Estimated reading time: 5 minutes
- Veeboerdery is ‘n belangrike skakel in Suid-Afrika se voedselsekerheidsketting, maar uitdagings soos roofdierverwante verliese kan die finansiële sekuriteit van ‘n boerdery lelik knou.
- Terwyl die direkte impak van predasie in veeverliese gesien word, is vlakvarke se impak eerder indirek. Hulle veroorsaak ernstige skade aan die natuurlike omgewing en infrastruktuur soos heinings. Laasgenoemde het nie net ‘n koste-aspek nie, maar skep ook gerieflike toegang vir ander roofdiere.
- Bahta, Maré en Van Niekerk (2022) se navorsing toon dat dit moontlik is om die direkte en indirekte ekonomiese impak van predasie te kwantifiseer, spesifiek in terme van produksieverliese. Hulle studie het bevind dat predasie ’n stroomaf ekonomiese impak van R3 806 miljoen op grootvee en R648 miljoen (2015) op kleinvee gehad het.
- Dan is daar die indirekte impak op veeproduksie en prestasie. Die teenwoordigheid van roofdiere is byvoorbeeld ’n stresfaktor vir vee.
- Die ‘roep en skiet’-benadering bestuur roofdierbevolkings dalk doeltreffend, maar bewaringsgesindes argumenteer dat wetgewing roofdiere moet beskerm sodat ‘n balans in die ekostelsel gehandhaaf kan word.
Veeboerdery is ‘n belangrike skakel in Suid-Afrika se voedselsekerheidsketting, maar uitdagings soos roofdierverwante verliese kan die finansiële sekuriteit van ‘n boerdery lelik knou. Op ’n skaapplaas moet elke ooi ten minste een lam per jaar suksesvol grootmaak en speen. Hierdie doelwit word egter deur roofdiere bedreig en deesdae dra die groeiende vlakvarkbevolking ook tot die risiko by.
In hul navorsing op grond van 2012-data, het Hoffman, Leslie en Swanepoel (2016) bevind dat produsente in die Noord-Kaap en Vrystaat vlakvarke met skade aan infrastruktuur assosieer. Die afgelope tyd word al hoe meer vlakvarke op plase gesien en dit lyk asof die 2012-tendens homself herhaal.
Terwyl die direkte impak van predasie in veeverliese gesien word, is vlakvarke se impak eerder indirek. Hulle veroorsaak ernstige skade aan die natuurlike omgewing en infrastruktuur soos heinings. Laasgenoemde het nie net ‘n koste-aspek nie, maar skep ook gerieflike toegang vir ander roofdiere.
Bahta, Maré en Van Niekerk (2022) se navorsing toon dat dit moontlik is om die direkte en indirekte ekonomiese impak van predasie te kwantifiseer, spesifiek in terme van produksieverliese. Hulle studie het bevind dat predasie ’n stroomaf ekonomiese impak van R3 806 miljoen op grootvee en R648 miljoen (2015) op kleinvee gehad het.
Dan is daar die indirekte impak op veeproduksie en prestasie. Die teenwoordigheid van roofdiere is byvoorbeeld ’n stresfaktor vir vee. Stres kan die vrystelling van kortisol veroorsaak wat groei kan beïnvloed. Dragtige koeie kan aborteer of diere kan hul weidingsgedrag verander. Dit kan tot ondoeltreffende weigewoontes en dus ‘n verlies aan teeldiere lei, wat weer die kudde se genetiese gehalte en basterkrag kan beïnvloed. Die komplekse aard daarvan maak die kwantifisering van indirekte predasie-impak ’n uitdaging.
Lees meer oor doelgerigte predasiebeheer hier.
’n Vergoedingsprogram
Talle veepredasieprogramme regoor die wêreld bied wisselende premies om direkte verliese op grond van die markwaarde van diere te verhaal. In die Verenigde State bedryf die meeste state programme wat produsente teen 75% van markwaarde vergoed indien bewys kan word dat veeverliese uit predasie voortspruit.
Kalifornië bedryf ’n loodsvergoedingsprogram wat die breër impak van veepredasie verder as net direkte verliese neem. Hierdie loodsprogram dek direkte én indirekte verliese weens predasie, insluitend vergoeding vir die gebruik van nie-dodelike tegnieke om wolwe af te skrik (Swenson, 2023). Die program vergoed produsente ook as hulle naby gebiede met wolwe boer. Vergoeding vir potensiële stres onder vee geskied teen 3% van die totale markwaarde per dier.
Moontlike oplossings
Die ‘roep en skiet’-benadering bestuur roofdierbevolkings dalk doeltreffend, maar bewaringsgesindes argumenteer dat wetgewing roofdiere moet beskerm sodat ‘n balans in die ekostelsel gehandhaaf kan word. Vee- en roofdierspesies ding om dieselfde habitatte mee, maar die bydrae wat veeproduksie tot voedselsekerheid en inkomste lewer, beteken veekuddes kom eerste en dit is moeilik om produsente te oortuig om roofdiere te laat leef.
Veeverliese kan verminder word indien die fokus van predasiebestuur na doeltreffende veebestuur verskuif. Dit is bewys dat isolering deur middel van elektriese heinings of versperrings, veral van ooie in die lamseisoen, ’n baie doeltreffende bestuurspraktyk is. Dit verminder lamverliese weens predasie (Figuur 1) en bevorder terselfdertyd ook ’n gevoel van veiligheid onder troppe en kuddes.
Figuur 1: Veeverliese tot en met speen. (Bron: Viljoen, 2020, Livestock & Predation Management, Predation Management South Africa [PMSA])
Die gebruik van donkies, alpakkas en Anatoliese herdershonde in kombinasie met isolasiepraktyke, verhoed ook dat roofdiere ’n spesifieke gebied binnegaan. ’n Opname deur Botha in 2018 toon dat hierdie ‘oppassers’ predasie met 50 tot 75% verminder. Veral Anatoliese honde sal vlakvarke verhoed om die heinings van isolasiekampe te beskadig en toegangspunte vir roofdiere te skep. Om verliese selfs verder te beperk, is bewys dat ’n ‘roep en skiet’-benadering die doeltreffendste manier is om roofdiergetalle in ’n gebied te verminder.
Om die ware impak van predasie egter te verstaan, is nog navorsing nodig. ‘n Beter begrip vir die indirekte uitwerking van predasie op veeproduksie en -prestasie sal voorsiening maak vir ’n meer akkurate beoordeling van die impak daarvan. Dit kan progressiewe bestuur en beleidsgesprekke bevorder. – Siphiwe Tshabalala en Meyer van der Merwe, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat
Vir meer inligting of verwysings, stuur ’n epos aan TshabalalaS1@ufs.ac.za of VanDerMerweM10@ufs.ac.za.