Estimated reading time: 6 minutes
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Noord-Kaap het ’n paar jaar gelede ’n reëling getref om die bedryf letterlik na produsente te bring. Omdat afstande in die provinsie te groot is om rooivleisprodusente vinnig bymekaar te kry, doen die bestuur elke jaar moeite om roetevergaderings te hou waartydens hulle produsente op verskillende plekke toespreek en waar kenners ook inligting kan deel.
Vanjaar se vergaderings is op 1 Oktober in Upington en op 3 Oktober in Olifantshoek gehou.
Kry jou grond gesond
Dr Riana Jacobs Venter, ’n navorser van die Landbounavorsingsraad (LNR), het landbouers ingelig oor ’n projek wat die LNR-Plantbewaringnavorsingsinstituut tans onderneem oor grondgesondheid. Die doel is om te bepaal watter swamme in verskillende dele van die land in die grond voorkom en wat die impak daarvan op landbou is.
Sy sê die ideaal is om landbouers te bemagtig om ingeligte besluite op die plaas te neem. Grondgesondheid is ’n groot bydraer tot die sukses van ’n boerdery, hetsy dit ’n saai- of ’n veeboerdery is. Dit is ongelukkig ook ‘n boerdery-aspek wat maklik afgeskeep word. Die LNR het dus die projek aangepak met die doel om landbouers te help om die status van hul grondgesondheid te bepaal en te besluit wat gedoen moet word om dit te verbeter.
Alle produsente word genooi om betrokke te raak deur grondmonsters aan haar te stuur vir ontleding. Die resultate sal aan die produsente teruggestuur word. Sy sê hulle mikpunt is om al die legkaartstukkies bymekaar te kry om ’n nasionale prentjie te vorm van watter swamme waar in die land voorkom. Dan kan voortydige maatreëls getref word om elke landbougebied optimaal te benut deur die grond te verbeter.
Boere wat belangstel om by die projek betrokke te raak, kan dr Venter by 012 808 8000 skakel of ‘n epos stuur na jacobsR@arc.agric.za.
Veediefstal onder beheer
Kapt Koos Botes van die SA Polisiediens (SAPD) se Veediefstaleenheid, het ’n oorsig gegee oor die stand van veediefstal in die Upingtongebied. In die vyf maande voor die roetevergaderings, is 52 sake van skaapdiefstal aangemeld en 357 skape is gesteel. Veertien sake van bokdiefstal is aangemeld en 88 bokke is gesteel. Vier sake van beesdiefstal, waarin 18 beeste gesteel is, is aangemeld. Die diefstal van varke, perde en springbokke is ook aangemeld.
Hy het gesê die statistiek dui daarop dat die veediefstal in hierdie gebied minder is as in ander jare. Die Veediefstaleenheid het verskeie verdagtes in hegtenis geneem, van wie tien skuldig bevind is. Vier gevalle van onwettige jag is ook aangemeld en vier mense is in hegtenis geneem. Die straf daarvoor is R4 000 of ses maande gevangenisstraf.
Kapt Botes het die belangrikheid van tatoeëring van vee beklemtoon. In die tydperk waaroor hy verslag gelewer het, het produsente in vyf van die sake nie hul diere getatoeëer nie en hulle moes aangekla word. Hy het beklemtoon dat die polisie afhanklik is van inligting van die publiek. Veediefstal kan nie opgelos word sonder die hulp van produsente nie.
Impak van parasiete
Dr Riaan du Preez van MSD Animal Health het oor die impak van parasiete op die plaas, gesê dat 95% van alle parasiete op weiding voorkom. Dit moet reg bestuur word, aangesien parasiete geneig is om weerstand op te bou teen die aktiewe bestanddele in die spuitmiddels wat gebruik word. Die ideaal is om sensitiewe parasiete op die veld en op die diere te hou, sodat die diere kan leer om hulself te beskerm.
Uitdagings wat produsente in hul parasietbeheerprogram in gedagte moet hou, is:
- Die verkeerde aanwending van parasietmiddels.
- Produsente verstaan nie altyd die werking van produkte nie en verander van handelsname sonder om na die aktiewe bestanddele op te let.
- Middelgebruik word dikwels gebaseer op prys in plaas van gehalte.
- Produsente weet nie hoe weerstand opgebou word nie en behandel nie dit wat hulle nié kan sien nie.
- Hulle is onbewus van die ekonomiese impak van parasiete.
- Die impak van klimaatsverandering op parasietverspreiding en middelgebruik word nie in ag geneem nie.
- Veeartse is dikwels nie kenners van omgewingsparasiete nie.
Elke plaas moet ’n geïntegreerde parasietbeheerprogram hê. Faktore wat in ag geneem moet word sluit in anti-parasietmiddels, genetiese seleksie van vee, selektiewe geteikende behandeling, weidingsbestuur, selektiewe seisoenale behandeling en biosekuriteit op die plaas.
Ekonomie en finansies
Thuso Mokwa, bestuurder van landbousake by Nedbank, het oor finansiële beplanning vir ’n boerdery gesê dit is belangrik om die waardeketting waarin jy werk, te verstaan. Dit is ook belangrik om te besluit wie jy by jou boerdery gaan betrek en om jouself te vergewis van ekonomiese toestande, aangesien dit jou boerdery indirek beïnvloed.
Hy het die belangrikheid van beplanning beklemtoon. Langtermynbeplanning behels jou einddoel, maar om daar te kom moet jy ook korttermynplanne hê om risiko’s teen te staan. Suksesvolle produsente is geneig om altyd openhartig te wees met hul ‘vennote’ soos die bankier, produkadviseurs, makelaars en so meer. Elkeen van hierdie vennote is kenners op hul gebied en kan die produsent help om finansieel suksesvol te wees.
Voedingsprogramme is belangrik
Johan Botha van Oranjerivier Voere en het gesê produsente moet die regte voedingsprogramme vir hul vee volg. Daarvoor moet hulle die hulp van kenners inroep. Die regte voeding op die regte tyd het grotendeels te doen met diere se verskillende produksiestadia.
Daar is nie goedkoop kortpaaie in ’n voedingsprogram nie. Hy het gesê hoewel dit lyk asof dit ’n duur item in jou begroting gaan wees, jy op die lange duur sal wen deur die regte voeding op die regte tyd te gee. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting, skakel Yolande Botha, bestuurder van RPO Noord-Kaap, by 067 597 1866.