Monday, March 10, 2025

Strategieë vir die voerkraalvoorbereiding van kalwers

Estimated reading time: 7 minutes

  • Voerkraalvoorbereiding, beter bekend as backgrounding, verwys na ’n fase in die beesvleisproduksieproses waar jong beeste, tipies pas-gespeende kalwers, in ’n voerprogram geplaas word wat daarop gemik is om hulle voor te berei vir uiteindelike afronding in ’n voerkraal of op weiding.
  • Die doel van voerkraalvoorbereiding is om die kalwers te help om van ’n ruvoergebaseerde dieet na ’n meer energiedigte dieet oor te skakel, groei te bevorder, en algehele gesondheid en doeltreffendheid te verbeter.
  • Daar is hoofsaaklik twee stelsels van voerkraalvoorbereiding wat verskil in terme van winter- en somerreënvalstreke.
  • Hoewel die meeste produsente hulle speenkalwers aan voerkrale verkoop en die voerkrale die kalwers dan deur die proses van voerkraalvoorbereiding neem, is daar sekere omstandighede waarin dit produsente kan baat om hierdie stap self te voltooi. Dit is egter baie belangrik dat produsente hul huiswerk deeglik doen voor hulle so ’n projek aanpak.
  • Voerkraalvoorbereiding het die potensiaal om ’n voortreflike waardetoevoegingsinstrument op ’n plaas te wees.

Voerkraalvoorbereiding, beter bekend as backgrounding, verwys volgens Johannes Mulder, ‘n vleisbeeskonsultant by Intelact Beef, na ’n fase in die beesvleisproduksieproses waar jong beeste, tipies pas-gespeende kalwers, in ’n voerprogram geplaas word wat daarop gemik is om hulle voor te berei vir uiteindelike afronding in ’n voerkraal of op weiding. Hierdie fase vind na speen en voor afronding plaas.

Die doel van backgrounding is om die kalwers te help om van ’n ruvoergebaseerde dieet na ’n meer energiedigte dieet oor te skakel, groei te bevorder, en algehele gesondheid en doeltreffendheid te verbeter.

Verskillende stelsels

Daar is hoofsaaklik twee stelsels van backgrounding wat verskil in terme van winter- en somerreënvalstreke. Eerstens is daar die weidingsgebaseerde stelsel, waar die beeste tydens die voerkraalvoorbereidingsfase op groenweiding aangehou word. Hulle het dalk toegang tot aanvullende voer soos graan of proteïenaanvullings om groei en ontwikkeling te ondersteun.

Die tweede is ’n kraalgebaseerde stelsel waar die beeste in ’n beperkte area aangehou word, waar hul dieet noukeurig bestuur word. Hierdie stelsel maak voorsiening vir presiese beheer van voerinname en nouer monitering van individuele diere.

Hoewel die meeste produsente hulle speenkalwers aan voerkrale verkoop en die voerkrale die kalwers dan deur die proses van backgrounding neem, is daar sekere omstandighede waarin dit produsente kan baat om hierdie stap self te voltooi. Dit is egter baie belangrik dat produsente hul huiswerk deeglik doen voor hulle so ’n projek aanpak.

“Een van die redes waarom ’n produsent self sy kalwers sal background, is as hy toegang tot hoë-gehalte groenvoer het en hy dié voer sodoende winsgewend kan benut. Verlede jaar, byvoorbeeld, was die speenkalfprys baie swak. Ons het toe aan ons kliënte voorgestel dat hulle eerder kalwers terughou en self background, eerder as om teen die lae prys te verkoop. Dit sou meebring dat hulle meer kilogramme op die kalwers sit en hulle dan kan verkoop wanneer pryse tradisioneel hoër is,” sê Mulder.

Die produsent se kontantvloeisituasie speel natuurlik ’n deurslaggewende rol in so ’n besluit, asook die hoeveelheid hoë-gehalte groenvoer wat hy beskikbaar het. “Dis natuurlik ook ’n opsie, mits die produsent daarvoor gerat is, om nie net sy eie kalwers te background nie, maar om kalwers in te koop om waarde tot sy weidings toe te voeg.”

Lees meer oor voerkraalvoorbereiding hier.

Somerkalwers

Gedurende die tradisionele speentyd van Maart tot Junie, verduidelik Mulder, is dit die voordeligste om al jou kalwers van onder 200kg te verkoop en jou swaarder kalwers vir backgrounding te hou. Die rede hiervoor is dat, terwyl almal speen, die swaarder kalwers gewoonlik op die prys gepenaliseer word.

“Ons stel voor dat jy dan die kalwers wat jy terughou op ’n backgrounding-program sit en hulle deurneem tot ongeveer die laaste week in November of die eerste week in Desember. Die mikpunt is ’n kalf van tussen 400 en 480kg as ’n afgeronde dier.”

In so ’n benadering trek jy dus voordeel deurdat jy die beste prys vir jou kalwers van onder 200kg kry. Aan die ander kant wen jy kilogramme op jou swaarder kalwers teen relatiewe lae koste en plaas jy dié kalwers in ’n ander kategorie, deur hulle as slaggereed diere te bemark in ’n tyd wanneer die vraag tradisioneel hoër is.

Winterkalwers

Met kalwers wat in die herfs gebore word, en dus in Oktober en November gespeen word, is die strategie heeltemal anders, verduidelik hy.

“In hierdie scenario verkoop jy jou 40% swaarste kalwers asook jou 10% ligste kalwers. Die wat oorbly benut dan jou somerveld tot Februarie, wanneer jy hulle as jaar-oud kalwers teen ongeveer 240kg verkoop. Dit is dan net voor die herfsspeentyd aanbreek, wanneer pryse ook tradisioneel hoog is.”

Voorwaardes vir sukses

Vir enige van hierdie twee strategieë om suksesvol te wees, moet die produsent spesifieke voorwaardes in gedagte hou. “As dit kom by die kalwers wat in die herfs gespeen word, is die aanbeveling dat dit op ’n aangeplante groenvoerstelsel met ’n energielek gedoen word, bloot omdat die koste van groenvoer heelwat laer is as om ’n graangebaseerde rantsoen te voer.”

’n Ander tersaaklike voorwaarde is kontantvloei en voervloei. “Jy kan jou vingers baie maklik verbrand as jy nie seker is jou kontantvloei laat dit toe om die kalwers langer uit die mark te hou nie. Presies hoe goed jou kalwers gaan presteer is direk afhanklik van die gehalte van die kalwers en die groenvoer. As duimreël kan ons groei van 1kg/dag in die berekening gebruik om winsgewendheid te bepaal, met ’n onderste afsnypunt van 750g/dag,” verduidelik Mulder.

Wat voervloei betref, is die sleutelsom uit die aard van die saak dat jy wel genoeg addisionele groenvoer in die winter en veld in die somer beskikbaar het om die kalwers wat jy terughou, te akkommodeer. Daar is geen sin in die oefening as die res van jou vee in die proses nie toegang tot voldoende voer het nie.

Tydsberekening is net so ’n betekenisvolle faktor, sê hy. Dit is nie sinvol om ’n stelsel te volg, maar dit laat jou nie toe om jou diere te bemark in ’n tyd wanneer pryse tradisioneel op hul hoogste is nie. Dit geld veral vir kalwers wat in Februarie bemark moet word.

“As jy kalwers gaan inkoop, moet jou teikengroep 200kg en swaarder wees. Dit is baie duidelik dat ligter kalwers, veral ligter as 180kg, se mortaliteitsyfer baie hoog kan wees. Dit stel die winsgewendheid van die projek in gevaar. Aan die ander kant is dit ook nie wenslik om ’n té groot gewigsvariasie in jou groep te hê nie, omdat die swaarste kalwers dan te vroeg markgereed kan wees en die pryse nog nie na wense is nie. Dit is egter verstandig dat jy ’n deeglike studie van die prystendense in jou spesifieke area doen, om te weet wanneer die gewenste en ongewenste tye vir bemarking is.”

Prystendense

As ‘n algemene riglyn, sê Mulder, val speenkalfpryse gewoonlik vanaf Maart tot Junie, wanneer die grootste gros van kalwers wat in die lente gebore is, in die mark kom. Vanaf Julie begin die prys weer optel sodat dit van Oktober na Desember ’n piek bereik. Van Februarie begin die prys weer daal om die pryssiklus te herhaal.

“Hoewel hierdie tendens van jaar tot jaar ’n paar weke kan skuif, bly die basiese tendens al vir menige jare dieselfde. Dit maak dus ook sin dat jy kalwers sal inkoop in tydperke wanneer die kalwers teen laer vlakke verhandel.

“As jy kalwers inkoop, is ’n ander belangrike oorweging om kalwers uit jou area aan te koop. Dit maak aanpassing net soveel makliker. Verder is dit verkieslik om kalwers aan te koop by produsente wat ’n bewese rekord van goeie kuddebestuur, en spesifiek goeie gesondheidsbestuur het, sodat jy redelik verseker is dat die kalwers uit ’n kudde kom wat gereeld, en op tyd, die nodige inentings gekry het.”

Backgrounding, sluit Mulder af, het die potensiaal om ’n voortreflike waardetoevoegingsinstrument op ’n plaas te wees. Huiswerk moet egter deeglik gedoen word, en faktore soos beskikbare hulpbronne, kontantvloei, bestuursdoelwitte en marktoestande moet deeglik in berekening gebring word.

Vir meer inligting, kontak Johannes Mulder by 063 690 9487 of johannes.mulder@intelact.com.

Must read

Graan SA deel suksesse met Prieska-boere

Estimated reading time: 3 minutes Bestuurslede van Graan SA het Prieska se saaiboere onlangs besoek om die suksesse wat die organisasie behaal het met die...

Jongste inligting help boere voor planttyd

Estimated reading time: 5 minutes Overberg Agri het onlangs sy jaarlikse voor-plant inligtingsdag by Rietpoel naby Caledon in die Suid-Kaap gehou. Meer as 200 boere...

2025 Swellendam-skou: Skou tot voordeel van gemeenskap

Estimated reading time: 7 minutes Die 193ste Swellendam-skou, wat vanjaar van 27 Februarie tot 1 Maart gehou is, was ten spyte van die erge reën...

2025 Riversdal-skou: Eg plattelands

Estimated reading time: 6 minutes Riversdal-skou met sy tema “Eg Plattelands” is vanjaar vir die 157ste keer gehou en het ’n rekordgetal besoekers gelok. Dit...

Katoen-verwysingsprys: Week van 3 tot 7 Maart

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee....