Monday, December 15, 2025

Nuwe wêreldorde by Villiersdorp-skou bespreek

Estimated reading time: 6 minutes

Villiersdorp-skou se jaarlikse Landbou-ontbyt was weer ’n groot sukses en is deur meer as 200 produsente en ander rolspelers in die landboubedryf bygewoon. Suid-Afrika se huidige politieke en ekonomiese situasie, asook die toekoms van die nuwe wêreldorde is tydens die geleentheid bespreek. Die veranderende tendense se impak op Suid-Afrika is ook bespreek.

Adv. Ronald King, PSG se hoof: Openbare beleid en regulatoriese sake, het gesê korrupsie is tans ’n groot probleem in Suid-Afrika. Korrupsie het ook in die vorige bedeling plaasgevind, maar die vlak van korrupsie is nou so hoog dat daar nie geld op die tafel gelos word om besigheid te doen nie. “’n Baie belangrike beginsel by korrupsie is dat politici dit nie alleen kan doen nie. Een van die partye is altyd ’n private besigheidman. Dit is ’n groot probleem.”

Nuwe Onteieningswet: Onteiening nie die probleem

Adv. Ronald King, hoof: Openbare beleid en regulatoriese sake by PSG.

Suid-Afrika het al in 1975 ’n Onteieningswet gehad. Dié Wet was nie in lyn met die Grondwet nie en moes vervang word. “Diegene wat sê dat die Onteieningswet van vandag jou plaas kan vat, lieg. Die vereistes waaraan daar onder die nuwe Onteieningswet voldoen moet word, is moeiliker as die vorige Wet. Dit is nie moontlik om jou plaas te vat sonder om vir jou vergoeding te gee nie”, het King gesê.

Die probleem in die nuwe Onteieningswet, 2024 (Wet 13 van 2024), is beperkings op die magte om hof toe te gaan. “Jy moet eers deur ’n proses gaan voor jy hof toe kan gaan en as jy die eerste stap in die hofproses verloor, kan hulle jou plaas onteien, selfs al gaan jy met die proses aan. Die onteiening van jou plaas is dus nie die probleem nie. Die manier hoe hulle jou verplig om deur die howe te gaan is ’n probleem en ongrondwetlik,” het King gesê.

Westerse wêreld in die knyp

Prof Abel Esterhuyse, professor in die Departement Strategiese Studies, Fakulteit Krygskunde, Universiteit Stellenbosch (US), het daarop gewys dat Amerika slegs 5% van die wêreld se bevolking verteenwoordig, maar ongeveer 25% van die wêreld se bruto binnelandse produk (BBP) genereer. Tog spandeer Amerika 50% van elke dollar wat wêreldwyd aan verdediging bestee word. “Dit is nie volhoubaar nie, omdat dit ekonomies onmoontlik is om dit vol te hou.”

Prof Abel Esterhuyse, professor in die Departement Strategiese Studies, Fakulteit Krygskunde,
Universiteit Stellenbosch.

Europa sit met dieselfde probleem. Europa verteenwoordig 6,5% van die wêreldbevolking, en lewer sowat 17% van die wêreld se BBP. Tog spandeer hulle ongeveer 50% van elke dollar van die wêreld se sosiale of welsynbegroting. “Dit is ook nie volhoubaar nie, veral nie in ’n moondheid waar die bevolking al ouer raak nie,” het prof Esterhuizen gesê.

Hierdie inligting is belangrik om Donald Trump, die president van Amerika, en Europa se uitdagings beter te verstaan. “Trump is nie noodwendig geïnteresseerd om vrede in die wêreld te bewerkstellig nie. Hy is geïnteresseerd daarin om Amerikaanse belange in die wêreld te bevorder. Sy lok van Afrikaners na Amerika toe, het niks met Afrikaners te doen nie. Dit het alles te doen met die Amerikaanse ekonomie wat opgeleide, eerlike werkers nodig het,” het hy gesê.

Afrika het potensiaal

Prof Esterhuizen het ’n artikel aangehaal wat sê dat geen land vir die eerste keer in eeue vinnig genoeg uitstyg om die wêreldbalans te verander nie. Die demografiese oplewings, industriële deurbrake en territoriale verkrygings, wat eens groot moondhede aangevuur het, het grootliks hul loop voltooi.

“Daar is min wat ons hoop gee op groei in die res van die wêreld,” het prof Esterhuizen gesê. “Die wêreld is nou ’n geslote klub van verouderende ampsbekleërs omring deur middelmoondhede, ontwikkelende lande en mislukte state.” As jy jou kinders wil laat emigreer, moenie dat hulle Europa toe emigreer nie, het prof Esterhuizen gesê. “Laat hulle Zambië toe gaan. Afrika het markte, hulpbronne en ’n ongekende potensiaal”.

Boere se innovasie staan uit

Etienne van Wyk, Overberg Agri se hoofbestuurder: Meganisasie.

Etienne van Wyk, hoofbestuurder: Meganisasie van Overberg Agri, en die Landbou-oggend se hoofborg, het gesê dit is indrukwekkend hoe innoverend produsente is en hoe hulle altyd mededingend bly op wêreldmarkte sonder enige hulp van die regering.

“Presisieboerdery speel ’n groot rol in die mededingendheid van produsente en sal vorentoe al belangriker raak. Dit is verskaffers se plig om die nuutste tegnologie, inligting en werktuie aan produsente beskikbaar te stel om hulle in staat te stel om hul boerdery volhoubaar en winsgewend te bedryf,” het Van Wyk gesê.

Druk bring uitnemendheid

Charles Smal, verkoopshoof vir FNB Commercial in die Wes-Kaapse binneland.

Charles Smal, verkoopshoof vir FNB Commercial in die Wes-Kaapse binneland, het gesê boerdery is ’n langtermyn verbintenis. Dit is belangrik om aan te pas by uitdagings, verandering te omhels en relevant te bly in ’n mark wat voortdurend verander.

Volgens Clifford Blackburn, hoof uitvoerende beampte van TSI Central Station, doen Suid-Afrikaanse hawens vanjaar beter as verlede jaar, maar is nog nie waar dit moet wees nie. Dit is veral vervoerders wat groot probleme ervaar en tot 36 uur buite hawens moet wag voordat hulle hul vrag kan inneem.

Clifford Blackburn, hoof uitvoerende beampte van TSI Central Station.

Hy het ook genoem dat verskepingsmaatskappye markte manipuleer. “As daar te veel skepe in omloop is en vragpryse verminder, neem die maatskappye van die skepe uit omloop. Die vrag is dan meer as die beskikbare skepe en so word die vervoerkoste opgedruk,” het Blackburn verduidelik. – Hugo Lochner, Plaas Media

Samic: Protector of red meat quality

Estimated reading time: 5 minutes If you thought the South African Meat Industry Company (Samic)...

Elke happie tel: Presisievoeding vir optimale produksie

Estimated reading time: 6 minutes Elke produsent het die behoefte om meer winsgewend en volhoubaar...

Flies and blowflies: A serious threat to cattle health

Estimated reading time: 4 minutes Several fly species negatively affect cattle productivity, including biting flies...

’n Karoo-boerdery geskoei op natuur en kennis

Estimated reading time: 7 minutes Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas...