se genetika, die verbetering van dieregesondheid en voeding, en om deur middel van nuwe tegnologieë innoverend te bly.

Andrew Jordaan en seuns se boerdery is ’n goeie voorbeeld van die suksesvolle integrasie van tradisionele skaapboerderypraktyke, met moderne innovasie wat volhoubare groei en sukses verseker.

“Hierdie benadering sal nie net verseker dat ons aan die voorpunt van die skaapbedryf bly nie, maar ook om kommersiële produsente in Suid-Afrika met die bes-moontlike genetika te ondersteun om hul kuddes te laat floreer,” sê Jordaan (jr), ook voorsitter van Merino SA se tegniese komitee. “Ek glo ons is in die beste era nog waar baie vinnige vordering op die gebied van tegnologie en dataverwerking gemaak word.”

Tradisie as ruggraat

As tradisie die fondasie van Spekboomberg is, dan is innovasie die sleutel tot hul volhoubare toekoms. Die Jordaans se Merino-teelbeleid het die afgelope twee dekades, te danke aan die ontwikkeling van nuwe tegnologie en ’n meer gesofistikeerde benadering tot selektiewe teling, drasties verander.

“Een van die aanpassings wat ons gemaak het om vinniger genetiese vordering te maak, is om van die swak diere ontslae raak,” sê Jordaan (jr). “Die probleem is dat dit baie lank neem om hierdie doelwitte te bereik. Daarom het ons begin om moderne tegnologieë soos genomiese toetsing en kunsmatige inseminasie (KI) in te span. Dit bied enorme voordele om kuddes vinniger en meer akkuraat te verbeter.”

Die ooikudde ondergaan laparoskopiese inseminasie, met 1% van die topramme se semen wat op die hele kudde gebruik word. Kunsmatige inseminasie is een van die metodes wat die Jordaans toepas om meer bekostigbare diere aan kommersiële produsente beskikbaar te stel.

Die Merinovertakking, wat die kern van hul boerdery is, is optimaal ontwikkel en spesifiek vir die uitdagende omstandighede in die Oos-Kaap aangepas. “Die seleksieproses van ons ramme is allesomvattend en elke ram se genetiese potensiaal word noukeurig geëvalueer. Ons produseer hoë-gehalte ramme ná verskeie dekades se streng selektiewe teling en ’n beproefde metode van ramkeuring.

“Die produk hiervan is ’n stabiele kuddebasis met uitstekende wolgehalte, liggaamsbou en hoë vrugbaarheid. Hierdie tradisionele praktyke is van onskatbare waarde vir ons boerdery, want dit verseker dat ons slegs die beste ramme aan kommersiële produsente verkoop.”

Nuwe horisonne

Jordaan (jr) sê genomiese toetsing help produsente om meer ingeligte besluite te neem oor watter ramme die beste genetiese voordele bied en, waar tradisionele teling jare kan neem om resultate te lewer, is dit moontlik om hierdie resultate vroeër te sien en vinniger vordering te maak met kuddeverbetering.

“Hierdie tipe tegnologie stel skaapprodusente in staat om die genetiese potensiaal van hul diere met ongekende akkuraatheid te bepaal. Ons voorsien dat Spekboomberg-boerdery se gebruik van genomika die akkurate seleksie van diere vir spesifieke eienskappe sal versnel en ’n merkbare verbetering in die algehele gehalte van ons kudde tot gevolg sal hê. Dit bied potensieel opwindende moontlikhede vir die toekoms, soos om ons diere vroeër te selekteer vir spesifieke eienskappe soos wolgehalte, liggaamsgroei en vrugbaarheid.”

Lees meer oor belegging in prestasietoetsing verseker volhoubare kuddeverbetering.

Kommersiële produsente

Een van Spekboomberg-boerdery se belangrikste doelwitte is om kommersiële produsente te help om hul kuddes te verbeter deur toegang tot goeie beskikbare genetika te bied. “Ons doel is eenvoudig. Dit is om genetika van die hoogste gehalte beskikbaar te stel aan produsente wat hul eie besighede volhoubaar en suksesvol wil bedryf.

“Ons fasiliteer dit deur ons betrokkenheid by nasionale veilings en ’n gesofistikeerde KI-program. Laasgenoemde kan beskou word as ’n versneller van genetiese vooruitgang om ons skaapkuddes se genetika vinniger en oor ’n wyer geografiese gebied te versprei. Dit is veral voordelig vir kommersiële boere wat toegang tot die beste beskikbare genetika kan kry sonder om hul ramme fisies van plek tot plek te vervoer.

“KI stel ons boerdery in staat om ons topramme te selekteer en hul saad vinnig en doeltreffend na ander produsente regoor die land te versprei. Dit beteken dat kommersiële produsente toegang kry tot diere wat andersins onbekostigbaar duur sou wees, terwyl hulle van die genetiese gehalte van hul kuddes verseker is.

“Kommersiële produsente kan nou uit ’n reeks elite-ramme kies wat nie net geneties diversis nie, maar ook spesifiek vir die uitdagings in hul plaaslike omgewing geteel is. Hierdie vennootskap tussen Spekboomberg en kommersiële produsente versterk nie net ons reputasie as leiers in skaapboerdery nie, maar help ook om die standaard van die bedryf as geheel te verbeter.”

Twintig jaar gelede het Spekboomberg-boerdery se wol ’n gemiddeld van 22,5 mikron aangeteken. Danksy beskikbare tegnologie kon hulle daarin slaag om op verskeie vlakke verbeterings aan te bring.

Voeding en parasietbeheer

Andrew (jr) en sy broers staan daarby dat goeie dieregesondheid en voeding die ruggraat van enige suksesvolle skaapboerdery moet wees. “Die gesondheid van ’n kudde bepaal immers jou boerdery se winsgewendheid. Spekboomberg volg ’n holistiese benadering tot dieregesondheid en -voeding. Ons benut verskeie weidingspesies om die voeding van ons kuddes te optimaliseer. Hierdie weidingkombinasie bestaan uit verskeie grasse en peulgewasse wat nie net die diere gesond hou nie, maar ook die grond verbeter.

“Verder gebruik ons moderne parasietbeheerprogramme wat chemiese middels met natuurlike weidingsrotasie kombineer om weerstandigheid by parasiete te voorkom. Behalwe dat dit help om die kudde gesond te hou, verhoog dit hul produktiwiteit en is daar ’n laer voorkoms van siektes.”

Lees meer oor parasietbeheer by skape verg ‘n holistiese benadering.

Jordaan (jr) sê skaapboerdery, veral in Suid-Afrika, staan op die randjie van ’n opwindende nuwe era. “In ons boerdery is ’n kombinasie van tradisie en innovasie die sleutel tot sukses. Genomika en KI bied ongekende geleenthede om die genetiese basis van kuddes vinniger en meer doeltreffend te verbeter. Terselfdertyd bly die beproefde praktyke van selektiewe teling en dieregesondheid van absolute belang om ’n toekoms te skep waar skaapboerdery nie net volhoubaar is nie, maar ook innoverend en winsgewend.”

Lees in Veeplaas se Januarie-uitgawe oor DSS-toetsing op Spekboomberg en ’n embriospoeling-proef saam met BKB met die oog op vinniger genetiese vooruitgang. Vir meer inligting, kontak Andrew Jordaan by 082 855 5604 of besoek www.andrewjordaanenseuns.com.