Estimated reading time: 7 minutes
Die Nasionale Landbou-Jeugskoukampioenskap is meer as net ’n kompetisie – dit is ’n viering van trots, deursetting, en ’n liefde vir landbou. Jong leerlinge van regoor die land kom elke jaar by die kampioenskap bymekaar om hul teoretiese kennis en vaardighede te vertoon, maar agter die rosette en trofeë lê iets veel groter: ’n toenemende toewyding om die volgende generasie boere, landbouers, en bedryfsleiers te koester.
Die Nasionale Landbou-jeugskoukampioenskap het van 5 tot 8 Oktober in Upington by die skougronde plaasgevind. Namakwaland Jeugskou het vanjaar die nasionale kampioenskap aangebied. Meer as vierhonderd jong aspirant-landbouers van Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga, Namakwaland, Noordwes (en Noordwes-Noord), Oos-Kaap, Vrystaat, en die Westelike Provinsie het in die statiese, grootvee-, en kleinvee-afdelings deelgeneem. Deelnemers moes deur die loop van die jaar in hul provinsiale en streekskoue uitblink om vir die nasionale kampioenskap te kwalifiseer.
Die geleentheid het op 5 Oktober met ’n optog en opening afgeskop waarin elke streek verteenwoordig is. Van 6 tot 8 Oktober is deelnemers tydens ’n streng proses volgens hul afdeling se vereistes beoordeel vir onder meer hul voorbereiding, die was van hul diere, uitstalling, aanbieding, asook skoumanskap. Die geleentheid is op 8 Oktober met ’n prysuitdeling afgesluit waartydens die algehele wenners en wensstreek afgekondig is.
Jeugskou as grondslag vir landboutoekoms
Die jeugskou is aanvanklik begin om vir kinders skou- en dierehanteringsvaardighede te leer. Volgens Izak van der Colff, beoordelaar in die melkbok-afdeling, het die jeugskou ten doel om kinders die geleentheid te gee om vir diere lief te raak. Die jeugskou het organies gegroei in ’n leerskool vir teoretiese kennis, praktiese vaardighede, sportmangees, selfdissipline, en spanbou. Dit speel ook ’n sleutelrol in die bevordering van die landboubedryf.
Corné Nel, bestuurder: Vesel in die Wesstreek by BKB en beoordelaar in die veselbok-afdeling, het tydens die kampioenskap se opening gepraat oor BKB se trots om as borg by die jeugskou betrokke te wees. “Ons weet ons maak die regte keuse. Ons pluk elke dag die vrugte daarvan. Julle (die kinders) is die rigtingbepalers vir die land en landbou,” het hy gesê.
Danie Strauss, afslaer van Central Saleyard en beoordelaar in die afslaersafdeling, het gesê dat die jeugskou vir kinders blootstelling aan die afslaersbedryf gee en hulle help om in die landboubedryf uit te staan. “Jy moet jou senuwees vastrap en gemaklik daarmee raak. Jy moet mensekennis hê en die veilingsproses ken, en jy kan dit net doen as jy die geleentheid kry.”
Hernus le Roux, beoordelaar in die melkbok-afdeling, het dit beaam: “Jy kan eintlik nie wag vir die kinders om klaar te maak met skool nie, net sodat jy kan sien watter spore hulle in die bedryf trap”.
Geen swart skape hier!
Keith Coetzee, wat hierdie jaar as beoordelaar in die wolskaap-afdeling opgetree het, het gesê kinders wat nie noodwendig akademies presteer nie, kry tydens die jeugskou die geleentheid om te presteer. Hy het ook uitgewys dat die jeugskou vir stadskinders ’n unieke geleentheid bied om by landbou betrokke te raak.
Sunette Brink, ’n ringgids, het opgemerk dat terwyl ander sportsoorte spangebonde bly, dit vir jeugskoudeelnemers ’n hoogtepunt is om met kinders van regoor die land te sosialiseer.
Konstante uitbreiding
Die Nasionale Landbou-jeugskoukampioenskap het 17 afdelings waarin leerders kan deelneem, insluitend fotografie (kamera én selfoon), kulinêre kuns, suiwelbereiding, en die skou van verskeie diere – van konyne tot wedvlugduiwe.
Maxie Pietersen, voorsitter van SA Jeugskou, het tydens die kampioenskap se opening aangekondig dat die Nasionale Landbou-jeugskoukampioenskap vanjaar amptelik ’n watervoël-afdeling bekendstel, waarin deelnemer met watervoëls soos eende kan skou. Jaden Schutte en Carolien Ferreira het vanjaar vir die eerste keer elkeen ’n eend ingeskryf.
Jaco van Wyk, jeugverteenwoordiger van Suider-Afrikaanse Skoupluimvee Organisasie (Saspo), asook beoordelaar in die pluimvee- en watervoëlafdelings, het gesê hy is positief dat die nuwe afdeling baie belangstelling gaan wek en hy is opgewonde om te sien hoe die deelnemergetalle gaan groei.
Wenners aangekondig
Tydens die afsluiting en prysuitdelingseremonie is die Westelike Provinsie as die wenprovinsie van die kampioenskap aangekondig. Dié streek het die hoogste puntetotaal van al die streke behaal. Limpopo Jeugskou is tydens die geleentheid as die gasheer vir volgende jaar se Nasionale Landbou-jeugskoukampioenskap bekendgemaak. – Milla Matthee, Plaas Media
Tabel 1: Wenners: Eersteklas
| Afdeling/kategorie | Naam | Ouderdomsgroep | Provinsie |
| Perde | Abbygail Gee | Junior-junior | Westelike Provinsie |
| Perde | Mieke Visser | Junior | Westelike Provinsie |
| Perde | Amieke Botha | Senior | Westelike Provinsie |
| Miniatuurperde | Alexander Butler-Pienaar | Junior-junior | Westelike Provinsie |
| Miniatuurperde | Miané Pienaar | Junior | Noordwes |
| Miniatuurperde | Mianke Van Rooyen | Senior | Noordwes |
| Vleisbeeste | Leala Schutte | Junior-junior | Noordwes |
| Vleisbeeste | Ingrid Schutte | Junior | Noordwes |
| Vleisbeeste | Ilma Botha | Senior | Noordwes |
| Suiwelbeeste | AJ Appelcryn | Junior-junior | Gauteng |
| Suiwelbeeste | GE Smith | Junior | Noordwes |
| Suiwelbeeste | Janu Botha | Senior | Gauteng |
| Vleisskape | Juan Paul Louw | Junior-junior | Namakwaland |
| Vleisskape | Alec Brits | Junior | Westelike Provinsie |
| Vleisskape | Sebastiaan Truter | Senior | Westelike Provinsie |
| Wolskape | Jurie Bekker | Junior-junior | Vrystaat |
| Wolskape | Wian Janse van Rensburg | Junior | Westelike Provinsie |
| Wolskape | Albert Lourens | Senior | Westelike Provinsie |
| Melkbokke | Lucia Hewitt | Junior-junior | Westelike Provinsie |
| Melkbokke | Giuné Steenkamp | Junior | Namakwaland |
| Melkbokke | Sonika du Plessis | Senior | Westelike Provinsie |
| Veselbokke | Amy Turner | Junior-junior | Westelike Provinsie |
| Veselbokke | Richenda Rossiter | Junior | Noordwes |
| Veselbokke | Mikayla Steyn | Senior | Westelike Provinsie |
| Vleisbokke | Jaundry Olivier | Junior-junior | Namakwaland |
| Vleisbokke | Mia Möller | Junior | Westelike Provinsie |
| Vleisbokke | Benjamin Turner | Senior | Westelike Provinsie |
| Varke | Xander Mienie | Junior-junior | Gauteng |
| Varke | Rousseau Marais | Junior | Limpopo |
| Varke | Lylene Niemann | Senior | Gauteng |
| Pluimvee | Jeandré van Dyk | Junior-junior | Westelike Provinsie |
| Pluimvee | Mari Gildenhuys | Junior | Westelike Provinsie |
| Pluimvee | HJ Bruwer | Senior | Westelike Provinsie |
| Watervoëls | Jadin Schutte | Junior | Gauteng |
| Watervoëls | Carolien Ferreira | Senior | Gauteng |
| Konyne | Monay Taute | Junior | Vrystaat |
| Konyne | San Mari Verwey | Senior | Vrystaat |
| Sierduiwe | Suzette Abbink | Senior | Vrystaat |
| Wedvlugduiwe | Isago Moroe | Junior | Gauteng |
| Wedvlugduiwe | William Hewitt | Senior | Gauteng |
| Kulinêre kuns | René Erasmus | Junior-junior | Westelike Provinsie |
| Kulinêre kuns | Blessing Moremi | Junior | Limpopo |
| Kulinêre kuns | Carli Visser | Senior | Noordwes |
| Suiwelbereiding | Jaco Kriel | Junior-junior | Westelike Provinsie |
| Suiwelbereiding | Zia Kroukam | Junior | Gauteng |
| Suiwelbereiding | Unathi Mtshengu | Senior | Noordwes |
| Afslaers | Johan Dames | Junior | Gauteng |
| Afslaers | Gerhard Greyling | Senior | Limpopo |
| Fotografie (selfoon) | Helené Hugo | Junior-Junior | Westelike Provinsie |
| Fotografie (selfoon) | Lyla Prinsloo | Junior | Westelike Provinsie |
| Fotografie (selfoon) | Monique Engelbrecht | Senior | Mpumalanga |
| Fotografie (kamera) | Leila Donald | Junior | Westelike Provinsie |
| Fotografie (kamera) | Rikus Kamffer | Senior | Limpopo |
Tabel 2: Beste presteerders
| Afdeling | Naam | Punt | Provinsie | Provinsie |
| Beste prestasie in grootvee | Ilma Botha | 94 | Vleisbeeste | Noordwes |
| Beste prestasie in kleinvee | Benjamin Turner | 96 | Vleisbokke | Westelike Provinsie |
| Beste prestasie in staties | Mari Geldenhuys | 98 | Pluimvee | Westelike Provinsie |
| Beste prestasie in kombuis | Unathi Mtshengu | 85 | Suiwelbereiding | Noordwes |
| Beste prestasie in entrepreneurskap | Rikus Kamffer | 88 | Fotografie | Limpopo |








