Estimated reading time: 4 minutes
Hoewel die staat se nuwe maatreëls vir bek-en-klouseer (BEK) baie welkom is, is dit twee en ’n half maande te laat, sê dr Danie Odendaal, uitvoerende hoof van Veearts Netwerk. “Om werklik doeltreffende bewegingsbeheer te hê, moet regulasies binne 48 uur ná ’n uitbreking afgekondig word.”
Sy kommentaar volg na aanleiding van die nuwe BEK-regulasies wat in die Staatskoerant aangekondig is. Daarvolgens moet alle lewende beeste, bokke en skape vir 28 dae in kwarantyn staan en Suid-Afrika se siektebestuursgebiede is ook uitgebrei om dele van die Oos-Kaap in te sluit.
Dr Odendaal het die nuwe minister van landbou, John Steenhuisen, geloof vir sy aandeel in die nuwe regulasies. Dr Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het ook die besluit verwelkom en glo die regulasies sal die verspreiding van BEK na die Wes-Kaap kan voorkom.
Lees meer oor BEK inenting se effek op melkkuddes hier.
Vee-eienaars moet seker maak
Dewald Olivier, uitvoerende hoof van die Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) het in sy reaksie gesê die implementering van die regulasies gaan die ware uitdaging wees. Hy glo selfregulasie is die enigste ware oplossing vir die land se siektebeheeruitdagings. “As lewendehawebedryf hou ons aan om die bal terug te skop na die staat en hulle om hulp te vra, maar enige koper is dit aan homself en die hele waardeketting verskuldig om te verseker dat hy gesonde diere koop en daardie diere in kwarantyn hou voor hulle die groter trop aansluit.”
Veeplaas het by verskeie regsgeleerdes bevestig dat die goeie besigheidspraktyk nou ’n regeringsvereiste is en dat vee-eienaars wat nie daaraan voldoen nie, se kanse om die staat vir nalatigheid aanspreeklik te hou indien BEK op hul grond uitbreek, aansienlik verlaag.
Die nuwe siektebestuursgebied in die Oos-Kaap sluit dele van die Koukamma- en Kouga-munisipaliteit in. Die westelike grens is die Grootrivier se draaipunt in die ooste tot by die Witelsbos-staatsbos se grens. Daarvandaan loop dit langs die suidelike en oostelike grense van die Witelsbos-staatsbos tot by die R402 en dan langs die R402 af tot by die R62. Vanaf die R62 loop dit weer tot by die N2 en van die N2 tot by die R330. Van die R330 af loop dit weer in ’n noordelike rigting tot waar die R330 die Kabeljousrivier kruis.
Nuwe grense vir beheer
Die Kabeljousrivier dien as die oostelike grens van die bestuursgebied met die Indiese Oseaan wat as die suidelike grens dien. Volgens die Staatskoerant is alle plase wat gedeeltelik binne dié grense val, in geheel deel van die bestuursgebied.
Geen gehoefde dier, diereprodukte of genetiese materiaal afkomstig van gehoefde diere mag van, na of tussen dié nuwe Oos-Kaapse siektebestuursgebied geskuif word sonder ’n staatsveeartspermit nie. Die permit moet streng aan die voorwaardes van Regulasie 20(1) van die Dieregesondheidswet, 1984 (Wet 35 van 1984) voldoen.
Die nuwe grense van KwaZulu-Natal se siektebestuursgebied sluit die hele Groot Vyf Hlabisa-munisipaliteit, die hele Mtubatuba-munisipaliteit, die hele Nongoma-munisipaliteit, die hele Ulundi-munisipaliteit en die hele Hluhluwe Imfolozi-natuurreservaat in.
Wat Limpopo se siektebestuursgebied betref, is die noordelike grens die internasionale grens tussen die Nwanedi-rivier en die Kruger Nasionale Park (KNP) se grensdraad. Dit sluit die stukkie grond van die Musina-munisipaliteit wat oos van die Nwanedi-rivier lê, die hele Thulamela-munisipaliteit, die hele Collins Chabane-munisipaliteit, die dele van die Groter Giyane-munisipaliteit en Groter Letaba-munisipaliteit wat oos van die D3206 en noord van die Mooketsi/Giyani-pad (R81) lê, tot waar die R81 pad die Klein Letaba-rivier kruis, in. Van dáár af loop die grens noord saam met daardie rivier tot by die KNP se grens.
Wat Limpopo en KwaZulu-Natal betref mag geen lewende beeste, skape of bokke in dié provinsies se siektebestuursgebiede geskuif word sonder die nodige staatsveeartspermitte nie.
Kwarantyn ’n voorvereiste
Steenhuisen het in die Staatskoerant gelas dat die beweging van alle lewende beeste, skape en bokke in alle areas buiten die drie siektebestuursgebiede, met spesifieke dokumentasie gepaard moet gaan. Dié dokumente is:
- Die eienaar moet ’n brief uitreik waarin hy/sy getuig oor die oorsprong en gesondheidstoestand van die diere in nakoming van enige voorwaardes of voorskrifte soos dit deur die direkteur van dieregesondheid voorgestel word.
- Die ontvanger van die diere by die eindbestemming moet ook ’n onderneming onderteken dat die diere vir ten minste 28 dae in kwarantyn sal staan voordat hulle by die hooftrop sal aansluit. – Susan Marais, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak dr Danie Odendaal by vnet@absamail.co.za.