Tuesday, February 4, 2025

Pioneer agronomie-dag: Sukses is gewortel in stewige wegspring

Estimated reading time: 4 minutes

‘n Stewige wegspring en goeie wortelontwikkeling – dit is die elemente van ‘n suksesvolle graanseisoen, aldus die bekende agronoom, dr Chris Schmidt. Hy was onlangs, tydens een van Pioneer se jaarlikse agronomiedae op Bethal in Mpumalanga, aan die woord.

“Dit is kardinaal dat graanprodusente so goed as moontlik sal wegspring,” het hy gesê, en bygevoeg dat hoewel dinge ná die wegspring steeds kan skeefloop, die kans op suksesvolle herstel soveel beter is. Daarom moet grondvoorbereiding en die plant van saad so goed as moontlik geskied. Onkruidprobleme kan wel nog voorkom, maar die kanse om skade om te keer is beter as die jong plantjie vroeg reeds uitkom en met ‘n sterk, geankerde wortelstelsel kan spog.

Buiten die feit dat hierdie dag eksklusief vir Pioneer se kliënte aangebied word, was dit vir Plaas Media ekstra spesiaal! Die dag is op Dewald te Water se plaas aangebied – hy was die 2022- én 2023-sorghumkuilvoerkategoriewenner in die Veeplaas/Stockfarm Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie. Van links is Alan McConaghy, Plaas Media-videograaf, Dewald en Susan Marais, Plaas Media-joernalis.

Om grondvoorbereiding reg te doen, beveel hy aan dat produsente roetine-take en voorbereidings deeglik moet doen. Hulle moet ook vog so goed as moontlik bewaar, sorg dat daar geen verdigte of kompakte grondlae op die landery bestaan nie, en dat die grond los is sodat wortelontwikkeling en vertikale penetrasie geakkommodeer word.

As die aanplantings nie goed gedoen is nie, kan dit tot swakker saailinge lei, wat aanvalle van aalwurms en ander peste moeiliker kan weerstaan. Uiteindelik kan dit dalk tot ‘n verlaagde opbrengs lei. Sterk wortelgroei kan egter bevorder word deur die grond met kalsium (CA), magnesium (Mg), boor (B), sink (Zn) en seewier te verryk.

Nuwe tegnologie

Jaco Snyman, Pioneer Suid-Afrika se besigheidsbestuurder, sê een van Pioneer se belangrike filosofieë is dat die besigheid ‘n noemenswaardige verskil op die plaas wil maak. “Ons poog om voortdurend waarde toe te voeg tot jou en die plaas. Ons wil nie net plaasbesoekers wees nie.”

Deurlopende genetiese en tegnologiese vordering eggo hierdie verbintenis wat Pioneer tot Suid-Afrikaanse produsente het. “Pioneer belê deurgaans in die ontwikkeling van nuwe genetika, sodat hoër opbrengspotensiaal en beter agronomiese groei vir die mark bewerkstellig word, want dis vir ons van deurslaggewende belang,” sê Snyman.

Een van die tegnologiese hoogtepunte waarmee Pioneer besig is, is ‘n nuwe digitale presisieplatform, Granular, wat tans by ‘n aantal produsente getoets word. Die platform se oogmerk is uiteindelik dat die maatskappy beter diens en beter waardetoevoeging vir produsente kan verseker. “Hierdie data, tesame met ander data, sal uiteindelik gebruik word om voorskrifaanbevelings te doen,” sê Snyman.

Van die tegnologie wat op die dag ten toon gestel is, is PowerCore™, Pioneer se eie onkruidweerstandige biotegnologie-genetika (BT-geen), wat in 2022 vir die eerste keer in die Suid-Afrikaanse mark vrygestel is. “Pioneer is besig met ‘n baie vinnige en aggressiewe oorgang na dié genetika. Ons wil teen 2026 al ons BT-genetika na PowerCore™ oorgeskakel hê.”

Oor die volgende ses tot agt jaar hoop Pioneer om ‘n tweede BT-geen aan die mark bekend te stel. Pioneer het ook belê in nuwe toerusting by saadaanlegte om te verseker dat ‘n presisielading op elke pit gesit word. Dít verseker dat elke individuele pit so goed as moontlik behandel is.

Biologiese en fisiologiese oplossings

Drew van Coller, streeksverteenwoordiger van Stoller in Suid-Afrika, het produsente vertel van die biologiese en fisiologiese hulp wat dié onderafdeling van Corteva – Pioneer se houermaatskappy wat Stoller in 2022 gekoop het – aan hulle kan bied.

Drew van Coller, Stoller se streeksbestuurder, en Johan Kock, ‘n Pioneer-produkagronoom, wys hoe die regte voeding ‘n bastermielie woema gee.

Van Coller sê Stoller, wat binnekort as Corteva Biologicals bekend sal staan, kan produsente spesifiek help om voedingstekorte in gewasse te bepaal en aan te spreek. As ‘n produsent dus nie weet hoe om bogenoemde te hanteer nie, is hierdie maatskappy gereed om hand by te sit. “Ons uiteindelike doel is om die volle potensiaal van Pioneer se saad vir ons produsente te ontsluit.”

Die maatskappy bied egter meer as bloot hulp om plante optimaal te laat groei. Indien ‘n buurman se gifstowwe per ongeluk na jou plaas gedryf het, kan Stoller ook help om hierdie skade te beperk. Van Coller het ook Schmidt se opmerkings oor die belangrikheid van sterk wortelgroei beaam en bygevoeg dat sterk wortels ook plantstres kan beperk.

Pioneer se ander twee Agronomiedae vind in April naby Hoopstad en Sannieshof plaas. Kontak jou Pioneer-agent indien jy dit wil bywoon.

Must read

Thabang Rampa takes the helm as DSA Regulatory Affairs manager

Estimated reading time: 2 minutes Thabang Rampa has recently been appointed as manager: Regulatory Affairs and project manager of the Milk SA regulations and standards project at the Dairy Standard Agency (DSA). She will fill...

Goeie appel- en peerseisoen op die kaarte

Estimated reading time: 4 minutes Produsente is opgewonde oor wat na ’n goeie gemiddelde appel- en peerseisoen lyk danksy die positiewe produksietoestande wat wyd ervaar is. Die Wes-Kaapse appel- en peerproduksiegebiede het ’n laat, maar koue...

RSG Landbou: 4 Februarie 2025 – geborg deur Plaas Media

Die waarde van lekaanvullings vir vee op droë en stoppellande kom onder bespreking in vanoggend se RSG Landbou. Ronél Joubert van Feedtek brei ook uit die waarde van ‘n gebalanseerde lek en watter minerale...

Katoen-verwysingsprys: Week van 27 tot 31 Januarie

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee. Hierdie is slegs ’n afgeleide prys wat bereken word op...

LandbouRadio: 3 Februarie 2025

Welkom by 'n splinternuwe LandbouRadio met 'n effense ander baadjie aan. Ons groet vandag ons jarelange omroeper, Gerda le Roux. Aanbieder LiMari gesels met haar oor haar LandbouRadio-reis. Luisteraars kan ook uitsien na die...