Noord-Kaap: Eers te droog, dan te nat

Estimated reading time: 5 minutes

Dit is reeds moeilik om toe te sien hoe diere op jou plaas van honger doodgaan, maar om hulpeloos te kyk hoe jou gewasse verspoel is genoeg om enigiemand angstig te maak. Dit is die toneel wat baie besproeiingsboere langs die Oranjerivier in die gesig staar.

Aan die begin van 2025 het almal nog gewonder oor die droogte wat op hande is en toe word die krane oopgedraai. Die Noord-Kaap is ’n lushof, maar dit is nie vir almal ewe voordelig nie.

Die vloei van die Oranjerivier het vermeerder van die normale sowat 40 kubieke meter per sekonde tot meer as 3 000 kubieke meter per sekonde, en daarmee saam is baie landerye langs die rivier verspoel.

Party oeste gered, maar die skade is op pad

Die boere in die Benede-Oranjeriviergebied soos Upington, Keimoes, en Kakamas is dankbaar dat die oorstromings vanjaar laat gekom het, en dat die meeste druiwe- en peukanneut-oeste reeds afgehaal is.

Daar is wel mielie-, lusern-, en katoenoeste wat benadeel word. Dit is ook aangeplante weiding wat onder die water staan en moontlik vir boere groot skade kan berokken.

Landbouers is bekommerd oor die strukturele skade wat hulle kan lei. As die water nie vinnig wegsyfer nie en die wingerdstokke te lank in die water staan, kan dit verrot en dit sal teen groot koste oorgeplant moet word.

Wingerde in die Benede-Oranjerivier by Keimoes, Kakamas, en Augrabies staan diep in die water en boere verwag omvangryke skade daar. (Foto: Ian Fourie)

Oorstroming op die dieselfde vlak as 2011

Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier-landbou-unie (OLRU), sê dié jaar se oorstromings is op dieselfde vlak as die skade wat hulle in 2011 gehad het toe van die vloedwalle meegegee het. Dieselfde gebeur vanjaar en daar moet eers gewag word tot die water gesak het voordat skadeberaming gemaak kan word.

“As die water begin sak kan vloedwalle wat nog staan ook begin meegee. Uit ervaring het ons geleer die walle raak sag en wanneer die grond versadig is, is die walle geneig om verder mee te gee. Daarom kan die ware koste van die skade eers bereken word wanneer die water weggesak het,” verduidelik hy.

Hy verwag dat die koste van die skade aan vloedwalle omtrent drie keer meer as in 2011 kan wees.

Spilpunte onder die water

In die Douglas-omgewing sê Doep Haarhoff, hoof van GWK Landboukundige Dienste, ook hulle kan nog nie die skade van die oorstromings bepaal nie. Volgens hom is daar in Douglas verskeie spilpunte wat onder water staan, maar boere was gerat daarvoor en het tot ’n groot mate spilpunte en pompe betyds verwyder.

“Ons probleem lê egter by permanente gewasse soos die pekanneutbome wat beskadig kan word as dit te lank in die water staan. Van die landerye naby aan die rivier het ook deurgeloop en van daardie oeste sal nie vanjaar gered kan word nie. Ons was gelukkig dat die oorstroming laat gekom het. Van die oeste op landerye wat verder van die rivier af lê, het nie meer water nodig nie en kan darem nog gered word. Dit is net die landerye naby aan die rivier wat daarmee heen is.

“Ons het al gevalle van ’n ‘groen-droogte’ gehad waar die rivier vol is, maar jy kan nie water uit die rivier pomp vir die landerye nie,” vertel hy.

Georganiseerde landbou help waar hul kan

By navraag het Willem Symington, president van Agri Noord-Kaap, gesê georganiseerde landbou is ook baie bekommerd oor hul lede en daar word indringend vergaderings met die Nasionale Departement van Landbou gehou om te kyk hoe die regering besproeiingsboere kan bystaan.

Hy sê hulle doen ’n dringende beroep op die regering om fondse uit die nasionale rampbestuurfonds beskikbaar te stel om hierdie boere te help, want die besproeiingsboere sal dit nie kan bekostig om die vloedwalle te herstel nie.

Symington het egter ook bygevoeg dat hulle dankbaar is vir die betrokkenheid van die minister van landbou, John Steenhuisen, wat sy bes doen om landbou te beskerm. Symington het sy hoop uitgespreek dat Steenhuisen die kritieke situasie van die besproeiingsboere in die Noord-Kaap sal verstaan.

Die water raak-raak aan die treinbrug by Kakamas op 5 Mei 2025. (Foto: Ian Fourie)

Noordkaapse regering beplan herstel

Die Noordkaapse Departement van Paaie en Publieke Werke het gister ’n persverklaring oor die vloedskade uitgereik, wat veral die Namakwa-distrik swaar getref het.Hooftoegangspaaie soos Kamasies (DR2951), Rooifontein (DR2951), Nourivier/Platbakkies (DR2944), Roodekloof (DR2944), en Rooiwal (OG110) het omvangryke skade beleef.

Die departement se LUR, Fufe Makatong, sê hulle is veral bekommerd oor die Kamasies-gemeenskap wat tans geïsoleerd is, en nie by noodsaaklike dienste of die distrik se ekonomiese hartklop, Springbok, kan uitkom nie. “In reaksie hierop is ons besig om ’n verbypad van Kamasies na Rooifontein langs die oorspronklike pad te skep. Die publiek sal in kennis gestel word sodra dié pad veilig vir gebruikers is.”

Die departement en plaaslike owerhede is ook besig om ‘n verslag saam te stel om dié area tot rampgebied te verklaar het Makatong bygevoeg.

Die departement moedig die publiek aan om enige gevaarlike padtoestande aan te meld by die departement se WhatsApp nommer (066 581 5626). Dié boodskappe moet deur foto’s en GPS posisies vergesel word.

In die Nama Khoi-munisipale gebied, het die volgende paaie ernstige skade gelei:

  • Droedap (DR2951)
  • Wildeperdehoekpas (DR2952)
  • Concordia/Goodhouse-roete (DR2958)
  • Goodhouse/Witbankpad (DR3251)

In die Hantam munisipale area naby Calvinia is dié paaie geraak:

  • Losperplaas-pad (DR2948)
  • Brandvlei/Katkop-pad (DR2976)
  • Granaatboskolk-pad (DR2972)
  • Bonekraal-pad (DR2275)

Koos du Pisanie, Plaas Media

Must read

RSG Landbou: 8 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor TLU SA se eerste Jeugboer van die Jaar-kompetisie, topgenetika en die belangrike rol wat...

LandbouRadio: 8 April 2026

Estimated reading time: 1 minute In Woensdag, 8 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons spring weg met Leon die skaapherder en sy...

LandbouRadio: 7 April 2026

Estimated reading time: 1 minute In Dinsdag, 7 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Johan gesels met dr Bobbby van der Westhuizen, hoofbestuurder...

RSG Landbou: 7 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die gemmerbedryf, die Nasionale Wolkwekersvereniging se 100ste bestaansjaar en ons ontvang die nuuste wolmarkverslag. Gemmerbedryf Niks...

RSG Landbou: 6 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die 2026 LRF Veeskool, AFSTA se kongres en ons skop af met ons nuwe...