Home Magazines Sonkraggedrewe plase: Karoo-boere klim van die kragnetwerk af

Sonkraggedrewe plase: Karoo-boere klim van die kragnetwerk af

1223
sonkrag installasies solar power installations
Die 90kVA-sonkragstelsel op Vlakfontein het R1,3 miljoen gekos en bestaan uit 112 sonpanele met ’n 50kW paneelbank, 90kVA drie-fase Victron-omskakelaars en ’n 90kW litiumstoorbank met nege batterye van 10kW elk. Die sonpanele kan op ’n ideale dag tot 222kW uur-eenhede opwek.

Estimated reading time: 6 minutes

Inwoners van Suid-Afrika wend hulle toenemend tot sonkrag om van die onbetroubare nasionale kragnetwerk af te klim. En dit is glad nie beperk tot ons stede en dorpe nie. Al hoe meer produsente neem nou dié stap. Dit is blykbaar ook so dat as ’n mens dit slim doen, die aanvanklike onkoste van ’n sonkragstelsel homself na ’n paar jaar terugbetaal.

Garth Cloete, ’n erelid van Merino SA, het Veeplaas genooi om twee plase in die Richmond-distrik te besoek, waar beide dié boerderye heeltemal onafhanklik van die kragnetwerk funksioneer. Ons het by hierdie produsente gaan uitvind hoe sake werk as ’n mens van die sogenaamde grid wil af gaan.



Installasie van die sonkragstelsel

Twintig kilometer noord van Richmond volg André Sieberhagen en sy seun, Georg, in hul pa en oupa se voetspore met die Vlakfontein Merino-stoet. André sê met die intrapslag dat ’n boer nie wil sukkel as hy na sonkrag oorgaan nie.

“Ons het eers by ander produsente wat reeds sonkraginstallasies het, gaan kyk hoe die saak werk. Daarna het ons ’n diensverskaffer in De Aar genader vir ’n kwotasie om ’n stelsel te installeer. Dit was vir ons belangrik om iemand te kry wat naverkopediens kon lewer.”

Die installasie het ongeveer twee weke geneem en iets wat baie handig te pas kom, is die feit dat hulle diensverskaffer telefonies op die stelsel kan ingaan indien probleme sou opduik.

Die 50kW-sonkragpanele is met teendiefstalklampe op die buitegeboue geïnstalleer, teen ’n optimale helling van 23,3 grade in ’n noord-noordoostelike rigting. “Dit is ’n 90kVA, driefasestelsel wat goeie krag lewer,” sê André. “As die son lekker skyn, kan die panele tot sowat 48kW opwek. Ek sal aanbeveel om eerder te veel as te min panele op te sit, sodat jy die krag deur die dag op groot stelsels kan gebruik.”

Lees meer oor finansiering vir alternatiewe energie hier.

André en Georg Sieberhagen van Vlakfontein is deur ’n agt jaar lange droogte, waartydens hulle die skape gereeld moes voer. Die sonkrag en spilpunt het baie handig te pas gekom. Dit het hulle in staat gestel om lusern te produseer en dit deur die hamermeul te sit.
André en Georg Sieberhagen van Vlakfontein is deur ’n agt jaar lange droogte, waartydens hulle die skape gereeld moes voer. Die sonkrag en spilpunt het baie handig te pas gekom. Dit het hulle in staat gestel om lusern te produseer en dit deur die hamermeul te sit.

Kragvoorsiening na die hele plaas

Behalwe die sonpompe vir water in die veld, wat heeltemal apart van die stelsel werk, help die sonkragstelsel onder andere om die motor van ’n 55kW-hamermeul aan te skakel om lusern vir die skape te maal. Die stelsel is aan André se selfoon gekoppel en hy kan ’n paar keer per dag daarop inteken om byvoorbeeld te kyk of die spilpunt aan is.

“Vroegsoggens, as die son nog nie sterk skyn nie, kan ek nie die spilpunt aansit nie. Ek kyk dus gewoonlik eers op die sonkragtoepassing op my foon hoeveel krag beskikbaar is, voordat ek die besproeiing vanaf my selfoon aanskakel. Jou stelsel moet sodanig werk dat die stelsel se batterye elke aand min of meer volgelaai moet wees, sodat jy deur die nag kan kom daarmee.”

Van die toebehore wat krag deur die nag trek, is die transformators, ’n koelkamer, en vrieskaste en geisers wat op tydskakelaars is en outomaties deur die nag afskakel. Hulle stel die geisers bedags op 70°C, want as die geisers deur die dag warm genoeg is, sal dit die kapasiteit hê om deur die nag te kom.

André beveel aan dat ’n kragopwekker deel van die sonkraginstallasie uitmaak en dat die koste daarvan by die totale bedrag vir sonkrag ingereken word. “Ek dink ’n mens het ’n kragopwekker saam met sonkrag nodig, want daar is dae wat dit bewolk is en die batterye nie genoeg laai nie. Die kragopwekker kan ook inskop as die batterykrag deur die nag te laag raak.

“Ons het in ’n 25kVA-kragopwekker belê wat met ’n selfoon aangeskakel kan word. As die krag byvoorbeeld op 20% is, en ons sien ons gaan nie daarmee klaarkom voordat die son opkom nie, sit ek die kragopwekker aan. Of jy kan dit stel dat dit outomaties op 15 of 20% batterykrag aanskakel. Dit skakel ook op ’n sekere persentasie krag outomaties af.”

Ononderbroke kragtoevoer

Jozua en Tinkie Naudé boer op die plaas Welgelegen, ook in die Richmond-distrik, en die egpaar het deur die jare stapsgewys daarop gefokus om waarde tot hul boerdery toe te voeg. Dit het toewyding en baie geduld geverg, maar vandag is die plaas in ’n groot mate gemeganiseerd, met ’n voerstelsel wat hulle in staat stel om hul eie veevoer te maak, asook ’n sonkragstelsel wat hulle geheel en al onafhanklik van die nasionale kragnetwerk maak.

“As ’n mens by ’n familieboerdery instap, werk dinge nie noodwendig soos dit al die jare gewerk het nie,” sê Jozua tydens ons besoek. “Al die nodige veranderinge wat ons aangebring het, het letterlik stap vir stap oor ’n lang tydperk plaasgevind. ’n Mens moet onthou dat daar altyd nuwe uitdagings in ’n veeboerdery sal wees, en jy moet dit na die beste van jou vermoë hanteer.”

Tinkie en Jozua bestuur twee aparte besighede wat mekaar komplementeer. Tinkie koop gereeld lammers uit Jozua se kudde vir haar vleisverwerkingfasiliteit op die plaas, wat beteken dat Jozua verseker is van ’n mark vir sy lammers.

Die verwerkingsaanleg is goed toegerus met koelkamers en vrieskaste wat permanent aangeskakel moet wees. Dit is juis hier waar sake met die nasionale kragnetwerk begin lol het. Volgens Tinkie kon hulle nooit vir lank van die plaas af weggaan of net ontspan nie. “Behalwe vir beurtkrag, het ons ontsettend baie kragonderbrekings gehad,” sê sy. “Ek werk met ’n bederfbare produk en kan nie bekostig om sonder verkoeling te wees nie. Daarom het ons na ’n ander alternatief begin soek.”

Tinkie in een van die koelkamers op die plaas. Vir haar vleisbesigheid benodig sy ononderbroke verkoeling, wat nou deur hulle sonkragstelsel voorsien word.

Dit was belangrik dat die vrieskaste snags steeds aangeskakel moes bly, en hulle het verskillende opsies teen mekaar opgeweeg. Die sonkragstelsel het op die ou end gewen en die installasie daarvan het Welgelegen heeltemal onafhanklik van die nasionale kragnetwerk gemaak. Die koste om die hele stelsel te implementeer het R1,6 miljoen (BTW uitgesluit) beloop, en sluit ook ’n selfoontoepassing in waarmee dit bestuur word.

Vele voordele

Die enkele grootste besluit rondom ’n sonkragstelsel gaan oor die finansiële aspek. Vir mense wat baie krag gebruik, veral gedurende die nag, maak ’n sonkragstelsel beslis ekonomies sin. In die Naudé’s se geval sal die stelsel na ongeveer tien jaar afbetaal wees.

So ’n stelsel bied ook ’n groot mate van gemoedsrus wat sekuriteit betref, omdat dit die heeltyd aan is. ’n Mens kan weggaan en die sonkrag op jou selfoon vanaf enige plek in die land bestuur. Met sonkrag hoef jy ook nie eers ’n kragopwekker aan die gang te kry om byvoorbeeld die ligte of vrieskaste aan te skakel nie. Daar is geen verdere pompkoste nie, en iemand wat besproeiing het, hoef nie meer die maandelikse Eskom-rekening te vrees nie. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak André Sieberhagen by 072 195 9596, Jozua Naudé by 084 200 2375 of Tinkie Naudé by 084 657 5792.