Estimated reading time: 3 minutes
Rietbron het op Vrydag, 31 Oktober weer sy vere reggeskud vir die tweede Angorabok– en Merino-skou wat daar gehou is met die samewerking van die Rietbron-landbouvereniging, die skoukomitee en die Rietbron-vroueklub.
Strate is afgesper en heinings is verskuif om plek te maak vir die opwindende gebeurtenis en die diere is onder ’n groot markiestent vertoon. Vertoners het van so ver as Steytlerville, Murraysburg en selfs Humansdorp gekom om die dag by te woon, en plaaslike boere het ook weer hul getroue ondersteuning gebied.
In totaal is 320 diere aangebied, waarvan 190 Merino’s en 130 Angorabokke. Die gehalte van die diere was puik en dit was ’n besondere prestasie om vanjaar ’n plek onder die top drie by die skou te behaal. Vertoners kon hul diere in ’n verskeidenheid klasse inskryf: die Angorabokke het agt verskillende klasse en die Merino’s 17 klasse gehad. Die wenners het met waardevolle pryse weggestap, insluitend doseermiddels, afrondpille, kunsmis en geskenkbewyse.
Uitslae van die dag
Angorabokke
| Klas | Beskrywing | Kampioene |
| 1 | Kudde: langhaar, groep van drie bokke | Luther Matthee (Rietbron) |
| 2 | Kudde: langhaar, individuele bok | Luther Matthee (Rietbron) |
| 3 | Kudde: korthaar, groep van drie bokke | Kobus van Rensburg (Rietbron) |
| 4 | Kudde: korthaar, individuele bok | MJ Murray (Rietbron) |
| 5 | Stoet: langhaar, groep van drie bokke | Isak van der Merwe (Aberdeen) |
| 6 | Stoet: langhaar, individuele bok | Isak van der Merwe (Aberdeen) |
| 7 | Stoet: korthaar, groep van drie bokke | Benjohan Snijman (Rietbron) |
| 8 | Stoet: korthaar, individuele bok | Albert Eybers (Rietbron) |
Merino’s
| Klas | Beskrywing | Kampioene |
| 1 | Langwol: ooilam, 35kg en minder | William Eybers (Rietbron) |
| 2 | Langwol: ooilam, 36–50kg | William Eybers (Rietbron) |
| 3 | Langwol: ramlam, 40kg en minder | Wian Venter, Slypfontein Merino’s (Loxton) |
| 4 | Langwol: ramlam, 41–55kg | Kurt Eybers (Rietbron) |
| 5 | Kortwol: ooilam, 40kg en minder | Wian Venter, Slypfontein Merino’s (Loxton) |
| 6 | Kortwol: ooilam, 41–60kg | Kurt Eybers (Rietbron) |
| 7 | Kortwol: ramlam, 54kg en minder | Johan du Plessis (Uitenhage) |
| 8 | Kortwol: ramlam, 55–75kg | Jaco Potgieter, Groep 3 Merino’s (Graaff-Reinet) |
| 9 | Kortwol: 2–4-tandooi, 41–65kg | Theroux Kemp, Perdegrasvlei Merino’s (Fraserburg) |
| 10 | Kortwol: 2–4-tandram, 75kg en minder | Johan du Plessis (Uitenhage) |
| 11 | Kortwol: 2–4-tandram, 76–100kg | Theroux Kemp, Perdegrasvlei Merino’s (Fraserburg) |
| 12 | Langwol: ooilam, 40kg en minder | Husky Esterhuizen (Aberdeen) |
| 13 | Langwol: ooilam, 41–60kg | Wian Venter, Slypfontein Merino’s (Loxton) |
| 14 | Langwol: ramlam, 54kg en minder | Johan du Plessis (Uitenhage) |
| 15 | Langwol: ramlam, 55–75kg | Roeloe van Heerden (Murraysburg) |
| 16 | Langwol: 2–4-tandooi, 45kg en minder | Roeloe van Heerden (Murraysburg) |
| 17 | Langwol: 2–4-tandooi, 46–65kg | Roeloe van Heerden (Murraysburg) |
Daar was stalletjies te kies en te keur, met ’n wynproesessie wat deur Boplaas Wyne en The Fledge & Co. aangebied is. Die gassprekers Gerda Hayward en André Fouché was ook by die landbouskou te sien. Ná die skou het jongmanne hul kragte gemeet in tag-rugby, terwyl die gaste die wynproe geniet en in die gesellige atmosfeer gekuier het.
’n Veiling is tydens die aandfunksie gehou, en soos altyd het die vure hoog gebrand terwyl daar gebraai, gesels en gedans is. Armand Steenkamp het vir uitstekende vermaak en ’n vrolike afsluiting van die geslaagde dag gesorg.
Om op ’n klein dorpie soos Rietbron ’n skou van hierdie omvang aan te bied, vereis spanwerk en ’n gemeenskap wat saamwerk. Die organisasie waardeer die hulp van al die borge, deelnemers en ondersteuners waarsonder hierdie dag nie moontlik sou gewees het nie. – Liesl Strydom, Rietbron-landbouskou

























