Estimated reading time: 5 minutes
- Misdaad tydens protesoptrede word selde vervolg en die publiek pas aan by omstandighede deur bloot om die gebeure te beplan deur gevaarlike omgewings te vermy of die herhaaldelike maar ontwrigtende optrede te verduur.
- Die reg van landsburgers om deur middel van vreedsame en ongewapende protesoptrede hul stemme te laat hoor, is ’n fundamentele reg wat deur die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) beskerm word. Daarmee saam word stakings en protesoptrede deur werkers in beide die Grondwet en die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet 66 van 1995) erken en gereguleer.
- Tans word die reg tot protesoptrede primêr ingevolge die Wet op die Regulering van Byeenkomste, 1993 (Wet 205 van 1993) gereguleer. Buiten die regulering van demonstrasies en openbare byeenkomste waar meer as 15 persone aanwesig gaan wees, skep dié wet duidelike riglyne waarbinne formeel aansoek gedoen moet word deur ’n persoon of instansie verantwoordelik vir die reël van so ’n byeenkoms.
- Die Byeenkomstewet vereis dat persone of instansies wat ’n byeenkoms of demonstrasie wil hou, behoorlik en ingevolge voorgeskrewe kennistydperke daarvan moet kennis gee.
- Landsburgers wat deur protesoptrede geraak word moet deur middel van belange-organisasies en plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums daarop aandring dat die wetgewing na behore toegepas word.
Suid-Afrikaners beleef herhalend die ontwrigting van stakings en protesoptrede wat ontaard in misdade soos intimidasie, beskadiging van infrastruktuur, aanrandings en ander onwettige geweldsdade.
Omdat dit alledaags is, het vrae oor die wettigheid hiervan al minder geword. Misdaad tydens hierdie optredes word selde vervolg en die publiek pas aan by omstandighede deur bloot om die gebeure te beplan deur gevaarlike omgewings te vermy of die herhaaldelike maar ontwrigtende optrede te verduur.
Vind meer uit oor belangrike datums op die arbeidskalender.
Beskerming van regte
Die reg van landsburgers om deur middel van vreedsame en ongewapende protesoptrede hul stemme te laat hoor, is ’n fundamentele reg wat deur die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) beskerm word. Daarmee saam word stakings en protesoptrede deur werkers in beide die Grondwet en die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet 66 van 1995) erken en gereguleer as een van die bedingingswyses om arbeidsgeskille en kwessies rondom sosio-ekonomiese regte en sosiale probleme aan te spreek.
Dit is binne die konteks van hierdie regte waar ’n onderskeid in regulerende wetgewing getref word tussen die regte van landsburgers om hulle griewe by wyse van protesoptrede te lug en die regte van werkers in die werksplek.
Tans word die reg tot protesoptrede primêr (buite die bestek van arbeidsverhoudinge) ingevolge die Wet op die Regulering van Byeenkomste, 1993 (Wet 205 van 1993) gereguleer. Buiten die regulering van demonstrasies en openbare byeenkomste waar meer as 15 persone aanwesig gaan wees, skep dié wet duidelike riglyne waarbinne formeel aansoek gedoen moet word deur ’n persoon of instansie verantwoordelik vir die reël van so ’n byeenkoms.
Lees meer oor Suid-Afrikaanse vuurwapenwetgewing hier.
Wetlike vereistes
Die Byeenkomstewet vereis dat persone of instansies wat ’n byeenkoms of demonstrasie wil hou, behoorlik en ingevolge voorgeskrewe kennistydperke daarvan moet kennis gee. Die wet skryf inligting voor wat in die kennisgewing (aansoek) vervat moet word en aan die plaaslike owerheid en ’n aangewese lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gegee moet word.
By ontvangs van ’n kennisgewing/aansoek kan vergaderings met die organiseerders belê word om ’n ooreenkoms te bereik ten opsigte van voorwaardes vir die wyse waarop die byeenkoms of demonstrasie sal plaasvind en wie verantwoordelik is vir die optrede van deelnemers. Die doel hiervan is om die veiligheidstrukture in staat te stel om beheer uit te oefen oor die aktiwiteite waarmee protesoptrede gepaard gaan.
Die owerhede gemoeid met die goedkeuring van ’n demonstrasie of byeenkoms het magte om, ná samesprekings met die organiseerders, ’n byeenkoms te verbied indien geloofwaardige inligting onder eed verskaf word wat daarop dui dat ’n bedreiging bestaan dat die demonstrasie of byeenkoms kan ontaard in:
- Ernstige ontwrigting van verkeer.
- Besering van deelnemers en ander persone.
- Ernstige skade aan eiendom en dat die SAPD en verkeerspolisie nie in staat sal wees om die bedreiging onder beheer te hou nie.
Voorts omskryf die wet ’n aantal optredes wat by ’n byeenkoms of demonstrasie verbied word, soos:
- Die gebruik van vuurwapens en ander gevaarlike wapens.
- Die aanhitsing van haatspraak teen persone op grond van kultuur, ras, geslag, taal of geloof.
- Die gebruik van woorde wat daarop gerig is om geweld aan te moedig of veroorsaak teen ’n persoon/persone.
- Die gebruik van maskers of toebehore om ’n deelnemer se gesig te verberg.
- Die gebruik van uniforms wat lyk soos dié van die veiligheidsmagte.
- Die betreding van geboue waar toegang geweier word en toegang tot geboue waar nooddienste gelewer word.
- Die dwing van enige persoon om ’n byeenkoms of demonstrasie by te woon of daaraan deel te neem.
Die wet hou dan die organiseerders of organisasie namens wie opgetree word aanspreeklik op grond van die kennisgewing/aansoek wat ingedien is, maar met ’n aantal verwere waarvoor die wet voorsiening maak.
Die regulering van byeenkomste en demonstrasies is sonder twyfel daarop gerig om ’n balans te tref tussen die regte en belange van deelnemers, en dié van die publiek en persone wat nié daaraan deelneem nie.
Lees meer hoe om interne dissiplinêre ondersoeke te hanteer.
Ten slotte
Gegewe die toename in die hoeveelheid protesoptredes in Suid-Afrika is dit belangrik dat die owerhede meer en beter maniere vind om bestaande wetgewing af te dwing. Die uitoefening van landsburgers se reg op protesoptrede moet nie die regte van ander, en veral nie-deelnemende landsburgers, ondermyn nie.
Landsburgers wat deur protesoptrede geraak word moet deur middel van belange-organisasies en plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums daarop aandring dat die wetgewing na behore toegepas word. – Hans-Jurie Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf
Vir meer inligting, kontak die outeur by 018 297 8799 of epos hj@mmlaw.co.za.