Tuesday, December 16, 2025

Stowebeesvleis: Egte plaaskos

Estimated reading time: 4 minutes

Plaaskos, vir my, is onthoukos of boerekos of stádige kos. Dit is die kos wat ons ma’s en oumas gemaak het in die dae toe hul nog huisvrouens (deesdae mos tuisteskeppers) was. Dis kos wat met liefde en geduld gaargemaak, geproe, en vertroetel is. Dit is nie ’n dis wat uit ‘30 Minute-geregte’ kom, of wat klaar half-gaar gekoop en net opgewarm word nie.

Plaaskos het ook nie regtig mates en afmetings in gramme en milliliter nie. Plaaskos word gebou met bietjie van dié en baie van dáái, met knypies, handjies, sopies, en ’n blikbeker vol (hoe groot die blikbeker moet wees weet nugter alleen).

Dit is hoekom jy nooit jou ouma se resep wat die eerste plek op die Randse Skou gekry het kan naboots nie, want jy weet nie of die ‘lepeltjie vol’ in haar notas ’n groot of ’n klein lepeltjie was, en of die lepeltjie opgehoop of afgeskraap moet wees nie.

Plaaskos moet dus geproe en aangepas word, met die belangrikste faktor dat dit op die einde na jou en die ander om die tafel se smaak moet wees. (’n Tweede skeppie is die maatstaf van sukses.)

Klik hier vir nog tradisionele resepte.

Dit benodig jy:

  • Beesvleis (genoeg vir ál die mense) wat skenkels, murgbene, en vetterige rib insluit. (Die vet en murg gee smaak aan die vleis en die gelatien van die skenkels bind die gereg.)
  • Uie (volgens jou smaak, in verhouding met die vleis).
  • Knoffelhuisies na smaak.
  • ’n Klompie heel kruinaeltjies (’n klompie is meer as ’n paar, maar minder as baie).
  • ’n Paar lourier-/suurlemoenblare (of ’n paar nou twee of meer is hang van die hoeveelheid vleis af).
  • So drie groot knype gemaalde koljander (een knyp is soveel soos jy tussen jou duim en nog twéé vingers kan vasvat).
  • So drie knype growwe swartpeper (sien verduideliking by koljander).
  • ’n Skud of twee fyn witpeper (besluit maar hoe vinnig jou houer skud).
  • Twee skeute asyn (dit is ’n ‘gluuug-gluuug’ van die bottel, nie ‘glug-glug’ nie, maar mag verskil as die bottel se bek wyd is).
  • ’n Klein handjie vol sout (gooi sout in jou handpalm tot ’n klein hopie vorm – eerder te min as te veel, want jy kan bysit maar nie weer uithaal nie).
  • ’n Vadoek aartappels (hang af hoeveel jy in die vadoek kan toebind, maar vat maar een-derde van die vleis se volume).
  • Genoeg mielieblom of meelblom (jy soek mos ’n láng sous aan die einde).

Ken jy jou vleissnitte? Klik hier vir meer inligting.

So maak jy:

  1. Braai al die bestandele tot voor die asyn, saam in ’n pot (’n swaar swartpot werk nie sleg nie) totdat die vleis en uie bruin raak, en bietjie aan die bodem begin vasskroei.
  2. Voeg die asyn by en skraap nou die skroeisel (nié brandsel nie) af. (Dit help vir smaak.)
  3. Voeg die sout by.
  4. Stowe die vleis vir ongeveer twee ure oor lae hitte tot amper sag. (NB: Gebruik bietjie water op ’n slag wat kort-kort bygevoeg word. Moenie die vleis met water bedek en kook nie.)
  5. Voeg aartappels by en stowe verder totdat die aartappels sag is.
  6. Proe aan die sous en voeg by wat nodig is totdat dit lekker is.
  7. Maak ’n láng sous met die mielieblom of meelblom.

So eet jy:

  • Plaaskos is vleis, rys, en aartappels. Jy het nou die vleis en aartappels, so sorg vir rys (of dalk vars brood) vir daardie heerlike sous.
  • Groen goed pas net nie mooi in by stowebeesvleis nie, so as jou gewete jou ry en jy voel jy móét slaai eet, probeer ’n soet-suur beetslaai met skywe vars uie in (die suur van die beet temper ook effens die vet van die vleis).

Geniet dit en as dit lekker was sal die mense weer skep. As hulle nie weer skep nie, was daar dalk ’n knypie, ’n handjie of ’n skeutjie verkeerd … Dan probeer jy volgende keer weer en nooi nuwe gaste! – Dr Frikkie Maré, Rooivleisprodusente-organisasie

Related

The story of coffee in South Africa

Estimated reading time: 7 minutes Coffee was introduced to South Africa in 1854 at a missionary station in KwaZulu-Natal, brought from the island of Bourbon...

Celebrating small-scale fig preserves

Estimated reading time: 5 minutes The principle behind making a preserve is to prevent and/or slow down the spoilage of a food product and maintain...

Beef Stroganoff-Maré

Estimated reading time: 5 minutes Stroganoff is, anders as wat baie van ons glo, nie ’n Russiese gereg nie, maar wel ’n Franse gereg wat...