Oos-Kaap NWKV algemene jaarvergadering: Hernude optimisme onder wolprodusente

Estimated reading time: 7 minutes

Ten spyte van die volgehoue moeilike ekonomiese toestande in die wol- en vleisbedryf, skyn daar ’n ligpuntjie in die donker tonnel en het optimisme die botoon gevoer by die onlangse Oos-Kaap Nasionale Wolkwekersvereniging (OKNWKV) se algemene jaarvergadering by The Palms op Cradock. Die jaarlikse byeenkoms dien as ’n geleentheid waar die bestuur terugvoer gee oor die stand van sake in die provinsie rakende die kommersiële en kommunale produsente.

In sy laaste verslag as die uittredende OKNWKV-voorsitter, het Niel du Preez gesê dat dit vir hom ’n eer en ’n voorreg was om die posisie te beklee, en dat hy daarvan oortuig is dat Frikkie Wentzel goeie werk in sy plek sal verrig. Du Preez het 18 jaar gelede by die NWKV aangesluit en beklee steeds die posisie as die NWKV se nasionale ondervoorsitter. Du Preez dien ook as voorsitter op die Predasiebestuurforum (PMFSA), en verder is hy betrokke by die bestuur van grensdraadpatrollies en aansoeke vir nagskietpermitte vir probleemdiere. In sy voorsitterverslag het hy onder meer gemeld dat daar steeds op die predasie-front ’n poging aangewend word vir die uitreiking van permitte om luiperds te jag, en dat daar wel tans ’n goeie kans bestaan om permitte te bekom vir probleemdiere soos hiënas. Oor die NWKV se produksie-adviesdienste soos kommunale dienste, Cape Wools-oudits, het hy dit as ’n noodsaaklike bousteen in die wolbedryf benadruk en lede aangemoedig om van hierdie dienste gebruik te maak.

  • NWKV-bestuurslede en personeel wat die vergadering bygewoon het, is voor van links Lynette van der Walt, sekretaresse; en Donna Green. Middel van links is Willem Goosen, produksie-adviseur; Frikkie Wentzel, nuutverkose Oos-Kaap NWKV-voorsitter; Niel du Preez, uittredende Oos-Kaap NWKV-voorsitter; Dave Wardle; Alfonso van Niekerk; en Jaco Zietsman. Agter van links is Juan Venter, produksie-adviseur; Kobus Grobler; Billy van Zyl, nasionale voorsitter; Jan Moolman; Niel van Pletzen; en Dan Kriek, bestuurder.

Verskeie ysters in die vuur

“As ’n toetreder tot die wolbedryf, is daar feitlik elke dag iets nuuts om te leer,” het Dan Kriek gesê. Hy het die leisels as hoofbestuurder van die NWKV in Mei verlede jaar by Leon de Beer oorgeneem. “Ek het myself daartoe verbind om die NWKV op ’n basis van totale inklusiwiteit te posisioneer, wat beteken die NWKV steun en ondersteun wit en swart wolprodusente sonder enige voorbehoud,” het hy gesê. “Ons kan die wa slegs deur die drif trek as beide wit en swart produsente in ag geneem word om projekte van die grond af te kry en die nodige befondsing te verkry.” Daar is ook verskeie veranderinge in die pyplyn by die NWKV. Kriek het onder meer verwys na die feit dat daar in die toekoms baie meer op wolopleiding gefokus gaan word en ook om te verseker dat die NWKV se lede die bes-moontlike tegniese inligting verkry. Een van die groot projekte by die NWKV, is samewerking met Plaas Media om ’n veelvuldige platform- en kommunikasiestrategie te skep waar kommersiële en kommunale lede in hul onderskeie tale kan kommunikeer. Van die ander projekte sluit ook Zoetis se dienste as die NWKV se hoof-dieregesondheid insetverskaffer in die kommersiële en kommunale areas in.  

As die hoofbestuurder van die NWKV, het Dan Kriek al die lede van die organisasie vir hul insette die afgelope jaar bedank. Hy het van die geleentheid gebruik gemaak om inklusiwiteit by die NWKV te benadruk as ’n onontbeerlike noodsaaklikheid wat die toekoms van wolprodusente in die land sal help verseker.

Rakende die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum wat per nasionale instruksie aan die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) toegeken is, het Kriek gesê dat die NWKV hoop om binnekort hul ondersteuning te gee deur middel van die bemarking van die veediefstal-rapporteringslyn in die kommunale gebiede.

Cobus Grobler is vereer met langdienserkenning vir sy ononderbroke betrokkenheid by die NWKV die afgelope 10 jaar. Van links is Cobus Grobler en Dan Kriek, bestuurder.

Kommunale wolprodusente in die kollig

As NWKV nasionale voorsitter kommunaal, het Lawrence Maduna terugvoer gegee oor die NWKV se wolhantering- en opknappingskursusse wat gedurende 2024 goed ondersteun was deur die Oos-Kaapse kommunale gemeenskappe. Daar word hard gewerk vir die bes-moontlike resultate in die kommunale gebiede en die meerderheid doelwitte van die NWKV is bereik. “Ons het ’n produktiewe tydperk agter die rug,” het Maduna gesê. “Ongelukkig was daar ’n duidelike afname in die wolgehalte by ons kommunale streke se kuddekompetisies en interras-kuddekompetisie, en die rede hiervoor is die NWKV-ramprojek wat ’n paar jaar gelede beëindig is. Die ramprojek, voorheen befonds deur die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, het myle behaal met die gehalteverbetering van ramme in die kommunale kuddes. “As die spreekbuis vir die wolbedryf in Suid-Afrika, doen ons alles in ons vermoë om standaarde en produksie te verbeter, en die NWKV is in gesprek met die Universiteit van die Vrystaat om ’n strategiese vennootskap deur middel van ’n vyf jaar-befondsingprojek daar te stel.” Maduna tree uit as OKNWKV-ondervoorsitter en Dominic Tsoananyana is in sy plek verkies.

  • Zolani Tsheko (NWKV nasionale ondervoorsitter kommunaal), en Dominic Tsoananyana (OKNWKV-ondervoorsitter kommunaal) het met Veeplaas oor hul onderskeie rolle by die NWKV gesels.

Wol tendense op wêreldvlak

Jacques le Roux, OVK algemene bestuurder: Vesel, het ’n ogie gegooi oor die wêreldwye ekonomie met ’n perspektief oor waar Suid-Afrika in terme van wolproduksie teenoor ander lande staan. Hy sê die wolprys volg bloot swak ekonomiese prestasie wêreldwyd en dat daar hoegenaamd geen twyfel bestaan dat die wolprys wel weer gaan styg nie – maar ongelukkig kan niemand sê wanneer dit gaan gebeur nie.

Daar bestaan ongelukkig ook baie onsekerheid in die wêreld, soos die verhouding tussen die VSA en China wat dopgehou moet word, en die voortgesette oorlog in die Oekraïne. Op hierdie stadium produseer Australië ongeveer 15% minder wol, terwyl China ’n tekort aan onbewerkte/rou (greasy) vetwolvoorraad het. “Dit sê vir my dat die Chinese op ’n stadium sal begin wol koop om genoeg voorraad op te bou vir hul behoeftes, en dit is natuurlik goeie nuus vir die Suid-Afrikaanse wolboer,” het Le Roux gesê. “In terme van die stagnasie van die wolprys, is Australië se produsente min of meer in dieselfde knyptang as Suid-Afrikaanse produsente. Hul geldeenheid het natuurlik ook, nes die Suid-Afrikaanse rand, oor die laaste paar jaar verswak teenoor die Amerikaanse dollar, maar nie tot dieselfde mate as die rand nie. Daarom voel hulle die verswakte prys van wol wat wêreldwyd in Amerikaanse dollar gemeet word, baie erger as die Suid-Afrikaanse produsente.”

Verder het Le Roux ook die volgende punte rakende die 2022/2023-seisoen aangeraak:

  • Die Suid-Afrikaanse Merinoskeersel maak ongeveer 12% van die Australiese Merinoskeersel uit.
  • Suid-Afrika het ’n totaal van 152 000 bale Merinowol teenoor Australië se ongeveer 1,27 miljoen bale merinowol gelewer.
  • Alhoewel premies op gesertifiseerde wol tans in ’n stygende fase is, bly dit aan wêreld-ekonomiese toestande onderhewig.  

Waak teen kriminele aktiwiteite

Vanuit Agri Oos-Kaap se geledere, het hul visepresident, Eben du Plessis benadruk dat dit die organisasie se hoofprioriteit is om sy lede se belange te beskerm – wat onderhandelinge met die nodige departemente insluit om te verseker dat hul lede volhoubaar kan bly boer. Agri Oos-Kaap staan saam met Agri SA die ondertekening van die Onteieningswet in die huidige formaat teë, en bied op hierdie stadium verskeie uitdagings die hoof ten opsigte van sosiale en formele media-aanslae wat die organisasie probeer diskrediteer.

Agri Oos-Kaap onderneem op die stadium roetevergaderings in die provinsie om sy by lede uit te kom en seker te maak dat die organisasie in voeling bly met wat op grondvlak aangaan.

Stof tot nadenke

Na afloop van die vergadering het Billy van Zyl, die NWKV nasionale voorsitter, Veeplaas meegedeel dat die geleentheid weer hernude positiwiteit ontlok het ten spyte van die moeilike plek waarin die wol- en skaapbedryf homself bevind. “Daar is ’n roering in die wol- en vleispryse, en goeie reënval help om die produsente positief te maak en ’n nuwe seisoen binne te gaan,” het hy gesê. Hy vermaan produsente ook om die geleidelike herstel van pryse, stap vir stap te vat. As die nuwe OKNWKV-voorsitter, raai Frikkie Wentzel produsente aan om nie agter alle media aan te hardloop nie te midde van die onsekerheid op plaaslike en internasionale vlak. “Draai maar jou sente om en bo alles, bly positief,” het hy gesê. “Met positiwiteit kan jy iets verrig, maar met negatiwiteit breek jy net af.” – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak die NWKV by 041 365 5030 of nwga@nwga.co.za.

Related

Dynamics of the South African lucerne hay industry (Part 4): Producer...

Estimated reading time: 8 minutes The previous articles in this series focussed on aspects relating to grading, quality, production areas, and production methods. This article...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on the other hand, is the misfortune, accident, or disaster that...