Estimated reading time: 7 minutes
Landbouers word deurlopend aangemoedig om moderne tegnologieë aan te wend ter verbetering van hul landboubedrywighede. Dit sluit die gebruik van hommeltuie in, wat ’n redelik algemene hulpmiddel vir baie boere geword het. Prof Andries Raath, voorsitter van die polisie se Vrystaatse Veediefstalforum, en visevoorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Vrystaat, waarsku egter dat georganiseerde misdaadgroepe ook die potensiaal van hierdie tegnologie begin raaksien en benut.
Hommeltuie word deur die booswigte gebruik om data in te samel oor die beweging van vee en veeherders, vir gewasdiefstal, en om toegang- en uitgangsroetes op plase te identifiseer. Hy sê sover hy bewus is, was daar nog geen geval in die Vrystaat aangemeld waar ’n spesifieke misdaad direk aan die gebruik van ’n hommeltuig verbind is nie, spesifiek met verwysing na veediefstal. Dieselfde geld in die Noord-Kaap, waar daar tot dusver geen hofsaak voorgekom het waarin ’n hommeltuig as deel van ’n misdaadoperasie gebruik is nie.
Hy sê dit bly egter kommerwekkend dat die potensiaal bestaan om hierdie tegnologie vir kriminele doeleindes aan te wend en daar was ’n merkbare toename in die beweging van hommeltuie in sekere gebiede en roetes in die Vrystaat en die Noord-Kaap, en onlangs ook in Noordwes. Volgens hom is die frekwensie van hommeltuigwaarnemings op ongewone tye – laat nag of vroegoggend – veral kommerwekkend.
Wat die kwessie vererger, is dat hierdie waarnemings dikwels langs roetes plaasvind waar daar min tot geen publieke of private infrastruktuur is nie, veral in uitgestrekte weidingsgebiede en langs roetes wat daardeur strek. Dit wek vrae oor die motiewe van hierdie aktiwiteite.
Prof Raath het riglyne in hierdie verband opgestel vir die gebruik van hommeltuie in landbou. Hy sê wetgewing en regulasies rondom hommeltuie is gemodelleer op bestaande lugvaartwetgewing vir sover onderskei word tussen kommersiële, korporatiewe, nie-winsgewende, en private operasies van afstandbeheerde vliegtuigstelsels (RPAS). Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) is die mandaathouer verantwoordelik vir veilige bedryf van hommeltuie, en die regs- en regulatiewe raamwerk daarvan.
Hommeltuie rondom plase
Dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), sê dié organisasie dra ook nie bevestigde kennis van voorvalle, spesifiek rakende veediefstal, wat direk aan hommeltuie verbind kan word wat die vorige aand of selfs twee aande agtereenvolgend oor plase of plaasopstalle gevlieg het nie.
Daar bestaan wel ’n moontlikheid dat voorvalle van dié aard wel plaasgevind het, maar dat dit eenvoudig nog nie by die betrokke owerhede of instansies aangemeld is nie. Volgens haar kan die beweging van hommeltuie oor plase, veral tydens nagtelike of vroeë oggendure, moontlik verband hou met ander misdaadaktiwiteite en nie noodwendig slegs veediefstal nie. Daar is beperkte inligting beskikbaar, wat wel ondersoek en opgevolg word om die aard en doel van hierdie hommeltuigbewegings te bepaal. Sy sê boerderygemeenskappe in die Vrystaat het reeds drie tot vyf jaar gelede begin om hommeltuigbewegings oor hul plase waar te neem. Daar is toe navrae aan verskeie betrokkenes gerig.
Die verskynsel van hommeltuie wat snags oor plase en plaasopstalle vlieg is ’n fenomeen wat baie groter na vore kom in boerderygemeenskappe in die westelike en noordelike dele van die Vrystaat. In minstens 12 gemeenskappe is dergelike waarnemings aangemeld. Wat kommer vererger, is dat dit dikwels nie net ’n enkele hommeltuig is wat gesien word nie, maar dikwels groepe van twee, drie, en selfs tot vyf hommeltuie wat gelyktydig en moontlik gekoördineerd te werk gaan.
Oortreding van lugvaartregulasies
Prof Raath sê daar is in 2011’n wysiging aan die burgerlugvaartregulasies van die Wet op Burgerlugvaart, 2009 (Wet 13 van 2009) aangebring. Artikel 101 van die wysigings, “Afstandbeheerde Vliegtuigstelsels,” het in 2015 in werking getree. Dié regulasies reguleer die gebruik van hommeltuie. Dr Buys verduidelik dat ingevolge die regulasies moet alle hommeltuie aan spesifieke lugvaartbepalings voldoen. Hierdie vereistes sluit in dat hommeltuie geregistreer moet wees, en dat ’n vlugplan ingedien moet word wanneer dit in sekere gebiede aangewend word, veral wanneer dit ná ure of gedurende nagtelike tye aktief is.
Dit blyk egter dat die meeste van die hommeltuie wat waargeneem word nie aan hierdie regulasies voldoen nie en daarom is navrae in hierdie verband gedoen. Volgens dr Buys is dit dikwels nie klein hommeltuie wat gebruik word nie, maar duur, groot modelle, wat dui op operateurs met finansiële steun, moontlik georganiseerde misdaadgroepe. Daar is sterk persepsies dat dié gebruik aan sindikate gekoppel is.
Prof Raath sê die beperkings wat op private gebruik van hommeltuie van toepassing is, is vervat in sekere burgerlugvaartregulasies:
- Hommeltuie mag net binne sigafstand van 500m gevlieg word en nie snags nie.
- Geen hommeltuig mag hoër as 120m bo grondvlak of binne 300m van ’n struktuur gevlieg word nie.
- Geen vliegaktiwiteit mag binne 50m van mense of oor nasionale paaie plaasvind, tensy die operateur oor ’n afstandsoperateursertifikaat (ROC) beskik nie.
- Hommeltuie mag nie binne 10km van ’n lughawe gevlieg word nie.
- Grondeienaars se toestemming moet verkry word vir vliegaktiwiteit op hul eiendom.
- Gebruik vir misdade soos privaatheidsoortredings is onregmatig.
- Operateurs moet die reg op privaatheid respekteer, en inbreuk kan lei tot regshandelinge en boetes tussen R5 000 en R42 000, of tronkstraf.
- Maatskappye en verkopers kan skuldig bevind word as hulle nie kopers oor wetgewing inlig nie.

’n Gebeurlikheidsplan
Volgens dr Buys het die polisie meer as 19 misdaadkodes op sy MAS-stelsel (misdaadanalise-stelsel) geregistreer wat verband hou met oortredings wat deur hommeltuie – of die operateurs – gepleeg kan word. VL het op grond hiervan ’n gebeurlikheidsplan vir hommeltuig-voorvalle opgestel en aan boerderygemeenskappe in die provinsie versprei.
Die plan bestaan uit agt stappe wat in werking gestel kan word wanneer hommeltuie, veral tydens nagtelike ure, oor plase vlieg:
- Dokumentasie van die voorval: ’n Boer moet die datum, tyd, GPS-koördinate (plaasnaam), die aantal hommeltuie en indien moontlik, ’n foto van die waarneming aan die veiligheidsverteenwoordiger van die plaaslike landbouvereniging stuur.
- Aanmelding by die polisie: Die plaaslike gemeenskapsdienssentrum (GDS) van die polisie moet gekontak word, en ’n voorvalleboek (VB)-verwysingsnommer moet verkry word. Hierdie nommer moet ook aan die veiligheidsverteenwoordiger van die betrokke landbouvereniging deurgegee word.
- Indiening by die BLO: Sodra VB-nommers in ’n bepaalde area verkry is, sal die BLO-vorm voltooi word en vir ondersoek voorgelê word.
- Onafhanklike ondersoek: Die BLO kan ’n onafhanklike kontrakteur aanstel om met die ondersoek van die hommeltuigbewegings te help.
- Tendensbepaling: Daar moet ’n patroon vasgestel word om te bepaal wanneer en waar hommeltuie vlieg, en of spesifieke areas geteiken word. Hierdie inligting moet tydens maandelikse vergaderings met die polisie gedeel word.
- Kriminele ondersoek: ’n Formele ondersoek deur die BLO kan daartoe lei dat kriminele klagte aanhangig gemaak word indien die eienaars of oorsprong van die hommeltuie bepaal word.
- Aanmelding van misdrywe: Landbouers word versoek om alle misdaadvoorvalle op hul plase aan hul veiligheidsverteenwoordiger én aan die polisie te rapporteer. Dit help om vas te stel of daar ’n verband tussen misdrywe en hommeltuigbewegings bestaan.
- Moet hommeltuie nie afskiet nie: Landbouers word versoek om hommeltuie nié af te skiet of om hulle te probeer afskiet nie, veral as daar meer as een hommeltuig in ’n area vlieg. Dit kan tot ’n kriminele oortreding van kwaadwillige saakbeskadiging lei en is ’n oortreding van BLO-regulasies.
Aanmelding is belangrik
Prof Raath, sê daar is bestaande samewerking tussen die polisie en landelike veiligheidstrukture met steun van kameranetwerke en data-analise-sagteware. Wanneer hommeltuigbewegings aangemeld word kan data ontleed word om patrone te identifiseer wat moontlik met misdaad verband hou. Indien misdade soos veediefstal plaasvind waar hommeltuie gesien is, kan dié inligting help om ondersoeke te rig en moontlik ’n verband met ’n spesifieke hommeltuig te bepaal.
Hy beklemtoon hoe belangrik dit is om sulke voorvalle by veiligheidstrukture of die polisie aan te meld. Hy versoek dat alle hommeltuigvoorvalle formeel aangeteken word sodat bewegings gemonitor en operateurs geïdentifiseer kan word. – Christal-Lize Muller Plaas Media
Vir meer inligting kontak prof Andries Raath by RaathA@ufs.ac.za of dr Jane Buys by jane@vslandbou.co.za.

