Estimated reading time: 5 minutes
Rooivleisprodusente moenie dink dat hulle magteloos is om beter wins vir hulself te bewerkstellig nie, het Kobus Bester, direkteur van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) verlede week tydens die Rooivleisprodusente-organisasie Vrystaat (RPO Vrystaat) se kongres opgemerk.
Bester het baie klem geplaas oor die rol wat produsente binne die waardeketting kan speel om ’n hoër wins te genereer. Hy is van mening dat sterk leierskap dringend binne die rooivleisbedryf nodig is en dat die bedryf eintlik baie groot is.
Bester het spesifiek na die feit verwys dat Suid-Afrika verlede jaar 777 706 ton beesvleis geproduseer het en ten spyte van swakker omgewingstoestande het dit op ’n toename van 7,3% teenoor 2023 se produksiesyfer neergekom.
Hy sê daar is basies drie hoofrolspelers in die rooivleiswaardeketting: Die primêre produsente, voerkrale, en die abattoir. Hy raai boere aan om te gaan kyk by watter skakels hulle in die waardeketting pas en te kyk om dit uit te brei. “Maak die koek groter”, sê hy om te verwys na hoe ’n rolspeler meer uit die bedryf moet probeer kry.
BEK-kwessie bespreek
Angus Williamson, tweede visevoorsitter van die Nasionale RPO het die bek-en-klouseer (BEK)-uitbreking, aangespreek. Hy het gesê toe BEK in 2019 in Mtubatuba gebreek het, was die RPO van die eerstes op die toneel.
Die RPO het destyds reeds gevra dat beeste teen BEK ingeënt moet word en dat padblokkades gehou moet word om die vervoer van diere te verhoed, maar dit het nooit gebeur nie, sê Williamson. Daar is wel ’n siektebeheergebied (DMA) gestig om die uitbreek van BEK te probeer minimaliseer, maar die verspeiding daarvan het steeds plaasgevind. Die RPO wou hulle eie padblokkades in plek begin stel, maar is deur die staat verhoed om dit te doen.
Die RPO het toe verder gedruk om abattoirs vir BEK in die DMA oop te maak wat produsente die geleentheid sou gee om hul diere te kan verkoop en sodoende steeds ’n inkomste kon genereer. Ook hier het die staat hulle die deur gewys. Williamson sê egter: “Don’t make the innocent person a criminal.”
Swak beheer in DMA’s
William verduidelik dat die DMA’s oor 4,2 miljoen hektaar strek, maar daar is steeds geen beheer oor voertuie wat ’n DMA met vee in- of uitgaan nie. Ingevolge die beleid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Veediefstaleenheid, word persone wat diere onder sulke omstandighede vervoer slegs na hulle vertrekpunt teruggewys. Daardie persoon ry egter dan net ʼn kort afstand in die rigting van sy vertrekpunt, en neem dan ’n ompad na sy oorspronklike bestemming.
Risikobestuur
Kallie Cilliers, direkteur van kommersiële risiko-dienste en persoonlike verkope by IntegriSure, het meer gepraat oor hoe versekering produsente kan help. Hy het gesê dat ekonomiese bydrae, voedselsekerheid, volhoubare gebruike, en die deel van kennis die belangrikste aspekte van die boerderybedryf is, maar dat boerderye unieke uitdagings in die gesig staar en dat risikobestuur belangrik is batebeskerming, siektebestuur, en beleidnakoming (“regulatory compliance”).
Belangrikheid van identifisering
Mnr Albert Loubser, uitvoerende hoof van ID scan, het oor die belangrikheid van biometriese identifisering van vee gepraat. Met biometriese identifisering kan ’n produsent bewys lewer dat ’n bees aan hom behoort. Hy sê dit help met die hele proses van identifisering en naspeurbaarheid tot versekerbaarheid en finansiering.
Adv. Hannes du Preez van die SAPD se regsafdeling het klem daarop gelê dat produsente saam met die SAPD moet werk, hetsy deur hul diere te merk sodat hulle maklik herkenbaar is of om maandelikse SAPD-byeenkomste by te woon om probleme uitgelig.
Fokus op naspeurbaarheid
Dr Phillip Oosthuizen, bedryfshoof van die Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) het die RMIS se rol in die uitvoer van rooivleis bespreek en verduidelik hoe naspeurbaarheid gebruik word om die oorsprong van siektes en gehalte van vleis te bepaal. Dr Oosthuizen het gesê produsente moenie bang wees om nuwe tegnologie te gebruik nie. Die doelwit is om vertroue by kopers te kweek, sodat hulle rooivleis met vertroue kan koop omdat hulle weet waar dit vandaan kom. – Hano Higgs, Iniel Hugget en Miancke Jande van Rensburg, Universiteit van die Vrystaat