Estimated reading time: 7 minutes
- Skape se teelsiklus word beheer deur twee hormone, naamlik progesteroon en estrogeen. Progesteroon is dominant tydens dragtigheid en tussen die hitteperiodes of estrus. Wanneer progesteroon afneem, vermeerder estrogeen.
- Sinkronisasie van die trop ooie om op dieselfde tyd op hitte te kom, word bereik deur progesteroon kunsmatig te verhoog deur die gebruik van sponse of ’n T-vormige plastiekapparaat (PRID of CIDR) wat progesteroon afskei.
- Die hoofdoel van die tegniek is dat ooie as ’n groep binne ’n beperkte tyd van een of twee dae bevrug kan word.
- Die gebruik van sinkronisasiesponse of CIDR’e moet saam met hormoonstimulasie (dragtige merrieserum of DMS) gebruik word om die getal ooie wat op hitte kom, te vermeerder.
- Daar is egter ander minder sigbare risiko’s wat spruit uit die gebruik van sinkronisasie.
Skape se teelsiklus word beheer deur twee hormone, naamlik progesteroon en estrogeen. Progesteroon is dominant tydens dragtigheid en tussen die hitteperiodes of estrus. Wanneer progesteroon afneem, vermeerder estrogeen. Die ooi toon hittegedrag en kan met sukses gedek word. Die siklus duur 16 tot 17 dae in ’n skaap en 21 dae in bokke.
Sinkronisasie van die trop ooie om op dieselfde tyd op hitte te kom, word bereik deur progesteroon kunsmatig te verhoog deur die gebruik van sponse of ’n T-vormige plastiekapparaat (PRID of CIDR) wat progesteroon afskei. Terwyl dit die progesteroon afskei, kom die ooi nie op hitte nie. Wanneer die spons of CIDR verwyder word, daal die progesteroon en die ooi kom op hitte.
Bestuur die lamtyd
Die hoofdoel van die tegniek is dat ooie as ’n groep binne ’n beperkte tyd van een of twee dae bevrug kan word. Kunsmatige inseminasie (KI) kan dan meer doeltreffend aangewend word. Die ooie kan ook deur ramme gedek word, maar heelwat meer ramme word benodig.
Voortspruitend uit die gesinkroniseerde hitte sal die ooie wat met die eerste hitte ná sinkronisasie beset geraak het, binne ’n week of so klaar lam. Dit kan voeding en bestuur vergemaklik. Hulle kan vir ’n korter tydperk in krale, lande of lamhokke gehou word wat arbeid- en voerkoste verminder. Dit dra ook grootliks by tot die verbeterde bestuur van predatore – die beweerde hoofoorsaak van neonatale lammerverliese.
Die weer speel ’n geweldige groot rol in lamoorlewing. Die suidelike dele van die land waar hoofsaaklik met kleinvee geboer word, is onderhewig aan periodieke erge koue weer met sneeu en baie lae temperature wat vir ’n dag of meer duur. Die risiko vir groot vrektes indien die kouefront saamval met gesinkroniseerde geboortes is hoog. Dit kan tot ’n groot mate in minder ekstensiewe produksiestelsels bestuur word.
Lees hoe om siektes in ‘n intensiewe skaapstelsel te bekamp hier.
Hormoonstimulasie
Die gebruik van sinkronisasiesponse of CIDR’e moet saam met hormoonstimulasie (dragtige merrieserum of DMS) gebruik word om die getal ooie wat op hitte kom, te vermeerder. Die tydperk waarin ooie op hitte kom is ook korter en daarom sal kunsmatige inseminasie meer suksesvol wees. Indien die DMS-dosis verhoog word, sal dit ook lei tot ’n verhoging in die aantal meerlinge.
Die effek van DMS is verwant aan die dosis en dit mag gebeur dat ligter ooitjies ’n hoër dosis DMS kry en dan meerlinglammers kry, terwyl die algemene ervaring is dat dit swaarder ooie is wat meerlinge kry. Die gemiddelde gewig van meerlingooie is 3 tot 5kg swaarder as eenlingooie wanneer hulle tydens sonarondersoeke geweeg word. Die gebruik van DMS kan dus ooie wat fisiologies eerder ’n enkellam behoort te produseer, stimuleer om twee of drie lammers te kry. Hierdie lammers is dikwels ondergewig, die ooie kan nie voldoende biesmelk en melk produseer nie, en die vrektesyfer is dus baie hoog.
Die aantal meerlinge verhoog dikwels onvoorspelbaar en groot getalle drielinge (en selfs vier- tot seslinge) kom voor. Die risiko vir neonatale vrektes neem dramaties toe en dikwels oorleef nie een van die lammers nie. Dit is selfs vir die ooi gevaarlik en met verhoogde voeding sal baie ooie met vier-, vyf- of seslinge nie oorleef nie, hoofsaaklik omdat die volume van lammers die ooi se grootpenskapasiteit verminder. Ons sien amper jaarliks dat hierdie ooie nie oorleef nie of dat die meerderheid, of selfs al die lammers, binne-in die ooi vrek. Hierdie affekteer gewoonlik ’n klein groepie ooie, maar dit het potensieel ’n baie negatiewe effek op etiese persepsies.
Ongelukkig is daar ook produsente wat die gebruik van sinkronisasie, en veral hoër dosisse DMS, gebruik om hulle swak speenpersentasies te verbeter. Ons het al gesien dat produsente uit desperaatheid om te oorleef só baie DMS gespuit het, dat honderde drie-, vier- en vyfling-dragtige ooie gevrek het. Dit is uiters belangrik dat sinkronisasie slegs toegepas word nadat al die ander bestuursfaktore en genetika uitgesorteer is. Dit behoort die kersie op die koek te wees en nié ’n kortpad na meer lammers nie.
Duisende ooie word jaarliks gesinkroniseer en dit lewer ’n groot bydrae tot die verspreiding van beter gene en die oorlewing van lammers in lamstelsels. Onverantwoordelike aanwending kan lei tot groot werpsels en word deur aktiviste gebruik om die gebruik van hormone teen te staan.
Minder ooglopende risiko’s
Daar is egter ander minder sigbare risiko’s wat spruit uit die gebruik van sinkronisasie. Enkele gevalle is opgeteken waar ooie teenliggaampies teen DMS opbou. Daar is dikwels ooie wat, ten spyte daarvan dat sy die tipiese hoogs-doeltreffende ooi behoort te wees, glad nie dragtig word na die toepassing van sinkronisasie nie. Sy raak ook nie dragtig van die opvolgramme nie en soms is sy permanent onvrugbaar en moet geprul word. Daar is enkele gepubliseerde waarnemings hieroor, maar meer navorsing is nodig.
Sonarondersoeke toon dikwels dat meerlinglammers geweldig verskil wat hul ontwikkeling betref. In vyf- en seslinge is dit byna altyd so dat sommige lammers baie klein is. Daar kan veelvuldige redes wees.
Die normale siklus van soogdiere skep die regte toestande in die baarmoeder vir die vorming van die plasenta. In sommige soogdiere word selfs gesien dat die baarmoeder die endometrium, waar die plasenta moet aanheg, voor die volgende hittesiklus (soos menstruasie) uitskei. Die praktyk van sinkronisasie onderbreek hierdie herstel- of voorbereidingsproses en mag lei tot swak plasenta-ontwikkeling.
’n Verhoogde aantal swak lammers of uitsaklammers kom dikwels voor in kuddes waar sinkronisasie op groot skaal toegepas word. Daar is ander faktore wat ’n rol mag speel, soos die gebruik van ureum, mikotoksiene en plantaardige estrogene op weidings, maar dit is duidelik dat sinkronisasie in sekere troppe beslis ’n uitwerking op die lewenskragtigheid van sommige lammers het.
Ons sien dikwels dat lammers te klein is of vroeg gebore word sonder ’n duidelike oorsaak. Gebrekkige plasenta-ontwikkeling is dikwels die mees waarskynlike verklaring. Die plasenta heg op die negentiende dag aan die endometrium en indien die plasenta swak vorm of ontwikkel, sal die probleme dalk eers in laatdragtigheid sigbaar wees wanneer die fetus groot hoeveelhede voeding deur die plasenta moet ontvang. Ooie op goeie veld vorm ook meer plasentalobbe as dié in intensiewe stelsels.
Ons word dikwels geraadpleeg deur tropbestuurders wat kla oor ’n afname in speenpersentasie, ten spyte van verhoogde insette. ’n Paar faktore is gereeld teenwoordig:
- Sinkronisasie en veral ’n groter aantal meerlinge.
- Intensiewe stelsels waar mikotoksiene in die voer baie hoog is.
- Die gebruik van ureum wat ’n effek op minerale vertering, teenliggaampievlakke en dalk ook progesteroon en plasenta-ontwikkeling het.
Alhoewel die bydrae van elke faktor baie klein is, is die somtotaal ekonomies merkbaar. Indien sinkronisasie en hierdie ander faktore uitgeskakel word, is die verbetering soms dramaties binne ’n enkele seisoen.
Alternatiewe opsies
Tropbestuurders maak dikwels die fout om die voordele van sinkronisasie bloot te beoordeel op grond van die aantal lammers wat gebore word. Ons het verskeie ondersoeke gedoen en gevind dat daar in die praktyk meestal geen ekonomiese voordeel in sinkronisasie is nie.
Indien die addisionele koste van byvoorbeeld R100 per ooi gedeel word deur die ekstra lammers, is die koste per ekstra lam geweldig hoog. Indien die R100 per ooi eerder spandeer word aan prikkelvoeding en byvoeding tydens dragtigheid, sal dit ’n baie groter voordeel hê vir verhoogde lamoorlewing, speengewigte en wolproduksie.
Gesinkroniseerde ooie wat in die eerste dekking beset geraak het, lam oor ’n tydperk van sewe dae. Dit verhoog die doeltreffendheid van lamhokgebruik. Ongelukkig sal slegs 70% (maksimum) van ooie beset raak in die eerste dek- of KI-poging en die oorblywende 30% sal steeds oor ’n lang tydperk lam. ’n Ervare sonarondersoeker kan egter ooie in tien-dae-groepe uithaal, wat ook die voedingstydperk in die lamhokke dramaties kan laat afneem.
Die werklike kostevoordeel van sinkronisasie by lammerhokke is twyfelagtig. Die doeltreffende gebruik van ramgeslagsgeskiktheidondersoeke, siektebeheer, prikkelvoeding, koggelramme en genetiese seleksie vir vrugbaarheid, sal baie meer bydra tot volhoubaarheid as wat sinkronisasie bloot as produksietegniek kan bereik.
Sinkronisasie is noodsaaklik vir KI-verwante praktyke en het bygedra tot die doeltreffendheid van tussenkuddevergelykings van vaars met BLUP, maar die gebruik daarvan as ’n permanente produksie-inset het twyfelagtige waarde. Ons vind dikwels dat produsente dit as ’n statussimbool sien, maar wanneer dit krities ontleed word, is dit onvolhoubaar.
Daar is nie kortpaaie in veeboerdery nie. Gee eers meer aandag aan beplanning, genetiese vordering, weidingsbestuur en byvoeding, siektebeheer, in samehang met bruikbare rekords en monitering, voordat sinkronisasie oorweeg word. – Dr Johan van Rooyen, spesialispraktisyn in kuddegsondheid (kleinvee), Steynsburg Dierehospitaal
Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by veearts.sdh@nokwi.co.za of 082 463 3087.