Estimated reading time: 10 minutes

Almal weet dat goeie rekordhouding bestuursbesluite vergemaklik, maar min doen werklik moeite om rekordhouding die spil te maak waarom hul produksie en kuddeverbetering wentel. Die skaapboere wat dit wél doen, rapporteer dat die positiewe effek hiervan verstommend is.

Intensiewe skaapboerdery vir beginners: Basiese beginsels

Hierdie artikel fokus op skaapboerdery, maar die beginsels van goeie rekordhouding is ewe toepaslik vir ander veevertakkings.

Elektroniese identifisering

Alles, volgens Schalk de Villiers van RFID Experts, begin by die identifisering van elke skaap deur middel van ’n elektroniese skyfie wat uniek genommer is, en die gebruik van elektroniese lesers en skale om die insameling van data te vergemaklik en foute uit te skakel.

Die relevante data word elektronies na ’n rekenaarprogram oorgedra, sodat die produsent die data maklik kan orden en besluite op grond van hierdie inligting kan neem om die doeltreffendheid en winsgewendheid van sy kudde te verhoog.

’n Baie belangrike voordeel hiervan, sĂȘ hy, is dat die diere in die kudde – van die beste tot die swakste presteerder – in rangorde geplaas kan word in terme van al die ekonomies belangrike eienskappe soos wol- en vleiswaarde. Verder kan ooidoeltreffendheid bepaal word, waar dit oor die koste van die ooi teenoor haar inkomste gaan.

Met diĂ© tegnologie, sĂȘ Schalk, kan produsente ’n fyn vlak van bestuur uitoefen – iets wat voorheen doodgewoon nie haalbaar was nie.

“Jy kan byvoorbeeld ’n wolmonster van elke skaap neem en laat ontleed, en die diere dan in mikrongroepe indeel as hulle geskeer word. Dit verseker dat jou bale meer eenvormig is. Verder kan ooi- en ramparings baie meer doelgerig plaasvind deur byvoorbeeld ooie met ’n sterker mikron wol, met ’n ram wat oorwegend fyner wol het, te teel.”

Dit, in ’n neutedop, is wat presisieskaapboerdery is.

Die stelsel in praktyk

Om die hele proses te illustreer, begin Schalk by paartyd. Al die ooie en ramme is elektronies identifiseerbaar en het ’n rekord op die bestuurstelsel. Op grond van die parameters wat die skaapboer stel, kan die ramme by ooitroppe waar hulle die beste invloed sal hĂȘ, ingedeel word.

Moderne rekordhoudingstelsels maak dit moontlik om diere ekstensief aan te hou, maar intensief te bestuur. (Foto: Theron Swanepoel)

As die ooie dan ná dektyd vir dragtigheid geskandeer word, word hul status op die program aangebring – droog, enkellam, tweeling, ensovoorts. Daar word ook aangeteken of sy met die eerste of tweede siklus beset geraak het, wat ’n aanduiding van haar vrugbaarheid is. Ses weke vóór lamtyd kan die groepe dan met behulp van elektroniese sorteerhekke, ingedeel word vir presisievoeding.

“As die groepe met een-, twee- en drielinge apart gevoer word, kan daar presies aan elke dier se behoefte voldoen word, sodat ooie genoeg melk vir die hoeveelheid lammers wat hulle dra, kan produseer. As dit nie gedoen word nie, kan ’n drielingooi byvoorbeeld te min vreet om genoeg melk te produseer en dan word sy uitgeskot, terwyl dit eintlik ’n bestuursfout is.”

Meet van lamprestasie

Wanneer die ooi lam, kry haar lammers ook elektroniese skyfies in hul ore en word hulle elektronies aan haar nommer gekoppel, tesame met inligting oor die geslag van die lammers. Die lammers se prestasie kan dan maklik na die ooi toe terug getrek word.

“Tydens speentyd word al die lammers geweeg en outomaties deur die elektroniese sorteerder in ram- en ooilamgroepe ingedeel. Met elke lam se geboortedatum en geboortegewig aangeteken, kan presiese groeikoerse van die lammers bepaal word en die ooi se waarde as moeder dus uitgewerk word.”

Hierdie stelsel, sĂȘ Schalk, is beskikbaar vir skaapboere wat semi-intensief in klein kampies of in lamhokkies lam. Daar is gelukkig goeie nuus vir ekstensiewe boere in die vorm van ’n remote mothering-up-stelsel, wat binnekort beskikbaar sal wees.

NĂĄ speen word die genetiese potensiaal van die lam geĂ«valueer in terme van groei- en voeromsetvermoĂ«. ’n Stelsel vir die meet van voeromsetting is tans in sy ontwikkelingsfase en sal in die toekoms kommersieel beskikbaar wees. Hierdie, glo Schalk, gaan ’n geweldige ekonomiese impak op die skaapbedryf hĂȘ, deurdat daar dan baie makliker vir doeltreffende voerverbruik geselekteer sal kan word.

Data oor ramme en ooie

Met soveel inligting nou beskikbaar, kan individuele ramme ook baie meer doelgerig geëvalueer word.

“Die ram se waarde lĂȘ in sy aanteel. As jy dus elke ram se nageslag individueel op rekord het, kan jy die ram se waarde in terme van gemiddelde speengewig, daaglikse groei, vaggewig en mikron, asook sy vroulike nageslag se vrugbaarheid bepaal. Daar kan ook nou geĂ«valueer word watter ramme met watter vroulike bloedlyne die beste werk.”

Met al die data-ontledings wat gedoen kan word, sĂȘ Schalk, kan ‘n optimale ooigewig vir elke ras, elke streek en selfs elke plaas in daardie streek, bepaal word.

Dataverwerking en -ontleding

Dit is een ding om ’n klomp data te versamel, sĂȘ hy, maar die waarde daarvan lĂȘ in die verwerking van die data na bruikbare bestuursinligting.

Johan Coetzee van die Lamont Dohne-Merinostoet by Vleesbaai, stem saam dat die insameling van data op sigself nie baie waarde het nie. Dit is wat jy daarmee doen wat die verskil in jou boerdery kan maak. Johan bedryf ook ’n maatskappy genaamd Pro Sheep Solutions, wat juis op die verwerking en interpretasie van data toegespits is.

“Omdat elke individuele skaap met ’n elektroniese oorplaatjie toegerus is, en al haar data in ’n rekenaarprogram ingevoer word, kan ons haar ekonomiese waarde akkuraat evalueer. Elke ooi word dus in ’n rangorde geplaas en kan ons dan op die stertkant van die kudde fokus vir verbetering. Ons kan egter ook op grond hiervan ekonomiese projeksies maak.”

Resultate van data-toepassing

Hy het in 2016 die elektroniese stelsel op sy plaas geïmplementeer en in 2017 die eerste resultate begin sien. Sedertdien het sy wol gemiddeld van 19,8 na 17 mikron gedaal. Sy kilogramme wol per dier per ses-maande siklus het terselfdertyd van 2,6 na 3,4kg in 2021 gestyg. Die gemiddelde gewig van sy ooie het van 57 na 76kg verhoog. Lampersentasie het in dieselfde tyd na 186% gestyg, met ’n gemiddelde geboortegewig van 3,9kg.”

Sy beste produserende ooie, sĂȘ Johan, bring vir hom R780 per ooi per jaar mĂ©Ă©r in as die swakste ooie. Deurdat hy voortdurend op die stertkant fokus vir verbetering, kan hy die gaping tussen die beste en swakste ooie voortdurend kleiner maak en in die proses sy gemiddelde winsmarge deurgaans verbeter.

Met die verbetering van sy rekordhoudingstelsel, kon Johan ander tegnologieë doeltreffend in sy kudde begin gebruik. So was hy die eerste wolskaapprodusent in Afrika om geslagsbepaalde semen van Ramsem op sy ooie te gebruik.

“Ek sien myself as ’n ooiteler eerder as ’n ramteler. So, met die gebruik van vroulik-bepaalde semen kon ek my beste ooie op grond van ekonomiese kriteria deur die beste ramme laat bevrug. Die resultate is baie belowend.”

Besluite gegrond op wetenskap

Vir Ebbie Hattingh van die plaas Mooivlei by Lady Grey in die Oos-Kaap, lĂȘ die grootste voordeel van ’n akkurate rekordhoudingstelsel in die vermoĂ« om ingeligte bestuursbesluite te kan neem.

“Die proses hou nooit op nie en elke jaar vorder jy ’n bietjie. In die eerste jaar sien jy waarskynlik nie baie vordering in randwaarde nie, maar wel in datawaarde. As gevolg van hierdie data, en die seleksie wat jy aan die hand daarvan doen, wen jy egter in die volgende jaar veld, deurdat jy jou swakker diere kan identifiseer en hulle stelselmatig uitskakel,” verduidelik Ebbie.

“Die effek eskaleer dus oor tyd. As ek twintig jaar gelede reeds hierdie stelsel geïmplementeer het, sou ek nou al op ’n oneindig beter plek gewees het.”

As jy jou beste produseerders asook jou stertkant kan identifiseer, sĂȘ hy, kan jy jou vervangingsooie uit die topgroep teel en die stertkant van die kudde met terminale kruisteling oor tyd uitwerk.

Met BKB se hulp het Ebbie elke skaap se wol aan ’n OFDA-toets (optical fibre diameter analyser) onderwerp en daarvolgens die skape in die verskillende mikronklasse geskeer. Dit, sĂȘ hy, het daartoe gelei dat hy die diere met wolfoute baie meer akkuraat kon identifiseer en uitwerk.

“Hierdie presiese rekordhouding maak dit moontlik om verskeie lae van inligting oor individuele diere op mekaar te kan plaas, sodat jy ’n baie meer akkurate, in-diepte beeld van elke dier kry, op grond waarvan bestuursbesluite geneem kan word. Jy sou dit sekerlik sonder die elektroniese tegnologie óók kon doen, maar nou is dit makliker, vinniger en meer akkuraat.”

Presisieveeboerdery

Wat presisieboerdery in die veebedryf betref, sluit Ebbie af, is ons waarskynlik ver agter die saaibedryf. Saaiboere kan presies bepaal wat die potensiaal van elke hektaar is en maatreëls tref om daardie potensiaal ten volle te ontsluit. Elektroniese rekordhoudingstelsels maak dit moontlik vir veeboere om dieselfde te doen.

In hierdie lamhokkies van die Swanepoele kan ooie in voedingsgroepe ingedeel word vir presisievoeding. (Foto: Theron Swanepoel)

“In my kudde het dit duidelik na vore gekom dat my top presteerders se netto inkomste maklik dubbeld is as diĂ© van my swakste diere. Dit is nie ekonomies haalbaar om sommer net van daardie swakkes ontslae te raak nie, maar ek kan ’n strategie in plek stel om hulle stelselmatig met beter diere te vervang.

“So verhoog ek die gemiddelde opbrengs van my kudde deurgaans, en dit is slegs moontlik omdat ek hierdie laag-op-laag inligting van elke dier versamel en dit gebruik om my besluite te neem.”

Data wat vleis Ă©n wol baat

Theron Swanepoel boer saam met sy pa Adam en sy broer Thian in die Smithfield-omgewing, en hulle bedryf onder andere die Mooihoek Merinostoet. ’n Paar jaar gelede het hulle ’n lamhuis opgerig wat 600 ooie in lamhokkies kan huisves, en hulle lam tussen ses en agt keer per jaar in diĂ© hokkies. Wat hom betref is noukeurige rekordhouding ononderhandelbaar in so ’n intensiewe lamstelsel.

“Ons mikpunt is om ’n meer ekonomiese Merinoskaap te teel, wat beteken dat ons aan beide wol- en vleisopbrengs ewe veel aandag gee. Ons gebruik al die data wat ons genereer om die onderste 25% van die kudde te identifiseer en oor tyd met beter diere te vervang. Op hierdie manier verbeter ons die gemiddelde inkomste van die kudde.”

Die manier waarop hulle die tweede kudde, bestaande uit die onderste 25% van die stoet, so ekonomies as moontlik aanwend, is om terminale kruising met Nova Barletta se Dormerramme wat aan voeromsettoetse onderwerp is, te doen. Só teel hulle slaglammers wat vinnig en doeltreffend groei en ’n goeie inkomste genereer, terwyl hulle vervangingsooie en stoetramme uit hul top Merino-ooie teel. Die kruislammers word dan jaarliks saam met hul moeders verkoop.

“Ons is baie beĂŻndruk met die resultate van die ramme wat aan die voeromsettoets onderwerp is, en ons beplan om dit nou ook met ons Merinoramme te doen. Dit is bloot logies dat, as ons ekonomiese skape wil teel, voeromsetvermoĂ« een van die kriteria moet wees.”

Volgens die data wat hulle deur middel van hul elektroniese rekordhoudingstelsel kon genereer, is daar ’n goeie R800 verskil in netto inkomste tussen die top 20% ooie en die onderste 20%. Met hul strategie om deurgaans van die onderste 25% ooie ontslae te raak, word hierdie verskil in inkomste ál kleiner, omdat die onderste 25% al hoe nader aan die boonste groep beweeg.

“Soos met alles,” sluit Theron af, “is balans baie belangrik. Omdat jy al hierdie data genereer, is daar die gevaar dat jy nou heeldag agter jou rekenaar sit en nie meer so gereeld in die kraal kom nie. Die skaapboer se voetspore in die kraal en in die veld bly steeds die heel belangrikste faktor wat die sukses van sy kudde bepaal.”

Vir meer inligting, kontak Schalk de Villiers by 083 255 5110, Johan Coetzee by 076 276 7897, Ebbie Hattingh by 083 762 7411 of Theron Swanepoel by 072 117 7766.

noodhulpkas, Dormers, predasiebeheer
silage competition