Monday, December 15, 2025

Beef Stroganoff-Maré

Estimated reading time: 5 minutes

Stroganoff is, anders as wat baie van ons glo, nie ’n Russiese gereg nie, maar wel ’n Franse gereg wat net na ’n Rus genoem is. Dit maak eintlik baie sin, want ek glo nie die Russe kan iets so ryk en lekker uitdink nie.

Dit is eintlik ’n baie eenvoudige storie, mushrooms (ja, ja, ek weet dit moet eintlik sampioene wees, maar wys vir my ’n Afrikaanse persoon wat van sampioene en kapokaartappels praat – dit is mushrooms en mash, en klaar) en beesvleis in ’n roomsous. Tog is daar ’n horde resepte wat die rondte doen en waarvan die voorbereiding van 20 minute tot by die 3 ure neem.

Hierdie is my poging, saamgeflans uit wat ek gesien het ander doen, en aangepas tot dit vinnig, maklik, en lekker is.

Wanneer ek ’n resep lees, kyk ek net na wat ek moet ingooi, nie hoeveel nie. Ek wil mos mý kos vir jou gee, nie iemand anders s’n nie. Kook is dus die skryf van ’n storie wat op ’n bord gepubliseer word. My storie en jou storie oor dieselfde gebeure gaan verskil, so hierdie is die riglyne van my storie en nie ’n resep vir jou storie nie.

Lees meer hier oor die kompleksiteit van die in- en uitvoer van rooivleis.

Die woorde is redelik eenvoudig:

  • Rys (ek hou van Basmati, maar ander kan ook werk)
  • Mushrooms (’n bakkie van die gemengde wilde soorte is die lekkerste)
  • Beesvleis (verkieslike repies, maar blokkies werk 100%)
  • Ui (een of twee, dit hang af van die grootte)
  • Suurroom (een standaard houertjie is meer as genoeg)
  • Knoffel (sommige sweer by vars, vir ander is die in ’n houertjie goed genoeg)
  • Koekmeel
  • Paprika
  • Sout en peper
  • Brandewyn
  • Nog ’n ui (indien hy rooi kan wees is dit heelwat mooier)
  • Agurkies (vat maar die sweet & sour, hulle moenie te soet wees nie)

Die skryf is nog makliker: 

Hoofstuk een: Sit ’n potjie rys op (vir ‘kwaad rys’, dit is nou los korreltjies, moet jy die rys afwater nadat dit so ’n paar minute gekook het. Vir ‘lief rys’, die wat so aanmekaar klou, moet jy dit nie afwater nie en langer kook).

Hoofstuk twee: Kerf die uie en mushrooms wat jy gaan gaarmaak so groot soos wat jy daarvan hou.  Terwyl jy nou met skerp goed werk, kerf die tweede ui (die een wat verkieslik rooi moet wees) in dun, halwe ringe, asook ’n paar agurkies (die hoeveelheid ui en agurkies moet min of meer dieselfde wees). Gooi van die agurkies se piekel water in ’n mooi bakkie, verhit tot kookpunt in die mikrogolf en gooi die ui (dis nou die rooie) in die kokende vloeistof sodat hy sy houding verloor. Wanneer die mengsel afgekoel het, voeg die gekerfde agurkies ook by. Meng deur en bêre vir later.

Hoofstuk drie: Braai uie in ’n pan met genoeg botter, vet, of olie (dit hang maar van jou gewete en smaak af wat jy wil gebruik). Voeg ’n bietjie later die mushrooms by en as hulle lekker warm is, die knoffel. Wanneer jy dink alles in die pan het genoeg gesels, geur met bietjie sout en peper, en krap dit in ’n bakkie uit vir later.

Hoofstuk vier: Besprinkel die vleisrepies of -blokkies met meel (so een tot een-en-’n-half eetlepels per 500g vleis), paprika (ook so een eetlepel), en sout en peper na smaak, en krap dit lekker deurmekaar sodat alles bedek is. Maak dieselfde pan as netnou (ek hou nie van baie skottelgoed nie) lekker warm, gooi nog botter, vet, of olie (party se gewetes gee nou in en hulle wyk van botter af na olyfolie toe) in die pan. Braai die vleis bruin aan een kant, en draai om. Moenie probeer om die vleis gaar te maak nie, gee dit net kleur, dit sal later gaar raak. Jy sal sien dat meel begin vassit in die pan, en hier span jy die brandewyn met die vry hand in om daardie taaiheit mee af te krap (dit maak ook die mooiste vlamme as jy op ’n gasstoof werk of ’n lighter naby bring, so ek beveel dit aan).

Hoofstuk vyf: Sodra die vlamme bedaar het (ek hoop van harte jy het nog jou wenkbroue), draai die hitte af en voeg die ui-mushroom-en-knoffel-mengsel by. Sodra alles lekker warm is skep jy so drie tot vier eetlepels suurroom (ongegeurde jogurt werk ook as jy gewetensprobleme het) oor om ’n lekker sousie te maak (die meel wat op die vleis was verdik die sous) en laat prut vir `n wyleAs die sousie te dun is, kook bietjie af, indien te dik, gooi nog room of jogurt (of melk vir die met gewetes) by.

Hoofstuk ses: Nou is dit tyd vir opdien. ’n Bed rys onder, die warm Stroganoff bo-oor, en dan besprinkel jy die hele hoop met die ui-en-agurkie-piekel (dit is nie vir mooiheit nie, dit is vir lekkerte, so skep genoeg op).

Ten slotte: Hierdie boek sit jy moeilik neer, veral op ’n wintersaand. Die storie is veronderstel om vier mense aan die lees te hou, maar drie verslind hom baie maklik. As jy dus al die lede van boekklub verwag, druk maar twee kopieë. Jy sal nie spyt wees, want môre lees hy net so lekker.

(In die winter eet ’n mens nie slaai nie. Punt. As jy meer groen goed soek saam met die storie sal ek aanbeveel dat jy baba-spinasieblare in die Stroganoff inroer net nadat die suurroom bygevoeg is.  Hulle vat net ’n minuut om gaar te word en dit lyk mooi.) – Dr Frikkie Maré, Nasionale RPO

Related

The story of coffee in South Africa

Estimated reading time: 7 minutes Coffee was introduced to South Africa in 1854 at a missionary station in KwaZulu-Natal, brought from the island of Bourbon...

Celebrating small-scale fig preserves

Estimated reading time: 5 minutes The principle behind making a preserve is to prevent and/or slow down the spoilage of a food product and maintain...

Boosting smallholder farmers’ vegetable productivity and income generation in South African...

Estimated reading time: 4 minutes South African marginal areas face significant social and economic challenges, often characterised by poverty, high unemployment, limited access to resources,...