Estimated reading time: 4 minutes
Die Suid-Afrikaanse Braford-telersgenootskap is op 30 Mei 1997 as ’n ontwikkelende ras gestig. Dit is in ooreenstemming met ’n wêreldwye neiging waar die voortreflike eienskappe van twee of meer rasse saamgevoeg word om ’n nuwe of sintetiese ras, wat meer doeltreffend onder die meeste omstandighede is, te skep.
Die Hereford, wat as basis gebruik is in die daarstel van die SA Braford, is onder meer om die volgende redes gebruik:
- Die Hereford is volgens getalle een van die belangrikste en grootste vleisbeesrasse in die wêreld, beide onder ekstensiewe en voerkraaltoestande.
- Eienskappe soos vrugbaarheid en vleisgehalte is wêreldwyd sinoniem met die ras.
Voeg hierby die gehardheid van die Brahman en die resultaat is ’n dier met uitsonderlike eienskappe.
Prominensie in Suid-Amerika
Die Braford-wêreldkonfederasie bestaan tans uit sewe lande, met die grootste konsentrasie van diere in Suid-Amerika. Naas die Nelore word verwag dat die Braford binnekort volgens getalle die grootste ras in Suid-Amerika gaan wees. Hieruit kan afgelei word dat die Braford goed by wyd uiteenlopende klimaatstoestande aangepas is, wat van semi-woestyn tot subtropies wissel.
Die SA Braford is veral bekend vir sy medium raam en vroegryp eienskappe. Anders gestel, verse bereik puberteit op ’n vroeër ouderdom, terwyl die osse op gras, of indien gevoer, vinniger en met minder voeding afrond. Hierdie eienskap is veral belangrik ten tye van graantekorte of duur graan, wanneer diere op die minimum graan afgerond moet word. Dit hou groot finansiële voordele vir enige voerder in.
Die gemiddelde karkasgewig in Suid-Afrika (alle rasse) het die afgelope klompie jare gestyg en is tans ongeveer 260kg. Dit beteken nie dat die gemiddelde koei noodwendig groter en swaarder moet word nie, maar dat die klem veel eerder op doeltreffendheid geplaas moet word.
Strewe na mediumraamdiere
In Suid-Afrika en wêreldwyd is talle studies reeds gedoen wat aantoon dat “groter” nie noodwendig beter is nie. Aan die ander kant is dit ook bekend dat diere wat te klein is nie die antwoord is nie, aangesien hul karkasgrootte nie aan die markvereistes voldoen nie. Vandaar die strewe van die meeste Braford-telers om mediumraamdiere onder Suid-Afrikaanse toestande te teel.
Ofskoon vrugbaarheid die belangrikste eienskap is wat doeltreffendheid by vleisbeeste beïnvloed, moet die belangrikheid van koeigrootte en die teel van ’n super-koeikudde nie onderskat word nie.
Ongeveer 20 tot 30% van die koeie in ’n kudde is sogenaamde kurweknakkers, oftewel hoogs vrugbare mediumraamkoeie wat elke jaar kalf. Dié koeie weeg by speen gemiddeld 460 tot 520kg en hulle beskik oor uitstaande melkeienskappe, wat beteken dat so ’n koei ’n kalf speen van 50 tot 60% van haar eie gewig. Hierdie nageslag groei uitsonderlik en lewer karkasse wat aan die markvereistes voldoen.
Sleutel tot sukses
Die geheim lê daarin dat telers hierdie 20 tot 30% koeie moet identifiseer, aangesien hulle die geen dra vir hoër doeltreffendheid. Goeie rekordhouding en seleksie is natuurlik die sleutel tot sukses, en sal die teler met ’n super-koeikudde beloon. Sommige telers het hierdie tegniek reeds jare gelede met groot sukses begin toepas en die geen in hul ras vasgelê.
Dit is moontlik om ’n mens se kudde binne ’n relatiewe kort tydperk te verander. Indien jy egter nie ’n plafon op die grootte van jou koeie plaas nie en vir die verkeerde eienskappe selekteer – dit wil sê altyd die grootste en vetste bulle (fenotipe) of dié met die hoogste teelwaardes vir groei koop, veral 600 dae, gaan jy heel waarskynlik nie sukses behaal nie en gaan jou beeste net groter word.
Ons leef tans in ’n tydperk waar inligting vrylik en maklik bekombaar is. ’n Groot verantwoordelikheid rus dus op die skouers van telers om goeie en volhoubare data te versamel, aangesien die bulkopers van môre daarop gaan aandring. – dr Johan Meaker, veekundige en Braford-boer
Vir meer inligting, skakel dr Johan Meaker by 076 054 5851, besoek die webtuiste www.braford.co.za of stuur ’n epos aan info@braford.co.za.

