Saturday, December 21, 2024

Overberg Agri se Herkouerdag gaan van krag tot krag

Estimated reading time: 11 minutes

Die Overberg Agri Herkouerdag is vanjaar vir die derde keer op die Roodebloem-proefplaas naby Caledon aangebied. Altesaam 376 produsente en ander rolspelers in die veebedryf het die dag bygewoon. Die sprekers het baie waardevolle inligting gehad om met teenwoordiges te deel.

Kripto onder die vergrootglas

Die gevaar wat kriptosporidiose vir kalwers en lammers inhou, is deeglik bespreek. Dr Liezel Wasserman, ’n privaatveearts van die Clocolan-dierekliniek in die Oos-Vrystaat, het gesê toe sy in 2013 die eerste keer met kriptosporidiose in die Oos-Vrystaat te doen gehad het, het van die skaapprodusente 75% van hul lammers verloor. Die gemiddelde kalfvrektes van stoet- en kommersiële vleisbeesprodusente was 28%.

Dr Liezel Wasserman, ’n privaatveearts van Clocolan-dierekliniek in die Oos-Vrystaat.
Dr Liezel Wasserman, ’n privaatveearts van Clocolan-dierekliniek in die Oos-Vrystaat.

Kriptosporidiose veroorsaak ’n geel, wit of grys diarree. Soms is dit bloederig, en is die diagnose redelik voor die handliggend. Die kalf of die lam het diarree, ’n vuil broek, is depressief, swak en gedehidreer, en gewoonlik het die lammers of kalwers ’n koors van meer as 40oC.

Kriptosporidiose is familie van koksidiose. Infeksie vind deur die dier se bek (orale roete) plaas. Die inkubasietydperk is twee tot sewe dae en die lewensiklus drie tot vier dae. Die besmette dier kan weke lank oösiste (eiertjies) uitskei en die dier kan ook ’n permanente draer van kriptosporidiose word.

Koeie skei die meeste oösiste uit tydens laatdragtigheid tot een week ná kalf. Kalfies het net tien oösiste nodig om siek te word en ’n lam net een. Oösiste kan vyf weke in die dermkanaal oorleef. Dikwandige oösiste kan in temperature van -20 tot 60oC oorleef. Dit is dus baie moeilik om die dikwandige oösiste dood te maak. Tussen 15 en 20oC kan die oösiste vir tot drie maande oorleef, en tussen 4 en 6oC vir jare.

Geen entstof geregistreer

Daar is geen geregistreerde entstof teen kriptosporidiose in Suid-Afrika nie. Daar is wel so ’n entstof in Europa bekendgestel. “Ons probeer om die entstof onder Artikel 21 in te bring om die doeltreffendheid daarvan in plaaslike proewe te bepaal. Daar is dus hoop. Die beheer van kripto gaan alles oor biosekuriteit. Dit is tyd dat bees- en skaapprodusente oor biosekuriteit begin dink soos hoender- en varkprodusente reeds doen,” het sy gesê.

Enige vorm van biosekuriteit sal help – indien nie vir kriptosporidiose nie, kan dit help teen byvoorbeeld bek-en-klouseer. Die meeste boere het nou biosekuriteitshekke by hul plase, wat reeds help, maar jy moet altyd dit wat jy doen en die geld wat jy aan biosekuriteit bestee, daarteen opweeg of dit die organisme wat jy wil doodmaak, wel doeltreffend sal doodmaak.

“Dit help nie jy spuit net die wiele met ’n rugsakspuit nie. Jy moet ook jou voete ontsmet en soveel as moontlik ander maatreëls tref. Wie het toegang tot jou plaas? Dit sal help om verteenwoordigers van maatskappy op die dorp te sien, eerder as op jou plaas. Hulle ry van plaas tot plaas. Selfs as jy by jou bure kuier kan die honde wat saamry die siekte versprei.

“Dit sal die moeite werd wees as kopers van jou bulkalwers of stoorlammers nie toegang tot jou plaas het, buiten die plek waar hulle die diere laai nie. Die geriewe moet verkieslik teen die pad wees, sodat die vragmotors nie op jou plaas rondry nie.”

Kuddebestuur is baie belangrik by die bestuur van die siekte. Die basiese beginsels van optimale gesondheid van jou koeie en ooie, sowel as voedings-, minerale- en vitamienaanvullings is baie belangrik. Verbeterde immuniteit (inentings) en doeltreffende parasietbeheer is ook nodig.

Die belangrikste manier om kriptosporidiose te beheer, is om na baie goeie gehalte kolostrum te streef sodat die kalwers of lammers die beste wegspringkans moontlik het.

SA het nie ‘n goeie rekord nie

Sy het gesê die uitbreek van vyf belangrike siektes het die afgelope drie jaar gewys hoe swak biosekuriteit in Suid-Afrika is. Kriptosporidiose, bek-en-klouseer, Slenkdalkoors, Afrika-varkpes en voëlgriep kan met goeie biosekuriteit beheer of voorkom word.

As kriptosporidiose op jou plaas voorkom, moet die siek kalwers of lammers geïsoleer word. Die kamp waarin die lammers is, is reeds besmet. Die siek diere moet nie huis toe gevat word nie. Hou hulle in die kamp en skuif die gesonde diere uit.

Siek kalwers en lammers moet elektroliete (bikarbonaat/suksinaat) kry om dehidrasie om te keer. In Suid-Afrika is die basis van die meeste van ons elektroliete bikarbonate, maar eintlik is ’n suksinaatbasis beter vir ’n elektrolietaanvulling vir diarree. Nie een van ons produkte het net suksinaat as basis nie; dit bevat dit wel in ’n kombinasie.

Die siek diere se voedingstowwe moet met ’n maagbuis of bottel aangevul word en die diere moet vir sewe dae met Parafor Crypto (van Huvepharma) of Halocur (van MSD) behandel word. Produsente moet seker maak die dosisse is baie akkuraat met albei middels.

Sy het ook gewaarsku dat produsente nie kriptosporidiose moet onderskat nie. “Jy moet onthou die lammers kan die siekte vir jou gee, maar jy as boer kan ook die siekte vir die lammers gee. Almal van ons moet kyk hoe ons riool hanteer en watter waterbronne ons gebruik.”

Die grootste bate op die plaas

Isak Staats, hoofbestuurder van wol en bokhaar by BKB, het in sy voordrag gesê die grootste bate op ’n plaas is die produsent self. As produsente risiko wil begin bestuur en volhoubaar wil boer, moet hulle in hulself belê en meer adviseurs op hul plase toelaat. Die tegnologie en wetenskap wat beskikbaar is, is waardevolle hulpbronne wat goeie antwoorde kan gee.

Isak Staats, hoofbestuurder: wol- en bokhaar, BKB.
Isak Staats, hoofbestuurder: wol- en bokhaar, BKB.

Produsente moenie mekaar negatief praat nie. “Ons moet versigtig wees wat ons vir mekaar sê as ons om die braaivleisvuur staan, want ons staan daar en neem groot besluite oor dit wat geld maak en dit wat nie geld maak nie. Die waarheid is dat ’n skaap steeds ’n bruto wins maak.”

Staats het gesê daar word meer tekstiele in die wêreld gemaak as wat die wêreld kan absorbeer. “Die kosteknyptang wat ons vandag in die wolbedryf ondervind, is dus nie ’n wolprobleem nie. Dit is ’n tekstielprobleem.” Wol vorm sowat 0,8 % van die wêreld se tekstiele. Die grootste persentasie is katoen en poliëster.

“Wat in die vleismark gebeur is interessant. Ons voer al hoe meer vleis uit. Tans word sowat 10% van ons lammers uitgevoer. Dit beteken die manier waarop pryse vir ons lammers bepaal word, gebeur al hoe minder in Suid-Afrika – dit gebeur oorsee. Dit is ’n goeie ding vir ons produsente. Ons mark se struktuur verander, wat ’n probleem kan wees vir hoe ons nou met mekaar besigheid doen. Die lampryse wat ons produsente nou nodig het om te oorleef, is te hoog. Die plaaslike mark kan dit nie hanteer nie.”

Bestuur risiko met data

Staats het gesê produsente sal moet begin meet en data versamel om te verstaan waar hulle geld maak en hoekom hulle daar geld maak. Data-ontleding het maklik en goedkoop geraak. Moderne stelsels doen dit vinnig en doeltreffend. “Jy as produsent sal dus jou manier van dink moet verander.”

Hy het onder meer verwys na die DSS-datastelsel wat deur BKB en SA Stamboek bedryf word. Daar is sowat 200 000 diere op die stelsel, wat beteken hy het individuele inkomste-inligting van meer as 200 000 diere regoor die land. Die inligting wat reeds ingesamel is, wys dat die 20% beste ooie (40 000 ooie) sowat R1 500 per ooi meer maak as die onderste 20% (40 000 ooie) van die groep diere.

“Dit sê vir my ons kan nog baie verbeter en dit gee my baie hoop, omdat daar plekke is waar ons produsente meer doeltreffend kan wees. Die tafel is gedek om in veeboerdery dieselfde groei te hê as wat ons tien jaar gelede in graanboerdery gehad het,” het Staats gesê.

Elke lam tel

Stefan Erasmus van die plaas Beskuitfontein in Middelburg in die Oos-Kaap, het oor die winsgewendheid van intensiewe lampraktyke gesels. Hy het gesê in sy boerdery is meerlinge meer winsgewend as eenlinge. Hoewel drielinge uitdagings stel, kan die wins van ’n drieling dubbeld dié van ’n eenling wees.

Stefan Erasmus van die plaas Beskuitfontein, Middelburg.
Stefan Erasmus van die plaas Beskuitfontein, Middelburg.

In 2019 kon hulle op Beskuitfontein ’n bruto wins van R1 038 uit ’n eenlingooi maak, R1 879 uit ’n tweelingooi, en R2 250 uit ’n drielingooi. In 2024 sou die bruto marges R703 vir ’n eenling-, R1 484 vir ’n tweeling- en R1 839 vir ’n drielingooi wees.

“Die pryse wat ons tans vir lammers kry, is naastenby dieselfde as wat ons in 2019 gekry het. Die verskil is dat koste aansienlik gestyg het. Dit is dus die moeite werd om na twee- en drielinge te kyk, of dit nou droog of nat is,” het Erasmus gesê.

“Produksie is ons nommer-een mikpunt. Ons moet produseer. Ons is produsente. Daarom het ons op Beskuitfontein ’n filosofie dat elke lam tel. Ek sal dit nooit vergeet nie – in 2021/22 is ’n ramlam met ’n geboortegewig van 1,1kg gebore. Ons het die lam aan die lewe gehou en hy het op 100 dae 32kg gespeen. Die meeste mense sou die lam net laat vrek het, maar ons het nie. As elke lam tel, dan begin die somme sin maak.”

Data is goud werd

Hy het gesê ’n produsent kan met die regte metings 95% van sy kudde se produksievermoë kan bepaal. Hy moet net op vyf plekke in sy boerdery akkuraat meet en die data versamel. Dit is tydens geboorte, by speen, by seleksie op 70 dae, by die jongooie, en die wolgewig by die eerste en tweede skeersel.

“Jy het net ’n skaal en ’n oorplaatjie nodig. Dit is ongelooflik eenvoudig. Jy moet in elk geval oorplaatjies koop, so jy kan dit netsowel vir jou laat werk.”

Die bekende veearts, dr Faffa Malan, het gesê die toekoms van produsente se kuddegesondheidstatus is in hul eie hande. Dieregesondheid is nie net die staat se verantwoordelikheid nie. Produsente het ’n verantwoordelikheid om hul kuddes gesond te hou. Hy het die produsente in die Wes-Kaap teen bek-en-klouseer gewaarsku en gesê daar is geen waarborg dat die siekte nie na die provinsie sal versprei nie. Hy het klem gelê op die feit dat die siekte deur die onwettige vervoer van diere versprei word.

Dok Faffa Malan, bekende veearts.
Dok Faffa Malan, bekende veearts.

Herkouers benodig aminosuur

Phillip Meiring, tegniese verkoopsbestuurder vir herkouers by Adisseo, het gesê herkouers het eintlik aminosuurbehoeftes, en nie proteïenbehoeftes nie. Aminosure is ’n integrale deel van die meeste prosesse in ’n dier se liggaam.

Phillip Meiring, tegniese verkoopsbestuurder vir herkouers by Adisseo.
Phillip Meiring, tegniese verkoopsbestuurder vir herkouers by Adisseo.

“Ons weet aminosure is die boublokkies van proteïen en ons weet ook daar is 20 soorte aminosure – tien essensiële en tien nie-essensiële aminosure. Laasgenoemde kan deur die dier se liggaam self geproduseer word; dus is dit nie nodig dat dit in rantsoene ingesluit word nie.

“Essensiële aminosure kan egter nie deur die dier se liggaam geproduseer word nie en daarom moet dit in die rantsoen wees. Agt van die tien essensiële aminosure is gewoonlik in rantsoene ingesluit. Daar is gewoonlik ’n tekort aan net twee – metionien en lisien.

“Metionien is in die meeste dominante rantsoene die mees beperkende aminosuur. As ons dit kan regstel, help dit die proteïenvoeding baie en bring voordele vir alle diere. Aminosuurbalansering verhoog melkvolume, melkproteïen en vet. Dit verhoog wolproduksie en -groei, verbeter gesondheid, verhoog reproduksie en verbeter die doeltreffendheid van laer-proteïen rantsoene. Dit verlaag ook die koste van rantsoene,” het Meiring gesê.

Plaas Media is die mediaborg van die Herkouerdag op Overberg Agri se Roodebloem-proefplaas naby Caledon. Hugo Lochner, naaslinks, en Ernst Breytenbach, regs, het die dag namens Plaas Media bygewoon. Saam met hulle is Francois du Toit, links, bestuurder van Overberg Agri se Roodebloem-proefplaas, en Ruben Badenhorst, landbou-adviseur van Overberg Agri.
Plaas Media is die mediaborg van die Herkouerdag op Overberg Agri se Roodebloem-proefplaas naby Caledon. Hugo Lochner, naaslinks, en Ernst Breytenbach, regs, het die dag namens Plaas Media bygewoon. Saam met hulle is Francois du Toit, links, bestuurder van Overberg Agri se Roodebloem-proefplaas, en Ruben Badenhorst, landbou-adviseur van Overberg Agri.

Vir meer inligting, kontak Ruben Badenhorst, landbou-adviseur van Overberg Agri, by 076 697 6159 of rubenb@overbergagri.co.za. – Hugo Lochner, Plaas Media

Luister na die terugvoer van Overberg Agri Herkouerdag: https://www.youtube.com/watch?v=fSWXk2aEK5A

How to become a stud breeder

Estimated reading time: 5 minutes Registering your stud animals requires meticulous breeding, selection, record-keeping and...

Koeler koeie lewer meer melk

Estimated reading time: 6 minutes Strukture wat koelte vir melkkoeie kan voorsien, verhoog hul melkproduksie...

Bewaar eenvoudig, maar doen dit goed

Estimated reading time: 7 minutes Hendrik Odendaal boer al 44 jaar saam met die natuur...

Brommers kan ‘n skaap lewendig opvreet

Estimated reading time: 4 minutes Brommers wat skape aanval, vreet die diere feitlik lewend op. Groenbrommers...