Estimated reading time: 4 minutes
Longontsteking onder beeste is ’n komplekse siekte met talle oorsake, en moeilik om te voorkom. Herkouers se longe is baie klein in verhouding tot die dier se liggaamsgrootte. Indien selfs net ’n gedeelte van die long aangetas word, het dit ’n invloed op die diere se vermoë om asem te haal.
Verskeie oorsake
Dr Danie Odendaal van Veearts Netwerk sê ’n opname wat oor ’n aantal jare gemaak is, toon ’n toename in longontsteking onder beeste gedurende die oorgang van herfs na winter en van winter na lente. Hy sê omstandighede soos te veel stof, koue, swak voeding (tekort aan vitamiene en spoorelemente) wat die dier se weerstand verlaag, te min water en stres, kan tot longontsteking aanleiding gee.
Luister hier na ‘n onderhoud waarin dr Danie Odendaal oor longontsteking uitbrei.
Wat siekteveroorsakende organismes betref, verduidelik dr Kobus Grobler, ’n veearts van Bergbos-dierekliniek, is virusse, swamme, nematodes (wurms), vreemde materiaal (soos pensinhoud en orale doseringsmiddels) en bakterieë die sondebokke. Die boonste lugweë van die bees bevat normaalweg bakterieë, sê hy, maar die lugpyp se slymvlies werk konstant stof en bakterieë na die dier se keel waar dit ingesluk word.
“Indien diere onder baie stowwerige omstandighede aangehou of aan baie koue blootgestel word, word hierdie beskermingsmeganisme belemmer en kan die bakterieë dieper in die lugweë inbeweeg en sodoende brongitis en later longontsteking veroorsaak.”
Die simptome
Van die siektetekens is ‘n hoë koors wat veroorsaak dat diere nie wil vreet nie en hulself eenkant hou. “Diere sal dikwels hoes en daar is gewoonlik ’n etterige neusafskeiding,” verduidelik dr Grobler. “Die asemhaling raak later al hoe vinniger en in gevorderde gevalle staan die dier met ’n oopgesperde bek in ‘n poging om genoeg lug in die beskadigde longe in te trek. As jy teen die borskas luister, sal jy fluit- of borrelgeluide hoor, afhangend van of die lugpypies vernou is en of daar vog of etter in die lugpypies teenwoordig is.”
Teen die tyd dat die produsent agterkom dat ’n dier siek is, is hy waarskynlik al drie of vier dae siek. Vroegtydige identifisering is dus van uiterste belang, sê dr Odendaal. Figuur 1 illustreer die verloop van die siekte, en die rol van vroeë waarneming aan.
Figuur 1: Verloop van longontsteking. (Bron: Veearts Netwerk)

Verskeie tipes antibiotika help om die gewone bakterieë wat longontsteking veroorsaak, te beveg. Sterker antibiotika is slegs op voorskrif van ’n veearts beskikbaar, aangesien die onoordeelkundige gebruik daarvan tot weerstandige bakterieë kan lei.
Wenke vir voorkoming
Dr Grobler sê hoewel dit nie moontlik is om alle gevalle van longontsteking te vermy nie, kan gevalle beperk word deur die goeie bestuursmaatreëls toe te pas. Ent vroegtydig in teen die virusse en bakterieë wat vir longontsteking verantwoordelik kan wees. Entstowwe bevat gewoonlik twee of meer van die organismes wat die siekte veroorsaak.
Maak seker dat koeie in ’n goeie kondisie is wanneer hulle kalf, sodat die kalwers goeie gehalte biesmelk inkry. Indien ’n dier so siek is dat sy gaan lê, maak seker dat sy nie op haar sy lê en so die pensinhoud inasem nie. Diere wat met geneesmiddels gedoseer word, moet goeie sorg ontvang.
Spuit paaie om krale en voerkrale nat sodat diere nie onnodig aan ’n oormaat stof blootgestel word nie. Goeie biosekuriteit is belangrik. Koop diere slegs by betroubare bronne en isoleer nuwe diere vir vier weke.
Die voerkraalomgewing
Voerkraaldiere staan ’n beter kans om longontsteking op te doen. Hier is biosekuriteit en vroeë herkenning uiters belangrik. Monsters kan geneem word by diere wat reeds gevrek het, om die mees doeltreffende antibiotika te kies.
Lees meer hier oor die voorkoming van respiratoriese siektes in die voerkraal.
In alle gevalle is ’n nadoodse ondersoek en monsterneming die beste manier om die betrokke organismes behoorlik te diagnoseer. So kan ’n doeltreffende inentingsprogram in samewerking met die kudde- of voerkraalveearts saamgestel word. Immunisering bly die beste linie van verdediging. – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, skakel dr Kobus Grobler by 014 533 1959 of dr Danie Odendaal by 082 454 0532.

