Estimated reading time: 6 minutes
’n Swak koringjaar in 2023 wat oorgevloei het in 2024 met laat reën, hoë insetkoste, swak oeste en lae koringpryse was die “perfect storm” wat koringprodusente in die Swartlandstreek van die Wes-Kaap onder groot druk plaas, het André Kirsten, voorsitter van Graan SA se Winterreënstreek 26 (Swartland), op die streek se jaarvergadering gesê. Die vergadering is in die Jan Bassonsaal op Moorreesburg gehou.
Volgens Kirsten was die gemiddelde koringopbrengs in die Swartland ten minste 1 ton/ha laer as die gemiddelde opbrengs op lang termyn. “Bo-op dit het ons baie swak koringpryse gehad en is die invoertarief op koring nie betyds deur die regering afgekondig nie. Baie van die produsente in die Swartland sit nou met groot oorlaatskuld en veg om oorlewing”, het Kirsten gesê.
Boodskap aan Graan SA
Koringprodusente se boodskap aan Graan SA se bestuur was dat hulle dringend hulp en ondersteuning benodig. “Ons moet nou iets doen om die boere te beskerm, maar dit moet sinvol gedoen word”, het Kirsten gesê. Hy het die produsente verseker dat die koringbedryf sy pond vleis van Graan SA kry, op die ondersteuning van die organisasie kan staatmaak en het onderneem dat Graan SA se bestuur die versoeke van elke produsent ernstig sal opneem. “Ons moet egter emosies uit die proses haal. Ons kan emosies wys en dit wat pla vir mekaar sê, maar as ons Graan SA kans gee om die werk te doen, moet emosies uit die proses gehaal word”, het hy gesê.
Knelpunte
Die drie vernaamste knelpunte wat tydens die vergadering uitgelig is as sake waaraan veral aandag gegee moet word, is die liggingsdifferensiaal, die werking van die tariefstelsel op ingevoerde koring en die vrystellingsnorme van nuwe koringkultivars.
Hennie Visser van die plaas Serviteurskraal, Piketberg, het gesê die JSE is ’n privaat maatskappy wat besluit hoe koringprodusente hul graan moet bemark. “Ons as koringprodusente is mislei oor die werking van die fisieke of kontantmark. Produsente wat nie ’n JSE- of ’n Safex-rekening het nie en deur makelaars hul koring verkoop, handel net in die kontantmark.” Die groot probleem in die kontantmark is dat die produsent nie sy vervoerkoste kan beding nie. In ’n vrye mark is daar drie goed wat van enige produk of diens bedingbaar moet wees en dit is die vraag en aanbod, die vervoerkoste en die gehalte van die produk of diens. Met die manier hoe die liggingsdifferensiaal op produsente afgedwing word, word produsente uit die vervoerkostemark uitgehaal. “Die JSE- of die Safex-mark is nie ’n vrye mark vir graanverhandeling nie”, het Visser gesê.
Nuwe stelsel kom dalk
Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, het daarop gewys dat dit in enige vryemarkstelsel so is dat solank as die aanbod die vraag oorskry, produsente die geleentheidskoste (liggingsdifferensiaal) sal dra. Die debat wat oor jare aangaan, is of die vervoerkoste wat die JSE publiseer, die werklikheid weerspieël. As dit nie gebeur nie, moet die boer die geleentheid hê om sy graan op ’n vragmotor te laai en dit by die verbruikspunt teen die werklike koste te lewer.
“Die mark kan nie sonder ’n verwysingspunt funksioneer nie, maar die boer moet die geleentheid hê om teen ’n R0-aftrekking op Randfontein te lewer. Dan sal die liggingsdifferensiaal homself regtrek. Dit is reeds die geval by sojabone en daar is ’n moontlikheid dat die stelsel na ander grane oorgedra kan word”, het Matthews gesê.
Reuseverlies van R260 miljoen
Die tyd wat dit neem om koringtariewe in te stel, is lank op die vergadering bespreek en as een van die faktore uitgewys wat die winsgewendheid van koringprodusente onder druk plaas. Die tariewe beskerm nie boere teen lae pryse nie, maar wel teen subsidies en ondersteuning wat lande van wie Suid-Afrika koring invoer aan hul produsente bied.
Kirsten het daarop gewys dat die invoertariewe op koring wat verlede jaar nie betyds deur die regering afgekondig is nie, veroorsaak het dat daar 700 000 ton koring teen te lae pryse ingevoer is en produsente het as gevolg daarvan R260 miljoen verloor. Dr Tobias Doyer, hoof uitvoerende beampte van Graan SA, het gesê almal is bewus daarvan dat die tyd wat dit neem om die tarief af te kondig, te lank is. “Ons kan sien dat die stelsel misbruik word en daar is selfs beweringe dat iemand die proses vertraag.”
Outomatisering van tariewe nodig
Volgens Mathews is die bedryf dit eens dat die proses van tariefinstelling op ingevoerde koring geoutomatiseer moet word. Almal is tevrede en gemaklik daarmee dat die metodiek en formules wat gebruik moet word om hierdie tariewe te aktiveer, soos die brandstofprys se aanpassing moet werk. Die proses sal dan geoutimatiseer wees en nie op iemand se lessenaar lê nie. Dit is krities belangrik, omdat die huidige proses onsekerheid bring met verskeie gevolge, soos die invoer van koring teen laer waardes as wat dit moet wees. Daardie koste kom uit die boer se sak. “Ek is opgewonde daaroor dat die hele bedryf nou konsensus bereik het oor die outomatisering van die metodiek, die formule en die inskop van die tarief. Almal wil dit hê en dit is reeds aan die verskillende regeringsinstellings bevestig”, het hy gesê.
Vrystellingsnorme gaan verander
Corné Louw, hoof: Toegepaste ekonomie en lededienste van Graan SA, het gesê Graan SA het verlede jaar ’n baie sterk bewoorde brief aan die bedryf gestuur waarin hy gesê het dat hy beplan om weg te stap van die vrystellingsnorme vir nuwe koringkultivars omdat die norme te streng is en dit die plaaslike produsente benadeel. “As daar ruimte is om die vrystellingsnorme te verslap met die klem op opbrengs sonder om gehalte heeltemal in te boet, sal dit ’n groot verbetering wees tot voordeel van die produsent omdat opbrengs krities belangrik is vir ’n boer se winsgewendheid. Veral as ons nog witkoring-kultivars kan inbring wat produsente in staat sal stel om koring oor ’n wyer basis aan meulenaars te bied”, het Louw gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media.