Nuwe veldramklub ontvang eerste ramme

Estimated reading time: 2 minutes

Die nuutgestigte Riemland Merino Veldramklub het voorverlede week sy eerste groep rammetjies ingeneem. Die ramme sal vir die volgende ses maande op Gert Potgieter se plaas op Tweeling onder veldtoetstande getoets word.

Volgens Jaco Saaiman, OVK se areabestuurder vir die veselafdeling in die Noordstreek, en ook die eerste voorsitter van die klub, is daar heelwat Merino-boere in die Riemlandstreek wat ’n behoefte het om hulle kuddes geneties te verbeter. Die doel van die klub is dus om veld-aangepaste ramme vir die eienaars te identifiseer en dié goeie genetika ook in die omgewing te versprei. 

Die Riemland-gebied strek ongeveer van Cornelia in die noorde, verby Villiers, Frankfort, Tweeling, Reitz en Heilbron tot by Bethlehem in die suide en dan verby Warden en suid van Vrede terug tot by Cornelia.

Die eerste inname van rammetjies bestaan uit ongeveer 160 diere van 10 boere. Die diere is op die eerste dag geskeer en geweeg, en sal dan vir ses maande op die veld loop, waarna ’n finale evaluasie gedoen sal word.

Prestasiedata

Die eienskappe wat gemeet word is gemiddelde daaglikse toename (GDT), wolgroei oor 180 dae, kondisietelling en dan die FAMACHA-telling. Aan die einde van die toets word wolmonsters van elke rammetjie na die Woltoetsburo gestuur vir ontleding van die skoonopbrengs, veseldikte, stapellengte en die gerieflikheidsfaktor. Al hierdie data word dan gebruik om ’n ekonomiese indeks vir elke ram uit te werk.

Sodra die prestasiedata verwerk is, sal ’n produksieveiling teen die einde van September volgende jaar aangebied word waarop die gekeurde rammetjies dan aan die bedryf beskikbaar gestel sal word.

Die telers wat aan die toets deelneem is Andrew Jordaan en Seuns, Reinardt Kock van Preiss & Kock, Adrian McNaughton van Charmac Merinos, Fred en Eric Bibbey van Evenbreed Merinos, Wessel Bibbey en Triegaardt du Plessis van Bibbey Merinos, Nicolas Bester van Villeria Merinos, Frans en Bart Kruger van AC Kruger Boerdery Merinos, Willie en Johan Venter van Venter Merinos, Pieter en Gert Potgieter van Boschmer Merinos, en Paul en Nandi Kruger van Radnor & Kington Merinos. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Jaco Saaiman by 071 673 0745.

Related

Die BEK-pad is nié besaai met rose nie

Estimated reading time: 4 minutes ’n Studie in hoe om dit níé te doen nie. Dit is hoe Nick Serfontein die staat se hantering van...

Glaring lack of industry contributions in gazetted FMD vaccination scheme

Estimated reading time: 7 minutes The final Section 10 Routine Vaccination Scheme for Foot and Mouth Disease (FMD) was published in the Government Gazette on...

Wysiging van wingerdstokke se DNS kan weerstand teen siektes, droogte verhoog...

Wingerdstok geenredigering skakel ’n enkele geen ‘af’: ’n Plantbiotegnologie mylpaal in Afrika Estimated reading time: 8 minutes Die DNS van ’n stokkerige gewas is vir die...