Estimated reading time: 2 minutes
“Daar sal nooit weer in hierdie land ’n tekort aan entstof teen knopvelsiekte wees nie.” Dít was dr Danie Odendaal, direkteur van die Veearts Netwerk, se woorde nadat ’n vierde entstof teen dié siekte bekendgestel is.
Design Biologix se entstof vir beeste, Bovipox Reg.no. G3861 (Wet 36/1947), is vroeër die week bekendgestel.
Positief vir produsente
Knopvelsiekte kan ’n verwoestende invloed op ’n boerdery hê omdat dit tot ernstige produksieverliese kan lei. Hoewel die mortaliteit redelik laag is, kan die siekte tot ’n verlaging in melkproduksie, swak huid-gehalte, en onvrugbaarheid in bulle lei. Al dié faktore het ‘n direkte invloed op produsente se winsgewendheid.
Daarom is elke nuwe entstof welkom, sê James Faber, voorsitter van die nasionale rooivleisprodusente-organisasie (RPO). “Hoe meer rolspelers in die mark, hoe beter. As ’n mens skielik met ’n probleem sit met een verskaffer in jou omgewing, sal produsente ten minste nou ’n paar alternatiewe hê,” sê Faber. Nóg ‘n rede hoekom Faber dié nuwe produk verwelkom, is omdat dit daarop dui dat daar tóg nog registrasies plaasvind. Ten spyte van die feit dat dit baie jare geneem het vir Design Biologix se produk om registrasie te ontvang.
Vier entstowwe nou beskikbaar
Dr Odendaal sê dié nuwe entstof beteken dat daar nou vier verskillende entstowwe teen knopvelsiekte op die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar is. Buiten vir Design biologix se nuwe entstof het MSD Animal Health ook ’n entstof, Lumpyvax, Reg.No. G3673 (Wet 36/1947), Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het ’n entstof, Lumpy Skin Disease, Reg. No. G 0110 (Wet 36/1947), en Deltamune het Herbivac LS, Reg. No. G3955 (Wet 36/1947).
Hoewel daar onduidelikheid heers oor entstofbeskikbaarheid en -vervaardiging by OBP, is dr Odendaal seker dat die privaatsektor nou altyd entstof beskikbaar sal hê.
“Die MSD Animal Health-entstof is oorspronklik deur Design Biologix se span wetenskaplikes vervaardig, so die nuwe entstof sal uiteraard ’n kostevoordeel inhou omdat die waardeketting verkort word,” sê dr Odendaal. – Susan Marais, Plaas Media