Speel betyds met snywurms klaar

Estimated reading time: 4 minutes

Snywurmbeheer moet begin voor die eerste larwe kop uitsteek. Met mielieplanttyd wat vinnig naderkom, moet produsente nou al aan die werk spring om veral die 35-dae beginsel betyds toe te pas.

Die skade wat snywurms in ‘n mielieland kan aanrig, is een van ‘n mielieprodusent se ergste nagmerries. In uiterste gevalle kan saailinge só verwoes word, dat hele lande oorgeplant moet word. Dit het natuurlik ‘n geweldige direkte koste-implikasie, maar die opbrengspotensiaal wat in die proses opgegee word, is die eintlike skade. Vroeë aanplantings het die beste opbrengspotensiaal en die vier of meer weke wat verloor word wanneer daar oorgeplant moet word, skep ‘n agterstand wat nie maklik ingehaal kan word nie.

Snywurms is ‘n seisoenale verskynsel en hul lewensiklus val saam met mielies se planttyd wat tradisioneel in Oktober, na die eerste reëns, begin. In sommige seisoene is die druk erger as in ander, en druk verskil ook van streek tot streek. Wat egter konstant bly, is die praktyke waarmee snywurms beheer kan word.

Die belangrikheid van rekordhouding

Om snywurmpopulasies in toom te hou, moet produsente voorkomend optree. Die wegspringpunt is ‘n analise van vorige seisoene. Verstaan wat in jou lande en die omgewing gebeur het om die snywurmdruk te beïnvloed. Herhaal dan jou suksesse, leer uit jou foute en probeer iets nuuts waar nodig.



Om agter die kap van die snywurmbyl te kom, is dit noodsaaklik om rekord te hou van faktore soos die tipe grondbewerking wat gebruik word, snywurmdruk van die vorige seisoen, teenwoordigheid van wintergewasse of onkruide in onbewerkte of oorlê-lande, omgewingstoestande soos temperatuur en die afwesigheid van vog, saadbehandelings en die nuwe seisoen se aanplanting.

Die rol van winterbewerking

Die tweede element van voorkoming is winterbewerking. Bewaringsbewerkingpraktyke wat wintergewasse en oesreste aanwend om grondvog te behou en grondkwaliteit te verbeter, kan ongelukkig ‘n snywurmprobleem vererger, veral wanneer populasiedruk in die vorige seisoen erg was. Volwasse larwes wat in die land teenwoordig is aan die einde van die seisoen, gebruik hierdie plantmateriaal om in die winter ondergronds te oorleef, met die gevolg dat daar alreeds ‘n snywurmprobleem in so ‘n land is voor die eerste saad geplant word.

Effektiewe onkruidbeheer, ook bekend as ‘burndown’, ten minste 35 dae voor planttyd, sal die snywurmpopulasie laag hou in die periode wanneer saailinge ontwikkel. In skoon lande met ’n goedvoorbereide saadbed het larwes geen skuilplek nie en is die kanse dus beter dat hulle in kontak met chemiese beheermiddels sal kom. Winterbewerking in Augustus of vroeg in September beskadig ook die papies en stel hulle bloot aan predatore soos miere. Dit is belangrik dat winterbewerking oor ’n wye gebied gedoen word om te keer dat motte van naburige landerye gewasse aanval.

Die keuse van chemiese beheermiddels

Die derde element is chemiese beheer. Piretroïede is een van die pilare van snywurmbekamping – maar dit moet betyds en behoorlik toegedien word. Syngenta se vlagskip sintetiese piretroïed KARATE ZEON® 10 CS is uiters effektief wanneer die snywurmlarwes 1cm of kleiner is, die boonste 3cm van die grond klam is, en wanneer die produk direk met die larwe kontak maak.

Die grootste fout wat produsente met snywurmbeheer maak, is om nie die 35-dae beginsel na te kom nie en dan te probeer om wurms wat reeds groter as 1cm is, weg te spuit. In baie gevalle is die resultaat superwurms wat ten beste net wisselvallig beheer kan word.

Die voordele van geїntegreerde plaagbeheer

‘n Geïntegreerde plaagbeheerstrategie wat al die bogenoemde elemente insluit, bly die beste manier om snywurms onder beheer te hou. Produsente moet bestuursbesluite aktief neem met inagneming van alle relevante faktore, en chemiese gewasbeskerming kombineer met praktyke wat natuurlike predatore beskerm en snywurms se voedselbronne beperk.

Laasgenoemde behels veral die verwydering van onkruid en oesreste. In hierdie verband is daar produsente wat gevind het dat in landerye waar snywurm ‘n probleem in die vorige seisoen was, populasiedruk proaktief verlaag kan word deur ‘n voorplanttoediening van KARATE ZEON® 10 CS saam met ‘n uitstekende onkruiddoder soos TOUCHDOWN FORTE® te spuit omdat KARATE ZEON® 10 CS stabiel is in water met ‘n suur en neutrale pH. Korrekte beheer en toediening laat ook miere, spinnekoppe en kewers toe om snywurmdruk op ‘n natuurlike wyse laag te hou.

Indien produsente die regte aanvalsplan volg, kan snywurms doeltreffend gekeer word om ekonomies betekenisvolle skade aan te rig. – Deur Hanlie Geldenhuys, bemarkingsbestuurder by Syngenta.

Popular stories