Monday, December 8, 2025

Topgenetika en bulprestasie plaas Anko Bonsmaras in die kollig

Estimated reading time: 5 minutes

  • André en Ryna Höll se goedgevestigde Anko Bonsmarakudde by Vryburg in Noordwes, is beslis ’n kudde om mee rekening te hou.
  • Hul teeldoelwitte geskoei op funksionaliteit, aanpasbaarheid, gehardheid en uiteindelike winsgewendheid.
  • Die kudde se prestasies oor dekades bevestig opnuut dat hierdie teeldoelwitte konsekwent en suksesvol nagejaag word.
  • Die bul, KAN 170060, is met ‘n Elite-diamanttoekenning vereer vir sy uitstaande genetiese meriete en is ‘n toonbeeld van Anko Bonsmara se teelsukses.
  • Hul 27ste produksieveiling vind vanjaar op 23 Julie by die Piet Theron-veilingslokaal by die Vryburgskougronde plaas

André en Ryna Höll se goedgevestigde Anko Bonsmarakudde by Vryburg in Noordwes, is beslis ’n kudde om mee rekening te hou. Jaar na jaar lewer hierdie kudde hoë-gehalte, betroubare, getoetste genetika. Die uitsonderlike waarde van hul toewyding is vanjaar weer bevestig toe hul bul, KAN 170060, tydens SA Stamboek se Nasionale Elite-toekennings in Bloemfontein met ’n gesogte Elite-diamantbultoekenning vereer is. Daarmee saam het hul kudde tot dusver elke jaar ‘n Elite-goudtoekenning van SA Stamboek ontvang, ‘n merkwaardige prestasie waarop die egpaar met reg trots is.

André en Ryna Höll, die wenspan agter Anko Bosmaras.

André sê dis vir ‘n teler voorwaar ‘n voorreg as sy/haar bul diamantstatus ontvang, aangesien slegs vyf bulle uit alle geregistreerde rasse by SA Stamboek hierdie jaarlikse toekenning ontvang. Verlede jaar is die Anko Bonsmarakudde boonop aangewys as een van die vyf finaliste in die Landbounavorsingsraad (LNR) se Nasionale Vleisbeespresteerdertoekennings.

Teeldoelwitte wat werk

André sê sedert hy sy kudde in 1979 gevestig het, het hulle daarop gefokus om ‘n funksionele kudde te teel wat goed op natuurlike veldomstandighede kan produseer én reproduseer. Sy beeste moet nie net mooi lyk nie, maar moet winsgewende diere wees wat goed presteer onder weidingstoestande. Daarom is hul teeldoelwitte geskoei op funksionaliteit, aanpasbaarheid, gehardheid en uiteindelike winsgewendheid.

Die kudde se prestasies oor dekades bevestig opnuut dat hierdie teeldoelwitte konsekwent en suksesvol nagejaag word. Hul veldprestasie is op ‘n uitsonderlike vlak danksy streng seleksie, toegewyde bestuur en harde werk. Daar is slegs een dekseisoen per jaar, van 15 Desember tot 15 Maart. Die koeie kalf hoofsaaklik in Oktober en November, en word dan vroeg in Junie gespeen. Dragtigheidstoetse word twee maande na die dekseisoen gedoen en alle nie-dragtige diere word uitgeskot. So word verseker dat slegs die vrugbaarste en mees aanpasbare koeie in die kudde agterbly.

Die kudde se gemiddelde tussenkalfperiode (TKP) is tans 371 dae. Hul doelwit is om op 205 dae ’n koeikudde te hê wat ’n koei/kalfverhouding van 50% kan handhaaf, jaarliks onder veldomstandighede kan kalf, en in die somer slegs ’n fosfaatlek en tydens droë weidingstoestande ’n proteïenlek ontvang. Hy glo hierdie tipe koeie is werklik winsgewend. Hoewel teelwaardes tydens seleksie in ag geneem word, word groot klem op raamgrootte en tipe gelê aangesien dit noodsaaklik is om beeste te teel wat by die natuurlike grasveldtoestande op hul plaas aangepas is.

Elke jaar in Augustus word ongeveer 50 jong bulle uit ‘n groep van ongeveer 100 speenkalwers vir ‘n fase D-groeitoets geselekteer. Hierdie bulle ondergaan ‘n 84-dae groeitoets, waarna die beste diere op grond van groeivermoë, raamgrootte en tipe geïdentifiseer word. Gewoonlik slaag sowat 26 bulle die finale keuring. Hulle word dan vir ongeveer drie jaar in veldomstandighede aangehou, totdat hulle gereed is vir die mark.

Anko se Bonsmarakudde produseer goed op natuurlike weiding. (Foto: Ryna Höll)

Wat ‘n bul!

Die bul, KAN 170060, is met ‘n Elite-diamanttoekenning vereer vir sy uitstaande genetiese meriete en is ‘n toonbeeld van Anko Bonsmara se teelsukses. Hy is geteel uit ouers met bewese, uitmuntende prestasie. Sy moeder, KAN 050082, was ’n Elite-gouekoei wat intussen dood is. Sy het in 17 jaar 14 kalwers met ’n gemiddelde speengewig van 266kg op 205 dae gespeen, en het ‘n TKP van 377 dae gehandhaaf. Haar genetiese waardes was indrukwekkend met ‘n koeiwaarde van 114, en teelwaardes vir speengewig van 104, speenmaternaal 104, groei 106, produksie 112, en vrugbaarheid 123.

Daarby is KAN 170060 se vaar, LAR 130152, ’n besonderse bul wat ’n merkwaardige positiewe invloed op die kudde uitgeoefen het. KAN 170060 is op 13 Augustus 2017 gebore en sy miostatientoets was normaal, wat tot sy waarde as stoetbul bydra.

Tabel 1: KAN 170060 se data soos op 5 Maart 2025. (Bron: SA Stamboek)

 BulVaarMoeder 
KAN 170060LAR 130152KAN 050082
Speen direk120117106
Speen maternaal112115102NageslagSeunsDogters
Gemiddelde daaglikse toename (GDT)140111114Totaal4859
Voeromsetvermoë (VOV)131103103Gekeur: Aantal (%)16 (69%)16 (100%)
Koeiwaarde1131101141ste generasie met nageslag19
Vrugbaarheidswaarde1171051232de generasie4012

André is trots op die topgehalte diere wat hulle jaarliks aan die mark beskikbaar stel tydens hul produksieveiling in Vryburg. Die veiling vind tradisioneel op die vierde Woensdag van Julie plaas en bied top stoetdiere, gekeurde Anko Bonsmara-bulle en ‘n verskeidenheid kommersiële vroulike diere in verskillende produksiestadiums. Van hierdie vroulike diere behoort aan gasverkopers wat hul kuddes met Anko-bulle versterk het.

Hul 27ste produksieveiling vind vanjaar op 23 Julie by die Piet Theron-veilingslokaal by die Vryburgskougronde plaas en bied voornemende kopers weer eens toegang tot die beste beskikbare Bonsmara-genetika. Altesaam 25 bulle en 200 kommersiële vroulike diere word aangebied. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak André of Ryna Höll by 083 260 6479 of 083 947 5724 of ankobonsmaras@gmail.com.

’n Karoo-boerdery geskoei op natuur en kennis

Estimated reading time: 7 minutes Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas...

Oilseeds Focus December 2025 

The December issue of Oilseeds Focus explores South Africa’s fertiliser use, smart cultivar choices for profitable...

Stockfarm December hits the shelves

The December 2025 edition of Stockfarm shines the spotlight on the resilience and adaptability...

Trust and muffins lead the way

Estimated reading time: 4 minutes In any business, communicating in silos is the main cause...