Estimated reading time: 6 minutes

Mense vra hom dikwels waarom hulle koeie se spene in die winter bars, selfs al gebruik hulle ’n speendoop of ’n speensproei, vertel veterinêre spesialis, dr Chris van Dijk. In die winterreënvalstreke soos die Wes-Kaap, is sy antwoord, sal dit feitlik onmoontlik wees om veral omgewingsmastitis onder beheer te hou indien daar nie van ’n voormelk- sowel as námelkspeendoop of -sproei gebruik gemaak word nie.

Die kuddeveearts se rol in melkkudde-sukses.

“In die winterreënvalstreke gebeur dit dikwels dat die koei se uier op een of ander stadium met nat, misbedekte grondoppervlaktes in aanraking kom en dan moontlik met omgewingsbakterieë besmet kan raak. Die gebruik van ’n uierwasmiddel wat vir gebruik vóór melking geregistreer is, kan die voorkoms van omgewingsmastitis met tot 70% verminder.”  

Hy sê hoewel speendoop slegs een van die talle hulpmiddels is wat optimaal toegepas moet word om mastitis tot die minimum te beperk, word dit aanbeveel dat die gebruik van ’n speendoop onder geen omstandighede tydens die wintermaande gestaak word nie. Daar kan en moet in die meeste gevalle egter ’n aanpassing ten opsigte van die velversagmiddels in die speensproei of -doop gemaak word.

“Middels soos gliserien en lanolien word spesifiek by speendope en speensproei ingesluit om soepel spene sonder barsies in die vel, te verseker. Gliserien het ’n matige kiemdodende effek, maar dit word spesifiek ingesluit om speenirritasie te voorkom en velgesondheid te verbeter. Lanolien, daarenteen, is ’n velbevogtiger wat maklik deur die vel geabsorbeer word en genesing van barsies in die vel van die spene versnel.”

Die impak van wind en koue

Almal weet watter effek wind op ’n koue wintersoggend op die aanvoelbare temperatuur het. “Hitteverlies deur die vel van die dier en die mens, word deur die omgewingstemperatuur en windspoed beïnvloed. Hoe vinniger die wind waai, hoe meer hitte word van die liggaam af ‘weggedra’, met ’n gevolglike daling in liggaamstemperatuur.”

Om die effek van windspoed op die aanvoelbare temperatuur te illustreer, gebruik dr Van Dijk die inligting in Tabel 1. So is dit byvoorbeeld duidelik dat daar feitlik geen effek op die aanvoelbare temperatuur is wanneer die wind teen 5km/h waai nie. As die wind egter teen 25km/h waai, sal ’n 0˚C-omgewingstemperatuur baie gou na -11˚C daal.

Tabel 1: Die effek van windspoed op die aanvoelbare temperatuur. 

 Temp. (oC)Windspoed (km/h)
510152550
1010852-1
5520-4-9
00-2-6-11-17
-5-4-8-12-17-24
-10-9-13-18-24-32

“In die meeste dele van ons land word dit selde kouer as -10˚C in die winter, maar uit die tabel is dit duidelik dat -10˚C in ’n aanvoelbare temperatuur van 32˚C verander by ’n windspoed van 50km/h. Wanneer die aanvoelbare temperatuur onder 0˚C daal, kan ons die uitdroog en bars van spene begin verwag. Dit is dan dat ’n versagmiddel soos gliserien of lanolien, of beide, in ’n speendoop ingesluit moet word.”

Indien ’n námelk-speensproei gebruik word, beklemtoon hy, is dit belangrik dat die spene ná blootstelling van 30 sekondes aan die speensproei afgedroog word, of dat die diere vir een tot twee minute langer in die melkportaal gehou word om seker te maak dat die koeie nie met nat spene na buite uitgaan nie.

“Wind plus koue op nat spene,” sê dr Van Dijk, “kan maklik tot vriesbrand lei. Tydens die melkproses verloor die vel van die spene baie van sy natuurlike olies, en versagmiddels soos gliserien en lanolien sal dan hierdie belangrike olies vervang.”

Ander aspekte wat in die wintermaande aandag moet kry, is die voer van ’n optimale, gebalanseerde rantsoen met veral voldoende vitamiene A en E asook spoorelemente soos sink en selenium. “Daarby moet die koeikampe so droog as wat prakties moontlik is gehou word, en doeltreffende windbreke of -skerms kan ook oorweeg word in gebiede waar die wind in die winter baie sterk waai.”

Hoewel speendoop maar een van baie maniere is om mastitis tot die minimum te beperk, word aanbeveel dat die gebruik daarvan onder geen omstandighede in die wintermaande gestaak word nie.

Riglyne vir speendoop

Volgens die bekende uiergesondheidspesialis, dr Inge-Marie Petzer van die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Veeartsenykunde by Onderstepoort, is die doel van voormelkse speendoop om die vlak van patogene wat op die speenvel voorkom te verminder, voordat die melkingseenhede aan die spene gesit word.

Speendoop, beveel sy aan, moet aan skoon spene gesit word en vir 20 tot 30 sekondes aangelos word, waarna dit met ’n weggooibare papierdoek afgevee moet word. Wanneer dit té gou afgevee word, is die kontaktyd te kort vir die ontsmettingsmiddel om sy werk te doen. Bly dit te lank aan, word die speendoop op die spene droog en kan dit nie behoorlik afgevee word nie. Dit kan veroorsaak dat residue in die melk beland.

Námelkse speendoop, sê sy, is ’n noodsaaklike element van die melkroetine en kan tot 50% van nuwe uierinfeksies gedurende ’n laktasie voorkom. Dit is veral belangrik dat die hele speen met speendoop bedek word by kuddes wat met aansteeklike mastitisorganismes besmet is.

Speenkanale, verduidelik sy verder, bly ná melking oop – van 30 minute tot etlike ure. Speendoop maak mikroörganismes op die speenvel en -opening dood, en het ’n nawerking om spene tussen melkings teen omgewingsmikroörganismes te beskerm.

Dit is uiters belangrik dat die hele speen met die doop bedek word, en nie net die speenpunt of een kant van die speen nie. Speenkelke word dus aanbeveel, maar omdat die gevaar bestaan dat die speendoop self deur skadelike organismes besmet kan raak en aan die volgende koei oorgedra kan word, word nie-terugvloeibare speendoopkoppies aanbeveel.

Die sproei van spene, waarsku sy, gee net die gewenste bedekking as dit baie sorgvuldig aangewend word, wat in die praktyk dikwels nie die geval is nie, veral waar ’n spuitkop gebruik word wat van die kant af sproei, eerder as van onder af.

Tye van hoë risiko

Die begin en einde van ’n melkkoei se droë tydperk is die hoogste risikotye vir nuwe uierinfeksies, sluit dr Petzer af. Die druk wat as gevolg van melkstase binne-in die uier ontwikkel, forseer die speenkanaal van binne af oop en veroorsaak ’n ‘snelweg’ waarlangs mikroörganismes die uier binnedring.

Dit is daarom raadsaam om droë koeie se spene regdeur hul droë siklus te doop, sodat die speenopening minder vatbaar sal wees vir mikroörganismes. Die twee belangrikste venstertydperke is die eerste twee weke ná opdroog en die laaste twee weke vóór kalwing. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan
dr Chris van Dijk by dairyvetza@outlook.com, of aan
dr Inge-Marie Petzer by inge-marie.petzer@up.ac.za.

noodhulpkas, Dormers, predasiebeheer