Estimated reading time: 7 minutes
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) is ’n organisasie deur produsente, vir produsente, en vervul ’n ondersteunende rol. Al het die RPO sedert sy stigting 38 jaar gelede al baie verander, bly die organisasie vasberade om elke moontlike uitdaging die hoof te bied in ’n poging om kosproduksie te verseker.
Dr Frikkie Maré, hoofbestuurder, het tydens die organisasie se kongres in Oktober by Nampo Park, gesê dit is tyd om te besin oor hoe met die rooivleisbedryf se uitdagings omgegaan word. Die proses van aanpassing en vernuwing het begin, en daar is lesse te leer uit die vark- en graanbedrywe se vernuwingprosesse. Die RPO beplan om in 2025 op verskillende platforms met sy lede te kommunikeer oor die rigting wat die organisase die volgende vyf tot tien jaar wil inslaan. Kyk hier na dr Maré se toespraak tydens die kongres.
Produsente se rol
Kobus Bester, ’n stoetteler van Ventersdorp en rasdirekteur van die Simbra-beestelersgenootskap asook ‘n direkteur van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF), het by dr Maré aangesluit. Hy glo vernuwing in die bedryf is nou noodsaaklik. Produsente het ’n belangrike rol om te speel en ag moet geslaan word op die sienings wat hulle oor die RPO het. Talle produsente verkeer onder druk en is dan veral krities teenoor hul produsente-organisasies.
Daar is talle uitdagings in die bedryf, het hy gesê, maar dit kan deur werklike betrokkenheid oorkom word. Een hiervan het betrekking op menings oor die statutêre heffing. Bester het gesê hy beskou die heffing van R13,65 per bees, wat eenmalig by die produsent by slagting ingesamel word, as ontoereikend, aangesien dit minder as 0,1% van die karkaswaarde uitmaak. Die idee dat die RPO baie geld uit hierdie heffing ontvang, is ongegrond.
Daarmee saam het die RPO nie altyd die besluitnemingsmag om invoere te beheer nie – dit gebeur op grond van regeringsooreenkomste. Hy het produsente aangeraai om die groter prentjie van handel tussen lande te bestudeer en daarop gewys dat die RPO nié die regering is nie. Sekere stappe ten opsigte van die inperking van veebeweging, invoere vanaf buurlande en dies meer val nie binne die RPO se magte nie.
Strukture met ‘n visie
Bester het benadruk dat die RPO ’n lid van die rooivleiskluster is wat Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) in die lewe geroep het om bepaalde dienste te lewer en klusterlede se doelwitte te help bereik. RMIS bestuur ’n statutêre heffing van R42 miljoen per jaar, maar hierdie bedrag is nie genoeg om ’n groot impak te maak nie. Die RMIS probeer egter hard om ’n verskil te maak en sy fokus is tans op diere- en openbare gesondheid, marktoegang, inklusiewe groei, mededingendheid en volhoubaarheid.
Om die rooivleisbedryf se visie vir 2030 te bereik, is ’n toename van R8,3 miljard per jaar in bruto produksiewaarde nodig. Om dit te bereik moet 250 000 meer speenkalwers geproduseer word. Groei van 20% in uitvoermarkte is nodig. ’n Toename van R12 miljard in die rooivleisbedryf se jaarlikse ekonomiese groeipotensiaal is nodig om in hierdie visie te slaag.
Bester het gesê die uitvoer van beesvleis het in die eerste ses maande van 2024 toegeneem in vergelyking met 2021 tot 2023, maar die prys per kilogram het met 15% afgeneem. Daarmee saam het beesvleisproduksie in die afgelope 15 maande met 1,7% toegeneem, terwyl die vraag met 0,2% afgeneem het.
Albei tendense moet verbeter word. Juis daarom moet voldoende naspeurbaarheid en vleisgradering dringend in plek kom. Hy het gesê ’n siening bestaan dat slegs 7% van ’n karkas uit hoë-waarde snitte bestaan. ’n Studie deur prof Arnold Hugo van die Universiteit van die Vrystaat en dr Maré oor ’n moderne benadering tot bloktoetse, het boonop bevind dat dit eintlik 31,44% van die verkoopbare vleis in ‘n beeskarkas is wat uit hoë-waarde snitte bestaan.
Bester het gesê ’n groter karkas bied ook die moontlikheid om meer en ander tipe snitte te produseer, maar abattoirs sal aanpassings moet maak, waaronder hulle fasiliteite. ’n Beter en nuwer vleisgraderingstelsel kan markte oopstel en vraag stimuleer. Suid-Afrika het ’n goeie produk, maar ’n stelsel is nodig om dit te identifiseer en ’n betroubare eetervaring te bied. Hy het die hoop uitgespreek dat die RPO byvoorbeeld ‘n bydrae kan lewer deur die aanspreek van vraagstukke soos die 1,2% dripverlies waarop produsente gepenaliseer word, of velle en huide wat deesdae geen waarde het nie. Kyk hier na Kobus Bester se voordrag tydens die kongres.
Die vark- en graanbedrywe
Dr Peter Evans, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (Savpo), het gesê die organisasie ondersteun sy lede met die nodige inligting vir goeie besluitneming. As diensorganisasie fokus Savpo ook op doeltreffende skakeling met die regering en verseker verbruikersekerheid deur sy vrywillige program, Pork 360.
As ’n selfregulerende organisasie pas Savpo self regulasies soos dié van voermeulens toe, aangesien die meeste varkprodusente tuismengers is. Dr Evans het beklemtoon dat selfregulering prakties en doelwitgedrewe moet wees. Kyk hier na dr Evans se voordrag tydens die kongres.
Dr Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA, het gesê die RPO is vir hulle ’n belangrike susterorganisasie. Goeie samewerking is noodsaaklik weens gedeelde belange soos grond, water, ’n voordelige ekonomiese stelsel en graan as voedingsbron vir vee. Graanuitvoer is voordelig, maar meer waarde word toegevoeg wanneer gesonde Suid-Afrikaanse voer vir plaaslike beeste gebruik word. Dit help om buitelandse valuta te verdien en die plaaslike ekonomie te laat groei. Kyk hier na dr Doyer se toespraak tydens die kongres.
Hy het gesê Suid-Afrika het sterk gemeenskapsorganisasies nodig om saam met die regering te werk om wette en regulasies te handhaaf. Gemeenskapsorganisasies speel ’n belangrike rol sonder ’n winsoogmerk en streef daarna om die wêreld ’n beter plek te maak.
Vir meer inligting oor die afgelope kongres, stuur ‘n epos na corine@rpo.co.za. – Christal-Lize Muller, Plaas Media