Friday, October 18, 2024

Op die skeerplatform: Goeie praktyke in die skeerseisoen

Estimated reading time: 6 minutes

  • Wanneer die skeerseisoen op die plaas aanbreek, is ordelikheid, deeglike reëlings, en goeie organisasie van verskillende take en aspekte van die skeerproses noodsaaklik. Skeertyd is ’n sleutelproses in die produksie van wol en sybokhaar. Daarom moet die nodige biosekuriteitsmaatreëls in plek wees, wanneer die skeerproses begin.
  • Marco Coetzee, algemene bestuurder van Sybokhaar Suid-Afrika, sê dit behoort nie vir ’n produsent moeilik te wees om biosekuriteit in die skeerarena toe te pas nie.
  • Izak Klopper, skeeropleidingsbestuurder by die NWKV, sê die spreekwoordelike fondasie van die skeerseisoen kan slegs met deeglike beplanning gelê word.
  • Een van die eerste punte op die lys vir skeertydvoorbereiding, is om jouself daarvan te vergewis dat skeertyd nie met ander aktiwiteite op die plaas moet inmeng nie.
  • Die skeergeriewe moet binne en buite in orde wees. Iets wat dalk as gering geag word, soos ’n lendelam hekkie of ’n ongelyk vloer, kan ’n domino-effek hê en skeerders se produktiwiteit in so ’n mate belemmer, dat dit die produsent se inkomste op die ou end benadeel.

Wanneer skeertyd op die plaas aanbreek, is ordelikheid, deeglike reëlings, en goeie organisasie van verskillende take en aspekte van die skeerproses noodsaaklik. Skeertyd is ’n sleutelproses in die produksie van wol en sybokhaar. Daarom moet die nodige biosekuriteitsmaatreëls in plek wees, wanneer die skeerproses begin.

Veeplaas het by die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en Sybokhaar Suid-Afrika uitgevind watter aspekte van skeerseisoenvoorbereiding die meeste aandag verg. Dit blyk dat dieselfde basiese beginsels by die skeer van wol en bokhaar geld en, met albei organisasies se goedkeuring, is die belangrikste voorsorgmaatreëls vir die skeerseisoen hier uiteengesit.

Marco Coetzee, algemene bestuurder van Sybokhaar Suid-Afrika, sê dit behoort nie vir ’n produsent moeilik te wees om biosekuriteit in die skeerarena toe te pas nie. Dit vereis bloot ’n logiese benadering. Izak Klopper, skeeropleidingsbestuurder by die NWKV, sê die spreekwoordelike fondasie van die skeerseisoen kan slegs met deeglike beplanning gelê word.

Lees meer oor biosekuriteit op skaapplase hier.

Tydige reëlings

Een van die eerste punte op die lys vir skeertydvoorbereiding, is om jouself daarvan te vergewis dat skeertyd nie met ander aktiwiteite op die plaas moet inmeng nie. Daarom moet produsente tydig met ’n skeerkontrakteur kontak maak en die regte skeerspan vir die werk bespreek. Goeie kommunikasie kan jou in hierdie opsig baie ver bring. Genoeg arbeiders moet gereël word en, indien nodig, moet die nodige opleiding verskaf word.

Behalwe dat die NWKV daarop toegespits is om skeeropleiding te verskaf, word sterk klem ook gelê op skeergeriewe wat aan al die nodige standaarde voldoen, ’n omgewing waar die skeerders in netjiese en skoon skeerderkwartiere tuisgaan en goed behandel word, en goed-ingerigte geriewe wat ’n seepgladde skeersessie en stresvrye diere en eienaars sal verseker.

Goeie geriewe

Die skeergeriewe moet binne en buite in orde wees. Iets wat dalk as gering geag word, soos ’n lendelam hekkie of ’n ongelyk vloer, kan ’n domino-effek hê en skeerders se produktiwiteit in so ’n mate belemmer, dat dit die produsent se inkomste op die ou end benadeel.

Die skeerskuur moet betyds ontsmet word met middels soos formalien 3%, bleikmiddel (verdun teen 1:10), en F10. Daar mag geen skerp dampe meer wees wanneer die skeerspan aankom nie. Gaan na of die krale skoon is en maak seker daar is geen skerp uitsteeksels nie.

Die hanteringsgeriewe moet vooraf met voldoende woltafels en -bakke ingerig word, asook ’n wolpers wat gediens is. Kleiner vangkraaltjies met hekkies kan opgerig word om die diere nader aan die skeerpunt te bring en te voorkom dat die skeerders onnodig ver tussen die vangkraal en skeerpunt beweeg.

Indien moontlik, bewerkstellig eenrigtingverkeer van diere wat tot orde in die skuur sal lei. Die produsent kan ook oorweeg om hekke aan te bring wat die vanghok onderverdeel, of afsonderlike kraaltjies waarin die wol- en kaalgeskeerde diere apart geplaas kan word.

’n Houtskeervloer betaal gewoonlik deurdat die skade van toerusting wat op die vloer val, beperk word. ’n Hortjiesvloer wat die mis en urine dreineer, verhoog ’n produsent se wolpremie deur wolbesoedeling te help voorkom.

Skeerders moet skoon oorpakke en skoene hê. Ideaal gesproke, moet dit deur die produsent voorsien en op die plaas gehou word om jouself daarvan te vergewis dat hierdie items skoon is. Ontsmet voertuie wat die plaas binnekom om die verspreiding van siektes na jou grond en diere te voorkom.

Hou diere in puik kondisie

Dit is wenslik om diere uit kampe te probeer hou waar eenjarige, swak tipes grassade soos klitsgras en luisgras voorkom. Dit is ook wenslik om die skape of bokke eerder in die ranteveld, wat min skadelike grasse bevat, te hou.

Diere moet gedip word vir luise. Hierdie parasiete kan ’n groot impak op die gehalte van ’n skeersel hê. By Angoras gaan die elastiese bokhaarstringe verlore en is die vagte baie mat-agtig as gevolg van die baie gekrap. Dit kan voorkom word indien die produsent ’n goeie program volg en die bokke sowat twee tot drie weke ná skeer teen uitwendige parasiete (insluitend luise) dip. Dit voorkom dat duur dipstowwe op lang hare verlore gaan. Dit is ook baie meer doeltreffend op bokke met ’n kort vag.

Waak veral ná goeie reënval teen bosluise. Die dip moet egter nie verwar word met die dip vir skoonmaak en hantering van die vag nie – dit moet wel net voor skeertyd plaasvind.

Waak teen siektes

Siektes kan ernstige nadelige gevolge gedurende skeertyd hê. Belangrike siektes, behalwe vir bek-en-klouseer, wat altyd voor en gedurende skeertyd in ag geneem moet word, sluit in klierverswering (Corynebacterium ovis), vuilbek (orf), konjunktivitis of pienkoog, voet-abses (sweerklou), pasteurella (’n hoofoorsaak van longontsteking), luise, brandsiekte, en kriptosporidiose.

Indien hierdie riglyne in ag geneem word, behoort die spreekwoord ‘deur skade en skande word ’n mens wys’ nie in die skeerkraal van toepassing te wees nie. Lekker skeer! – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Izak Klopper by 082 446 2162, die NWKV by 041 365 5030, of Sanmarie Vermaak van Sybokhaar Suid-Afrika by 041 581 1681 of info@mohair.co.za.

Popular stories